Wednesday, 21 April 2010

Onveilige plase ‘is boere se skuld’

2010-04-20 21:49
Lizel Steenkamp

Kaapstad. – Dis boere se skuld dat plase onveilig is, het ANC-parlementslede gister gesê.

Mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se komitee oor landelike veiligheid, het tydens ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor polisie gesê die neerhalende uitsprake wat regeringsamptenare en senior politici teenoor wit boere maak, is een van die grootste uitdagings.

Mnr. Patrick Chauke, ANC-LP, het dit afgelag.

“Politieke uitsprake is die minste van jul probleme. Georganiseerde landbou weet baie goed húlle is die oorsaak van die probleme. Die polisie probeer hul bes, maar die oplossing lê by julle,” het hy aan Botha gesê.

Chauke het voorts aangevoer plaaswerkers word mishandel en dat boere onwettige immigrante “gevange hou”.

“Die meeste van die veediefstal word deur boere self gepleeg. En hulle verkoop alkohol aan die plaasbewoners.”

Volgens me. Sindi Chikunga, ANC-LP en komiteevoorsitter, is talle boere goedhartig. “Maar dis ook ’n feit dat daar baie gewelddadige boere is en julle (Agri SA) moet hulle in die openbaar veroordeel.”

Daar is ook aantygings gemaak dat boere traag is om polisiereserviste te word en nie by gemeenskapspolisiëringsforums en sektorpolisiëring betrokke wil raak nie.

Botha, self ’n polisiereservis, het agterna aan Beeld gesê hy is bitter ongelukkig oor hoe die vergadering verloop het. Hy het ontken boere wil die polisie nie help om plase te beveilig nie.

“Ons probeer ons bes om betrokke te raak (by sektorpolisiëring), maar die stelsels en onbevoegde mense (binne die polisie) verhinder ons.”

Botha het gesê die regering versuim sy plig om boere te beskerm en wil al die verantwoordelikheid op die georganiseerde landbou afskuif.

“Ek is ’n gewone landsburger met bepaalde regte. Die politici moet erken waar die verantwoordelikheid lê. Dit is hul plig om te regeer. Om die bal terug na ons toe te gooi, néé, ek is nie hiermee gemaklik nie.”

Volgens Agri SA se statistieke was daar die afgelope 18 jaar tot 11 785 plaasaanvalle en is 1 804 boere vermoor. Tot 121 000 stuks vee van sowat R365 miljoen is net in die 2008-’09-boekjaar gesteel.

Botha het gewaarsku kommersiële landbou kan die verliese nie onbepaald deurstaan nie en dat voedselsekerheid bedreig word.

Agri SA steun die regering se plan vir landelike veiligheid en verkies dit bo die ou kommandostelsel.

Tog het Botha gesê die plan val uitmekaar weens ’n reuse-gebrek aan leierskap, beheer en kontrole binne die polisie.

Hulpbronne word misbruik, daar is korrupsie en die meeste stasiebevelvoerders weet nie hoe om sektorpolisiëring in landelike gebiede toe te pas nie.

Mnr. Mluleki George, Cope-LP, het die ANC se standpunt gesteun en gesê Agri SA, wat sowat 80% van die land se kommersiële boere verteenwoordig, moet mede-verantwoordelikheid vir boere en plaaswerkers se veiligheid aanvaar.

Die jongste statistieke oor plaasaanvalle en -moorde sal in Mei bekend gemaak word wanneer die polisie sy plan vir landelike beveiliging aan die parlement voorlê.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Onveilige-plase-is-boere-se-skuld-20100420

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.