Saturday, 24 April 2010

Eis teen minister misluk nadat sakeman in polisiesel aangerand is

2010-04-23 21:41
Jeanne-Marié Versluis

’n Sakeman van Komatipoort wat ernstig deur mede-aangehoudenes in ’n polisiesel aangerand is, se skadevergoedingseis van R500 000 teen die minister van veiligheid en sekuriteit het misluk.

Mnr. Theunis Christoffel Botha van die plaas Lebombo by Komatipoort het dié eis ingestel nadat die polisie hom in Augustus 2004 op aanklag van aanranding gearresteer en by die Komatipoort-polisiekantoor aangehou het.

Botha meen dié optrede van die polisie was onregmatig.

Waarnemende regter P.M. Mabuse het in die hooggeregshof in Pretoria bevind die arrestasie en aanhouding was regmatig.

Hy het in sy uitspraak gesê almal stem saam dat Botha die aand van 12 Augustus 2004 in sel 7 by dié polisiekantoor aangehou is, dat ander aangehoudenes hom daar ernstig met sy eie skoen aangerand het en dat hy beseer is.

Botha het in hofstukke gesê daar was 27 mense saam met hom in die sel, “van wie net twee wit was”.

Mede-aangehoudenes het hom gedwing om sy klere uit te trek. Van hulle het sy arms en bene styf vasgehou, terwyl ander hom 250 keer beurtelings sowat ’n halfuur lank met sy skoen op sy boude geslaan het.

Hy was half bewusteloos, het Botha gesê.

Mabuse het in die uitspraak gesê terwyl die verweerder moet kan bewys die arrestasie was regmatig, moet die eiser (Botha) kan bewys hy is doelbewus of opsetlik in dié spesifieke sel gesit sodat hy aangerand kon word.

“Die eiser is daar ingesit waar volwasse mans gehou is omdat daar geen ander sel was waarin hy aangehou kon word nie.”

Mabuse het bevind Botha kon nie bewys dat hy doelbewus in dié sel gesit is om aangerand te word nie. Botha kon nie bewys dat die polisie die aanranding op hom deur mede-aangehoudenes “georkestreer” het nie.

Mabuse het ook bevind Botha se bewering dat hy nie toilet toe kon gaan nie, “lyk twyfelagtig”.

Hy het bevind Botha se getuienis is deurspek met onwaarskynlikhede en onversoenbaarhede.

Hoewel Botha dit ontken, is dit duidelik hy wou spesiale behandeling hê toe hy gearresteer is omdat hy bekend is aan die polisie in die omgewing, het Mabuse gesê.

“Toe hy nie dié behandeling kry nie, het hy sy arrestasie as onregmatig bestempel.”

Mabuse het gesê Botha het mnr. Raymond Nkuna destyds aangerand.

Botha is later skuldig bevind aan aanranding en tot ’n R10 000-boete of drie maande tronkstraf gevonnis.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Eis-teen-minister-misluk-nadat-sakeman-in-polisiesel-aangerand-is-20100423

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.