Friday, 30 April 2010

Moorde speelbal in die politiek

deur J. de Ridder
2010-04-29 21:44

Plaasmoorde het sedert 1994 baie toegeneem. In 1997 was dit reeds so erg dat in die “Vrede Express” van 17 Oktober 1997, berig is dat ’n ondersoek en veiligheidsplan aangekondig is.

Ook ’n ondersoek deur die intelligensiegemeenskap na die oorsaak van die moorde op boere, ’n veiligheidsplan vir landelike gebiede en ’n skerp veroordeling van die moorde deur pres. Nelson Mandela.

Daar is berig dit is wat die Suid-Afrikaanse Landbou-unie (Salu) “gister” in sy gesprek met Mandela oor die vlaag moorde op boere gekry het.

Hy het nie die boere se eis om ’n geregtelike kommissie van ondersoek na die moorde toegestaan nie, maar nie die moontlikheid uitgesluit nie dat dit later kan gebeur as die huidige ondersoek toon dat dit nodig is. Die intelligensiegemeenskap moet die verdagtes opspoor en vasstel of ’n spesifieke organisasie of individu vir die moorde aanspreeklik is. En nou sestien jaar later?

Die afgelope dertien jaar het moorde op boere eerder toegeneem. Eugene Terre’Blanche was nommer 3 368. Dis nog nie die einde van die bloedbad nie.

Dis ’n volksmoord. Daadwerklike optrede is nou dringend nodig. Daar moet ’n onpartydige geregtelike kommissie van ondersoek na moorde op boere en misdaad in die algemeen kom, om die organisasie of individu wat dit aanstig aan die kaak te stel en daadwerklik op te tree om ’n einde daaraan te maak.

Om die moorde op boere ’n politieke speelbal te maak, is verregaande en die regering moet nou tot verantwoording geroep word om sy onderdane se veiligheid te waarborg.

Dit is sy plig om reg en geregtigheid te handhaaf. Sy meerderheid by stembus gee hom nie die reg om sy plig te versuim nie.

Met die moord, verkragtings en misdaad in Suid-Afrika, is die vraag of menseregte dan net misdadigers geld.

Ek is so teleurgesteld in die nuwe Suid-Afrika. Demokrasie, wat beteken dit? Ek het geen vertroue daarin nie.

J. de Ridder

Montana-aftreeoord 48, Montana

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/MyVolksblad/Briewe/Moorde-speelbal-in-die-politiek-20100429

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.