Thursday, 29 April 2010

Mites van grondrestitusie

2010-04-27 23:25
Charl-Pierre Naude

Onlangs het regeringsgeluide oor ’n herverdeling van private grondbesit baie mense die harnas ingejaag. En hoe losser die skroewe ten grondslag van die argument blyk, hoe yweriger rangeer die ANC se restitusie-koekepanne op en neer.

Die argument dat wit boere in die breë hul grond op “onwettige wyse” verkry het, het slegs baie gedeeltelike gronde. En dié mite begin nie by mnr. Julius Malema nie. Dis deel van mites wat integraal deel was van die struggle (net soos wat ander mites deel was van apartheid).

Onlangs nog het Malema gebulk: “Waarom moet ons grond terugkoop wat van ons gesteel is?”

Hierin sit ’n vet streep oorvereenvoudiging. Ons val vas in swart-en-wit loopgrawe waarin elkeen gedwing word om eie belang te regverdig. En dis omdat miteskepping, en nie historiese feite nie, dikwels ten grondslag van hervormings­argumente lê.

Die ergste daarvan is dat dit die noodsaak vir grondhervorming in wese soos ’n leuen laat lyk. En grondhervorming ís nodig, maar dan op geldig historiese gronde.

Onlangs het die Britse Financial Times dit in ’n hoofartikel betreur dat grondoordrag nie vinniger plaasvind nie sodat die besit van boerderygrond die getalleverhouding van wit tot swart kan weerspieël. Dié argument impliseer dat daar onteiening van landbougrond in Suid-Afrika plaasgevind het en boonop dat dit rasgedrewe was.

Daar was geen noemenswaardige onteiening van swart landbougrond deur wit boere nie. Daar was histories geen landboutradisie onder swart mense in die land nie. Dit was ’n Westerse (lees: wit) tradisie, vandaar die naam “boere” vir Afrikaner-pioniers. Landbougrond is nooit afgevat nie, dit is deur die wit pioniers bewerk en die tradisie is uit niks gevestig.

In terme van landbou het wit boere niemand onteien nie. Hulle was die land se enigste landbouers en het ons voedselmandjie, dikwels in dorre streke, tot stand gebring. Die “swart volkere” (selfs onder apartheid) het die beter landbougrond, in die ooste van die land, gehad, maar dit het niks gelewer behalwe armoede nie.

Natuurlik het apartheid ’n rol daarin gespeel, maar daar was eweneens geen landboutradisie voor apartheid nie, of selfs voor dit.
Maar wat is wel verplaas deur die pionierboere?

Drie tradisies: die swart bestaansboerderye in dele van die land, die nomadiese jagter-versamelaarkultuur van byvoorbeeld die Khoisan (met gepaardgaande volksmoord van hierdie eerste bewoners van die land deur wit én swart), en die gedeeltelike verplasing van nomadiese beesboere (ook swart, meestal Nguni).

Dié drie leefwyses het tog ook in ’n mate ’n vorm van historiese seggenskap oor die land geïmpliseer.

En hulle het dit verloor – nie soseer deur fisieke geweld soos die ANC dit wil hê nie, maar kultureel en ekonomies: Een soort ekonomie het drie ander vorme daarvan verplaas (hoewel nie beroof nie) en sodoende ontmagtig en onteien. Laat ons dit nie ontken nie.

Maar kom ons ontplooi die korrekte terme voordat ons praat van restitusie.

Restitusie behoort nie plaas te vind omdat wit mense proporsioneel meer van die land besit as swart mense nie. Proporsioneel en binne die landboutradisie het wit boere niks verkeerd gedoen nie behalwe om suksesvol te wees.

Hoe gaan ons toekomstige swart boere vergoed vir wat hulle verloor het?

Hul ekonomieë was premodern en sou nie vertaal het tot ’n moderne ekonomie nie. Helaas is hulle ’n kans ontneem om organies tot die punt te ontwikkel waar hulle die keuse daartoe sou gehad het.

Dit het gebeur deurdat hulle hul kulturele lebensraum verloor het lank voordat hulle daardie punt kon bereik het. En daarin sit onteenseglik ’n verlies. En wel een wat getakel moet word.

Die feit dat dít nie in Noord- of Suid-Amerika gedoen is nie, is geen teenargument nie.

Ons het die kans op ’n ruimhartiger en billiker gemeenskaplike toekoms.

Maar hou op lieg oor die terme. Want daardeur word hervorming in die wiele gery, nie bevorder nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/Mites-van-grondrestitusie-20100427

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.