Tuesday, 30 March 2010

Wetstoepassers teister al meer, is baie aggressief

2010-03-28 00:16

Johan Eybers

Omkopery en teistering van die publiek deur wetstoepassers is besig om ’n epidemie te word.

So sê mnr. André Snyman, koördineerder van die kuberbuurtwag eBlockwatch.

“Die aantal klagtes wat ons deesdae hanteer van die publiek wat deur metro- en polisiebeamptes geboelie word, het geweldig toegeneem en dit kan as niks anders as ’n epidemie beskryf word nie,” sê hy.

Nagenoeg 500 mense het eBlockwatch die afgelope twee maande gebel omdat hulle bang was vir sulke viktimisasie, sê Snyman.

Dit kom nadat eBlockwatch in Februarie sy program Polisiëring van die Polisie in werking gestel het. Met dié program kan sy lede ’n selfoonnommer skakel wanneer hulle deur wetstoepassers afgetrek word en die oproep word dan opgeneem.

In vier van dié opnames kan gehoor word hoe wetstoepassers mense afgeknou of gedwing het om omkoopgeld te betaal.

Die groot getal oproepe wat eBlockwatch al ontvang het, dui daarop dat sulke viktimisasie gereeld voorkom en dat die publiek bang is vir die polisie, sê Snyman.

“Mense het geen vertroue in wetstoepassers nie. Hulle tree op asof hulle verhewe is bo die gereg. Hulle is skietlustig en onbehoorlik aggressief teenoor die publiek, wat op die ergs moontlike maniere geïntimideer word om omkoopgeld uit hulle te kry,” sê hy.

Volgens hom vererger die publiek ook die probleem deur die omkoopgeld te betaal.

“Die publiek se houding hieroor maak dit vir korrupte misdaadbestryders maklik en winsgewend om omkoopgeld te vra.”

Die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) het in ’n ondersoek bevind dat metropolisielede verlede jaar deur omkoopgeld tot R30 000 per week as bykomende inkomste verdien het. Volgens die studie ­verdien sommige beamptes tot R6 000 per nag aan omkoopgeld van dronkbestuurders.

Snyman sê korrupte misdaadbestryders se algemene werkwyse is om by toegangsroetes na drinkplekke en in afgeleë gebiede op hul slagoffers te wag.

Hul houding is geweldig aggressief wanneer ’n motoris van die pad getrek word en dié word geterroriseer vir omkoopgeld, sê hy.

“As jy jou verset, word jy in hegtenis geneem en in ’n polisiesel gegooi waar nog klagtes uit die lug gegryp word om jou bang te maak.

Sodoende word daar verseker dat jy groot bedrae omkoopgeld sal betaal om los te kom,” sê Snyman.

Polisieer die polisie met eBlockwatch

eBlockwatch is ’n landwye teenmisdaadnetwerk.

Sy Polisieer die Polisie-program is om sy lede te help wat bedreig word deur wetstoepassers of iemand wat hulle as wetstoepassers voordoen.

Lede skakel die nommer 082 236 0003. Die oproep word as ’n klankgreep opgeneem en na eBlockwatch en vier vriende se e-pos-adresse gestuur sodra die oproep beëindig word.

Dié klankgreep kan later as bewys ingedien word. Lede word aangeraai om die betrokke wetstoepasser se naam en nommerplaat te kry. Dié inligting sal ook aan die polisie se teenkorrupsie-eenheid gegee word.

Die diens kos R30 per maand vir ’n enkellid en R50 vir ’n gesin van vyf.

- Rapport

Oorsprong:Rapport
http://www.rapport.co.za/Content/Suid-Afrika/Nuus/2315/bedfe87bcdbd4fcfbcaeb5f83b2bfbde/28-03-2010-12-16/Wetstoepassers_teister_al_meer,_is_baie_aggressief

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.