Friday, 16 April 2010

Boere is goed vir hul werkers

deur Antoinette Nel
2010-04-14 21:22

Deesdae is daar voortdurende verwysings in die media na die sogenaamde “swak” verhouding tussen plaaswerkers en boere. Boere word beskuldig van onbillike arbeidspraktyke en nog veel meer. Steur invloedryke mense hulle ooit aan wat die werklike omstandighede is? Ek noem ’n paar feite.

Eerstens die werkers: Hulle kry huisvesting, krag en water verniet. En anders as hul familie op baie plattelandse dorpe, waar daar dikwels vir dae nie kraanwater is nie, het hulle altyd toegang tot goeie, skoon water. Hulle kry kos en klere en die minimum loon en in baie gevalle meer as die minimum loon. Hulle het ook ander voorregte: menigmaal neem die boer self ’n werker of sy siek kind dokter of hospitaal toe. ’n Plaas is ook ’n besigheid nes ’n fabriek. Ek wil nog sien watter fabriekeienaar self met ’n siek werker dokter toe sal ry, maar boere doen dit en op eie koste.

Wat die boere betref: Ek twyfel of enigeen wat nie die plaasopset ken nie, ’n idee het van die benarde veiligheidsituasie van die plaasmense. Die kommandostelsel is afgeskaf. Baie boere moes noodgedwonge hul wapens ingee weens die nuwe wapenwet (dít is weer ’n ander storie).

Boere word getart. Daar is snags dreigoproepe: “Ons weet waar julle bly. Ons kom julle doodmaak.”

Om ’n boerdery te bedryf moet ’n mens buite wees en die oomblik wat die boer uit sy huis uitgaan, is hy ’n teiken.

Stadsmense sal dit tog nie duld as daar skielik ’n klomp vreemdes in hul erf rondhang nie, maar as vreemdelinge op ’n boer se plaas (sy eie private eiendom) rondloop om moeilikheid te maak en die boer sou selfs net ’n waarskuwingskoot afvuur, word hy summier in hegtenis geneem.

’n Boer wat onlangs deur militante vreemdes lastig geval is, het sy wapen op hulle gerig om hulle te verwilder – let wel: Hy het nie geskiet nie. Hulle het padgegee, maar toe die boer sy oë uitvee, was die polisie daar om hom in hegtenis te neem en het hulle sy wapens gekonfiskeer, omdat hy ’n wapen op iemand gerig het.

Meestal is daar ’n goeie verhouding tussen ’n boer en sy werkers en die aanvallers is vreemdelinge. Maar nou was daar ’n vlaag van opstokery en aanhitsing van werkers tot geweld. Dié arme mense is verward en verskeur tussen lojaliteit teenoor die werkgewer en vrees vir dié wat hulle intimideer.

As ons almal ons gesindheid teenoor die boere kan verander en raaksien die goeie wat hulle doen, kan die onrus op die platteland gestuit word. Daar word liedere gesing en verwyte rondgeslinger dat boere verkragters en moordenaars is. Ek ken nie so iemand nie. Maar as daar ’n enkele boer is wat hom aan ’n erge misdaad skuldig maak, sleep hom voor die hof en straf hom. Verstaan asseblief dat boere vredeliewende mense is wat probeer om, ongeag baie moeilike omstandighede, vir ons kos te produseer.

Antoinette Nel

hillebrand@vodamail.co.za

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/MyVolksblad/Briewe/Boere-is-goed-vir-hul-werkers-20100414

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.