Monday, 19 April 2010

Suidlanders berei voor ‘vir wanneer SA tot stilstand kom’

2010-04-19 08:48
Clarissa Venter, port Elizabeth

’n Groep Oos-Kapenaars het gistermiddag onder groot geheimhouding in Despatch bymekaar gekom om “voor te berei vir die dag wanneer die land tot stilstand kom”.

Dít is wat mnr. Morné Air, plaaslike leier van die Suidlanders-aksie, gister op ’n saamtrek in Despatch aan honderde mense, wat van so ver as Ventersdorp gekom het, gesê het.

“Ons is eerstens hier vir die Here, dan ons volk en dan ons vaderland. Die Suidlanders is hier om die volk te lei,” het Air aan die begin van die vergadering aan ’n volgepakte paviljoen gesê.

“Ons is nie hier om haatspraak aan te blaas nie. Ons is nie hier om mense op te sweep nie. Ons is hier om ons volk te lei,” het Air gesê.
Die honderde wit mense, oud en jonk, wat skouer aan skouer op die paviljoen op die dorp se sportterrein gesit het, het aandagtig na hom geluister.

Ná skriflesing en gebed het hy gesê dit is nié ’n politieke vergadering nie. “Ons kom saam in die naam van gebed.”
Hy het gesê die afgelope paar maande was sleg.

“Maar ons kom nie om oorlog te verklaar nie. Ons kom ook nie om wapens op te neem nie. Ons kom om julle voor te berei vir die slegste scenario.
“As die oomblik aanbreek, sal jou buurman jou broer word. Liefde laat dit outomaties gebeur,” het Air gesê.

Hy het gesê die Suidlanders is nie ’n regse groep nie, hulle bring slegs die boodskap vir “as die dag aanbreek wanneer ons ons huise moet verlaat en oorgaan tot aksie.

“Die Suidlanders is deur die Here geskep. Die Boerevolk is ’n Christenvolk,” het Air met ’n Bybel in die hand gesê.
Hy het gesê as die land tot stilstand kom, moet almal weet wat om te doen.

“Gaan vanaand en sit saam met jou vrou en kinders om die tafel en bespreek dit. Julle moet weet wat om te doen en waarheen om te vlug.”
Hierop het hy gesê die mense moet tussen die lyne lees, omdat hy nie baie kan praat nie.

“Want hier is media en vyande teenwoordig. Die vyande gaan ons slag, maar hulle het nie altyd die grysstof wat ons het nie,” het Air gesê. Hy het nie uitgebrei oor wie dié vyande mag wees nie.

Op ’n vraag waarheen mense moet vlug, het Air gesê: “Hier is baie vriende, maar die vyande is ook teenwoordig en ek kan nie sê waarheen nie, anders is die oorlog te maklik.”
die nodige blikkieskos en gereedskap aan te skaf. “Julle moet jul arsenale regkry. Ons doen wat ons doen sodat die Boerevolk kan oorleef.”

Ná die vergadering is “leiers” aangestel om elkeen sowat 10 gesinne in sekere wyke onder sy vlerk te neem.

Oorsprong:Die Burger
http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Suidlanders-berei-voor-vir-wanneer-SA-tot-stilstand-kom-20100419

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.