Thursday, 29 April 2010

Arm wittes ná maand steeds sonder hulp

2010-04-28 23:46
Alet Rademeyer

Pretoria

’n Maand nadat pres. Jacob Zuma en verskeie ministers die informele nedersetting Bethlehem in die weste van Pretoria besoek en beloftes aan arm wit mense gemaak het, is daar nog steeds geen hulp vir hulle nie.

Dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het gesê die organisasie het inligting gekry oor verskeie voorvalle waar arm wit inwoners van dié nedersetting toegang tot die beloofde staatshulp geweier is.

Hy het gesê tydens ’n onlangse besoek aan die kantore van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) is Helpende Hand ingelig dat die aansoeke vir vanjaar se voedselkoepons ter waarde van R1 080 reeds einde Maart gesluit het.

Me. Beverly Maunatlala, ’n inspekteur by Sassa, het glo oor Zuma se beloftes dat arm wit mense om die koepons kan aansoek doen, gesê “die president weet nie wat in hul begrotings aangaan nie”.

Talle van die aansoekers het sedert 2008 al drie keer onsuksesvol aansoek om die koepons gedoen.

Langner het gesê hy is baie bekommerd oor die duidelike oningeligtheid van inspekteurs by Sassa oor die kwessie van wit armoede.

Hy het ook verwys na voorvalle verlede maand waar amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling glo vir rassiste uitgekryt is toe hulle voedselkoepons aan arm wittes wou uitdeel.

- Die Burger

Oorsprong:Die Burger
http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Arm-wittes-n%C3%A1-maand-steeds-sonder-hulp-20100428

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.