Friday, 16 April 2010

SA boer in tronk oor hy nie gesin wil agterlaat

2010-04-16 07:36

André le Roux, Beeld
Media24-Afrika-kantoor

’n Suid-Afrikaanse boer is Donderdag aan die Zimbabwiese kant van Beitbrug in ’n polisiesel gegooi.

“Oorlogveterane” het vroeër die dag op nog twee Suid-Afrikaanse plase beslag gelê.

Albei behoort aan Ian Furguson, wat tans ná ’n operasie in Pretoria herstel.

Een van sy seuns, Ian Furguson jr., is Donderdagmiddag op die een plaas in hegtenis geneem en na die Beitbrug-polisiekantoor geneem nadat hy geweier het om die plaas sonder sy gesin te verlaat.

Sy drie kinders, van tussen vier en tien jaar oud, is steeds op die plaas wat deur militante beset word. Hul ma is op besoek aan Bulawayo en kon nie na die plaas terugkeer nie.

Polisiebeamptes het Furguson jr. na die aanklaer in Beitbrug geneem, maar dié het geweier om hom van enige misdaad aan te kla.

Hy is nogtans in ’n sel gegooi waar hy Donderdagaand moes oornag. Sy kinders is in die sorg van ’n werktuigkundige en sy vrou wat steeds op die plaas is.
Hulle moet egter vandag weg wees, het die militante gedreig.

Furguson jr. het Donderdag vanuit Zimbabwe aan Beeld gesê: “Die nuwe moeilikheid het begin ná die suksesvolle hofsake in Suid-Afrika (deur AfriForum).”

Dié keer is daar egter sterk aanduidings dat AfriForum se suksesvolle regsoptrede in Suid-Afrika en die beslaglegging op Zimbabwiese bates in Kaapstad ’n opportunistiese beweegrede vir oorname van die oorblywende 5% van Zimbabwiese plase in wit hande deur militante Zimbabwiërs geword het.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, het gesê: “Daar ís ’n verband tussen ons optrede en dié reaksie. Ons tree juis daarom baie omsigtig op.

“Dis ’n moeilike dilemma. Onthou, 95% van (wit) boere in Zimbabwe het reeds alles verloor. Ons kan nie ter wille van die oorblywende 5% niks doen nie.”

In die jongste voorval is die Furgusons se lemoenplaas, waarop Furguson jr. boer, én ’n aangrensende jagplaas van 17 500 ha met ’n geraamde waarde van R88 miljoen beset.

Dit is net 46km van Beitbrug.
“Daar is meer wild op die plaas as in enige ander plek in Zimbabwe,” het Furguson sr. gesê.

In ’n vorige aanval is twee van die jagplaas se luukse lodges, wat vir buitelandse jagters in stand gehou word, deur plaasbesetters gestroop.

-Beeld

Oorsprong:Nuus24
http://www.nuus24.com/Suid-Afrika/Nuus/SA-boer-in-tronk-oor-hy-nie-gesin-wil-agterlaat-20100416

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.