Thursday, 29 April 2010

Boere woedend oor reserviste-kwessie

2010-04-28 23:50
Charles smith en Corné van Zyl

WELKOM. – Die moratorium op die aanstel van reserviste is op 1 April opgehef, maar boere is omgekrap omdat hulle steeds deur die polisie in die Vrystaat weggewys word.

Boere het woedend gereageer op stellings dat hulle nie hul kant vir plaasbeveiliging bring nie en nie bereid is om hulle as reserviste aan te sluit nie.

Polisiewoordvoerders in die Noord-Vrystaat het egter gister bevestig dat geen aansoeke vir reserviste aanvaar word terwyl ’n nasionale moratorium geld nie – terwyl daar géén moratorium is nie.

Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Vrystaat Landbou se komitee vir wet en orde, het gister bevestig die moratorium is reeds op 1 April opgehef. Boere kan hulle gaan aansluit as hulle wil.

Hy is verbaas dat sommige polisiekantore nie weet die moratorium is opgehef nie. Dit sal op VL se landelike beveiligingsplan-vergadering met die polisie se hoofbestuur op 12 Mei geopper word.

As boere hulle vasloop, moet hulle VL hiervan in kennis stel.

VL het reeds vier jaar gelede boere aangemoedig om hulle aan te sluit, maar daar was soveel probleme dat die meeste dit laat vaar het. Op Bothaville het boere hulle tot vier keer vergeefs as reserviste probeer aansluit.

VL het ’n landelike veiligheidsplan met plaaswagte wat in samewerking met die polisie optree – ongeag of die boere reserviste is of nie. Die enigste verskil is dat hulle nou nie die mag het om inhegtenisnemings uit te voer nie.

Brig. Phuti Setati, die nasionale polisiewoordvoerder, het teenoor Earl Coetzee ontken dat daar enige moratorium op aanstellings of bevorderings van polisiereserviste is. Hy sê hy is ook nie bewus van enige planne om so ’n moratorium in werking te stel of ’n ondersoek wat aan die gang is nie.

Boere van Hennenman is egter “lelik omgekrap” oor die uitlatings wat mnr. Patrick Chauke, ANC-LP, verlede week in die parlement gemaak het. Hy het gesê dit is boere se skuld dat plase onveilig is.

Daar is ook aantygings gemaak dat boere traag is om polisiereserviste te word en nie by gemeenskapspolisiëringsforums en sektorpolisiëring betrokke wil raak nie.

“Ons is baie kwaad oor die uitlating wat gemaak is. Ons probeer al ’n jaar lank om polisiereserviste te word,” het mnr. Jaco de Villiers, boer van die Hennenman-distrik, gesê.

Hy en ander boere het selfs aangebied om twee werkers van elke plaas beskikbaar te stel om as polisiereserviste opgelei te word. Die polisie van Hennenman het hul aanbod van die hand gewys weens die moratorium.

Ao. Malebo Khosana, woordvoerder, sê dié moratorium is ’n groot probleem omdat Hennenman dringend reserviste benodig.
Volgens mnr. John Moodey, DA-leier in Gauteng, was daar inderdaad ’n moratorium, maar dit is opgehef. Die aanstelling van reserviste kan nog nie geskied nie weens ’n ondersoek wat ingestel word.

“Daar word tans ondersoek ingestel oor reserviste wat hul mag-nommers koop en nie die nodige kursusse voltooi om dié nommer te kry nie,” het Moodey gister gesê. Volgens hom sal die aanstelling van reserviste eers in werking tree wanneer die ondersoek afgehandel is.

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Boere-woedend-oor-reservistekwessie-20100428

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.