Saturday, 10 April 2010

Eugene Terre'Blanche: 'n moord te veel



Geskryf deur Dan Roodt
Vrydag, 09 April 2010 07:39

Onderweg na sy begrafnis

Ongekende dinge is besig om in Suid-Afrika te gebeur. Sedert die begin van 2010, van 8 Januarie af toe Beeld eintlik as 'n grap op sy webwerf gevra het of sy lesers graag in 'n volkstaat sou bly, is iets onder Afrikaners aan't broei. Sowat 'n driekwart van Beeld se aanlynlesers het voorwaardelik of onvoorwaardelik gesê dat hulle in 'n volkstaat sou wou bly.

Toe word Malema op ons losgelaat, wat een opruiende uitspraak na die ander maak. Dit gaan oor daardie twee biologiese elmente: grond en ras. Malema sing "Die lafaards gaan hardloop" en "Skiet die Boere". Oulike en onskuldige - so word ons verseker - vryheidsliedjies. Op besoek aan Zimbabwe werf die einste Julius ZANU-PF se steun vir plaasbesettings en "revolusie" in Suid-Afrika. By 'n myn 160 kilometer van Harare af, kondig Malema so ewe aan dat hulle van einde 2010 af gaan begin om plase by blanke boere te vat.

En toe kom die moord op Oom Eugene, soos sy volgelinge hom noem. Hy was al 69 en taamlik afgekoel van die dae toe Jani Allen, sy beweerde minnares, in die Sunday Times geskryf het: “Right now I’ve got to remind myself to breathe ... I’m impaled on the blue flames of his blowtorch eyes.”

Persoonlik het ek hom nie geken nie. Ek het hom half gegroet by die sogenaamde "volksaamtrek" verlede jaar by die Vegkopterrein, 'n teleurstellende byeenkoms vol emosie en oproepe tot God, maar weinig wol.

In lewe was ET die gunstelingstereotipe van die buitelandse pers wat veronderstel was om die onredelike, militaristiese, fascistiese Afrikaner uit te beeld. Sy dood, 'n tipiese plaasmoord wat ook - wie weet? - 'n politieke sluipmoord kan wees, het egter van hom 'n martelaar gemaak.

Hoewel ek en baie ander uit 'n heel verskillende stedelike, selfs kosmopolitiese milieu kom, laat sy moord ons met die gevoel van: "Dis 'n moord te veel!" En: van nou af is dit, soos Alexandre Dumas se drie musketiers gesê het: "Een vir almal en almal vir een."

Vandag gaan ek en waarskynlik duisende ander Afrikaners by Eugene se begrafnis wees, verenig in ons medelye, woede, maar ook: vrees. Want die spel wat die ANC en sy jeugleier tans speel en dreigemente van grondroof, 'n "Zimbabwe" en grootskaalse geweld wat die bevrydingsbeweging tans maak, laat jou nekhare orent staan. Ons is stelselmatig ontmagtig deur die afskaffing van die kommando's en die nuwe wapenwet terwyl die ANC tans in beheer van al die ou Suid-Afrika se wapens is, plus die tonne wapens van Operasie Vula van die vroeë negentigerjare wat nog nooit gevind is nie.

Indien die ANC met die samewerking van ZANU-PF 'n volksmoord teen ons beplan, het hy sy huiswerk baie, baie goed gedoen. Want ons is nou goed in Dingaan se kraal ingelei. Lammers ter slagting. Die naïewe, goedgelowige, godvresende Afrikaner het weereens sy wapens buite die kraal gelaat. De Klerk wou maar net sy lekkertjie van die Swede, sy Nobelprysie gehad het. En daarvoor het hy ons roekeloos aan die genade van Afrika oorgelaat.

Eugene se gesig is met 'n panga vermink asof hy 'n blote Afrikaanse naambord langs die pad was wat nou met 'n ander naam vervang gaan word. Sy broek is uitgetrek, om een of ander duistere rede.

Sy verontmensliking het 'n simbool van die Afrikaner se verontmensliking onder hierdie bose, gewelddadige en rassistiese bestel geword. Hy was al 69, bejaard, godsdienstig en eintlik skadeloos. Juis daarom het hy 'n teiken geword, soos soveel ander.

Wat nou vir hierdie land voorlê, nogal op die vooraand van die Wêreldsokkerbeker, kan niemand voorspel nie. Regoor die land is groepe boere en selfs stedelinge besig om voor te berei vir die volgende toneel in die drama wat heel moontlik ook in bloed geskryf gaan word.

Vandat ek klein was en selfs tydens Verwoerd se begrafnis, het ek nog nie die Afrikaner so verenig, vasberade en aan mekaar gebind deur taal, bloed en geskiedenis gesien soos nou nie. Ons is weer die klein wit stam, nakend op die vlakte, wat die naderende horde moordlustiges moet afwag.

Eugene se dood was die druppel wat die emmer laat oorloop het. Dit het baie onverwags gekom, hoewel ek al 'n hele paar jaar voorspel dat dit op so iets sou uitloop. Leierskap is nou nodig om Suid-Afrika voor die afgrond van etniese en rassekonflik weg te ruk en ons op 'n ander baan te plaas. Ongelukkig is daar in Zimbabwe meer leierskap as in die ANC. Mev. Zille se Engelse sarkasme gaan ook nie help as die outomatiese wapens in die hande van dansende vyftienjariges soos in Liberië of op die SABC-nuus op Ventersdorp begin knetter nie.
Dus gaan Malema en sy aspirant-volksmoordenaars die gang van die gebeure dikteer en sal die Afrikaner nou noodwendig móét opstaan om 'n tragedie te verhoed.

Oorsprong:Praag
http://praag.co.za/dan-roodt-magazine-178/7746-eugene-terreblanche-n-moord-te-veel.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.