Thursday, 22 April 2010

Motoris aangerand; polisie kyk glo toe

2010-04-22 07:40
Hilda Fourie

Polisielede het gister glo toegekyk terwyl taxi-eienaars ’n motoris na bewering geskop en geslaan het.

Oomblikke vantevore het ’n polisieman mnr. Henry Burt (57) se vuurwapen afgeneem. Dié het hy uitgehaal toe “’n skare taxi-eienaars” op hom toegesak het.

Burt, wat op ’n wildplaas bly, het gisteroggend op die Moloto-pad na sy werkplek in Pretoria gery. Buite
Wagensdrift het hy hom vasgery in taxi’s en polisievoertuie wat die pad versper het.

Burt het aan ’n polisiebeampte gesê hy wil na ’n nabygeleë vulstasie gaan. Hy is deurgelaat. Hy het net ’n paar meter gery “toe was daar absolute chaos”.

“Die skare het begin om my te stenig. Omtrent 20 mense het my met klippe gegooi en my bakkie se voorkant getref. Soos ek verder gery het, het iemand my met ’n piksteel deur my oop venster geslaan. Ek het na my passasierskant toe gekoes. ’n Entjie verder het iemand my met ’n baksteen gegooi.”

Burt het stilgehou en uitgeklim om na die skade aan sy voertuig te kyk. “Soos mal buffels het hulle met pangas en knuppels op my toegesak. Ek het my vuurwapen uitgehaal, want ek het geweet hier kom moeilikheid. ’n Polisieman het gekom en my vuurwapen gevat. Die skare het my omring en ek is toe van alle kante af gefoeter.”

Volgens Burt het die polisie toegekyk terwyl hy aangerand is.

Hy het gesê die skare het sy bakkie se bande afgeblaas. Ná die voorval het die polisie hom gehelp om sy bure te kontak dat hulle vir hom noodwiele kon bring. “Ek was net op pad werk toe. Die polisie beskerm hierdie taxibestuurders wat moles gemaak het. Hulle het my weerhou om te gaan werk.”

Die polisie het Burt se vuurwapen later aan hom teruggegee.

Burt het ’n klag van aanranding by die Cullinan-polisiekantoor ingedien.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Motoris-aangerand-polisie-kyk-glo-toe-20100422

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.