Monday, 19 April 2010

Aanval op plaas naby Ventersdorp


Nooddienswerkers van ER24 neem mnr. Karel Griessel (49) na die ongevalle-afdeling kort nadat hy per helikopter by die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg aangekom het. Foto: Herman Verwey

2010-04-18 22:27
Amanda Roestoff

’n Boer van Syferbult buite Ventersdorp in Noordwes is gisteroggend in ’n plaasaanval in die been geskiet en herhaaldelik met ’n mes gesteek.

Dit het gebeur skaars 16 dae ná die moord op mnr, mnr. Eugène Terre’Blanche, AWB-leier, op sy plaas aan die ander kant van dié dorp.

Mnr. Karel Griessel (49), wat die afgelope 20 jaar ’n gemengde boerdery buite Ventersdorp op die Potchefstroompad bedryf, is omstreeks 05:00 by sy kombuisdeur geskiet.

Hy het die deur oopgemaak om ’n been vir een van sy honde te gooi toe drie mans op hom toegesak en een hom in die been geskiet het.

Sy twee dogters (12 en 17 jaar oud) het elders in die huis geskuil terwyl die ouer dogter haar ma, wat op ’n plaas sowat 2?km verder woon, per selfoon laat weet het.

Me. Carina Griessel (46), ’n hoenderboer en die eienaar van ’n boetiek in Potchefstroom wat onlangs van mnr. Griessel geskei is, sê die aanslag op haar eksman se lewe is “soos enige aanval of moord ... ”?“Dit gaan nie goed af nie.”

Sy het aan Beeld gesê haar oudste dogter het haar kort voor 05:00 gebel en gesê: “Mamma moet asseblief gou kom ... Hier is vreemde mense op die plaas.” Sy wou om veiligheidsredes nie haar kinders se name verstrek nie.

Dié ma van drie (sy het ook ’n seun van 19) het haar rewolwer gevat en haar saam met haar voorman en ’n oud-polisieman na mnr. Griessel se plaas gehaas terwyl hulle ander boere in die omgewing ontbied het.

Die aanvallers het vermoedelik in die tuin weggekruip toe hulle opgedaag het.

Een van die mans saam met haar het twee van die aanvallers verby die kombuisvenster sien hardloop.

Hy het twee skote op die aanvallers geskiet, wat weggehardloop het.

Toe nóg ’n boer van die omgewing opgedaag het, het die derde aanvaller hom uit die voete gemaak, het lt.kol. Lesego Metsi aan Sapa gesê.

Mev. Griessel het mnr. Griessel op die kombuisvloer aangetref. Die impak van die skoot wat hom getref het, het vermoedelik sy been gebreek, sê sy. Hy het ook kopbeserings opgedoen nadat hy herhaaldelik oor die kop geslaan is.

Sy sê die aanvallers, wat almal handwapens gehad het en een ook ’n mes, het mnr. Griessel bestorm toe hy die deur oopgemaak het.

“Hulle wou geld en wapens hê. Hy het (dit) nie by hom gehad nie. Toe wou hulle hom vasbind en hy het teëgestribbel.”

Mnr. Griesel is in die daaropvolgende stoeiery aangerand en volgens paramedici ook verskeie kere met ’n mes gesteek.

“Ons het handdoeke onder sy kop gesit en hom bly ondersteun totdat die paramedici opgedaag het. Hy het baie pyn in sy been gehad.”

Mnr. Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê die pasiënt is vir verskeie steekwonde in sy been en ’n gebreekte been behandel.

Hy is per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg vervoer waar hy in ’n ernstige, maar stabiele toestand is.

Me. Erin Smylie, hospitaalwoordvoerder, kon gisteraand nie kommentaar lewer op Griessel se toestand nie. “Ek het nog geen amptelike verslae van die dokters ontvang nie. Die hospitaal sal môre (vandag) besluit of hulle ’n verklaring sal uitreik.”

Besoekers uit die omgewing was gister duidelik emosioneel en ontsteld oor die aanval.

“Hulle wil ons grond hê! Hulle wil ons uit die land jaag. (Julius) Malema (die ANC-jeugligaleier) word gebruik om jeugdiges aan te hits.

Ons (die boere) gaan nie stilsit nie ...” het een boer, wat nie sy naam genoem wou hê nie, aan Beeld gesê.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Aanval-op-plaas-naby-Ventersdorp-20100418

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.