Saturday, 10 April 2010

‘Soos Simson moes sterf om Filistyne te verslaan, was Eugène ’n instrument’


Begrafnisgangers luister na die diens buite die kerk. Foto: Alet Pretorius

2010-04-09 22:10

Nicolize van der Walt

Ventersdorp. – Die dood van mnr. Eugène Terre’Blanche is gister hier met dié van dr. Hendrik Verwoerd meer as ’n halfeeu gelede vergelyk.

“Albei het ’n diep vaderlandsliefde en liefde vir die Afrikaner-volk gehad,” het mnr. Andries Breytenbach in ’n huldeblyk by die begrafnis gesê.

Breytenbach het gesê Terre’Blanche het altyd “goeie, suiwer Afrikaans” gepraat, was een van die min leiers wat “die volk” herinner het die grond is “met bloed gekoop” en het altyd aktief opgetree.

Terre’Blanche het reeds op 26-jarige ouderdom tot die politiek toegetree en die AWB op 7 Junie 1973 as ’n vryheidsbeweging gestig.

“Net soos Simson moes sterf om die Filistyne te help verslaan, was Eugène ’n instrument in die hand van die almagtige God om die volk byeen te bring.

Ons groet hom en sy liggaam word nou aan die aarde toevertrou, maar sy siel sal hier bly voortleef.”

Benewens Breytenbach se dwarsklappe na die media, het hy ook die regering vir die hoë moordsyfer onder boere en wittes in Suid-Afrika veroordeel.

“Sedert 1994 is 3 300 boere vermoor en viervoudig soveel stedelinge vermoor. Hierdie nuus haal net die binneblaaie van koerante, want die media het gewoond geraak hieraan.

Eugène is as ’n verregse voorgehou, maar vandag kan ons sien hy was ’n ware leier gewees.”

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Soos-Simson-moes-sterf-om-Filistyne-te-verslaan-was-Eug%C3%A8ne-n-instrument-20100409

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.