Monday, 12 April 2010

Só gaan dit nou met slagoffers

2010-04-12 01:52

Karen Ebersohn

“Ek kan die lyding van die laaste paar weke nie in woorde beskryf nie. Benewens die vernedering van die aanval is die pyn ondraaglik.”

Só het ’n emosionele mev. Hester Thomas (79) gister gesê. Sy is meer as twee weke gelede in haar huis in Gardeniapark in Bloemfontein aangeval.

’n Man het haar by haar huis oorval en aangeval toe sy buite op die DBV gewag het.

Sy is pimpel en pers geslaan, gewurg, getrap en bokant haar linkeroog met ’n mes gesteek en was vyf dae lank in die Pelonomi-hospitaal.

Thomas sê haar steke is Donderdag gedeeltelik uitgehaal.

“Dit was verskriklik seer. My kop pyn aanhoudend. En ek het nog glad nie vir myself in die spieël gekyk nie.”

Sy sê sy lewe nie in vrees nie, maar is nog onseker oor wat sy in die toekoms gaan doen.

“Ek moet seker my huis verkoop. Maar ek wil glad nie. Vir nou wil ek eers gesond word. Die dokter sê ook ek moet nou net rus. En dan sal ek aan die toekoms dink.”

Nog ’n familie wat deur erge lyding gaan ná ’n aanval is die Van Vuuren-gesin van Jagersfontein. Hulle is sowat drie weke gelede wreed by hul huis aangeval.

Volksblad het vroeër berig oor vyf geliefdes van mnr. Johan van Vuuren wat onmenslik wreed by sy ouerhuis aangeval is.
Sy ouers, Boet (80) en Francina (77), broers Marius (44) en Marthinus (35), en broerskind Juan (13) is deur ses mans met grawe en messe oorval.

Die aanvallers het geen genade gehad nie en het die huis vol bloed agtergelaat. Selfs Boet en Marius is erg aangerand, al is albei in rolstoele.

Johan sê sy ma is steeds in die intensiewe-sorgeenheid van die Pelonomi-hospitaal.

“Sy sukkel nog met asemhalingsprobleme. Ons weet glad nie wat die toekoms vir haar inhou nie.”

Hy sê Marthinus is ook nog in die Universitas-hospitaal en word vir bloeding op die brein behandel.

“Die familie kry nog baie swaar. Veral omdat ons nie weet wat die toekoms inhou nie.”

Vyf verdagtes is al aangekeer.

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/S%C3%B3-gaan-dit-nou-met-slagoffers-20100412

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.