Monday, 19 April 2010

Deursoek dan hele land vir wapens

deur Anton Els
2010-04-18 20:14

Die uitspraak van min. Tina Joemat-Pettersson dat wittes hul wapens moet neerlê, en dat onwettige wapens dan aan die owerhede oorhandig sal word, is tegelykertyd die dwaasste en skrikwekkendste wat ek in ’n lang tyd gehoor het.

In die verlede is in parlementêre uitsprake erken dat misdade met gelisensieerde wapens onbeduidend klein is, wat meebring dat die golf van misdaad met ongelisensieerde wapens gepleeg word.

Mense bewapen hulself met gelisensieerde wapens juis omdat hulle deur die misdadigers bedreig word, nie andersom nie.

Dink die minister sowaar een oomblik dat ’n misdadiger sy gereedskap gaan inhandig en skielik ’n skoon lewe gaan begin lei net omdat sy slagoffers nou ontwapen is?

Beteken dit dus dat as ek my diefwering verwyder en my alarm afskakel, my huis nou veiliger is? Belaglik.

Die skrikwekkende deel van die uitspraak is die onderliggende dreigement aan alle wetsgehoorsame burgers, en dit is dat die regering rassespanning wil gebruik om jou wel te ontwapen.

Met ander woorde, as daar insidente is wat werklik of aangeblaas is as gevolg van rassistiese praktyke, kan dit die verskoning wees om ontwapening mee te bring.

Uiteraard is geen wapeneienaarskap vir die publiek juis dit wat die ANC-regering en die polisieminister reeds voorgestel het.

Enigiemand met gesonde verstand weet dat slegs mense met wettige wapens die gevolg sal dra, tensy elke huis of hut of elke vierkante meter van die land deursoek gaan word.

Tensy die minister verkeerdelik in die pers aangehaal is, moet die plaasboere maar kennis neem dat hul minister hulle eintlik verantwoordelik hou vir die duisende moorde op hul mede-boere, net omdat hulle dit durf waag om hulself binne die wet te bewapen.

Anton Els

Paarl

Oorsprong:Die Burger
http://www.dieburger.com/MyDieBurger/Briewe/Deursoek-dan-hele-land-vir-wapens-20100418

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.