Monday, 5 April 2010

Sy hart’s in stukke, sê Steve


Steve Hofmeyr Foto: Brendan Croft

2010-04-04 22:21

Sanri van Wyk

Mnr. Julius Malema is voort- aan aandadig aan enige moord waarin ’n “swart mens” ’n “wit mens” vermoor.

Dit was gister Steve Hofmeyr se reaksie op die moord op die AWB-leier mnr. Eugène Terre’Blanche eergisteraand op sy plaas Witrandjiesfontein, buite Ventersdorp.

“Dit het my hart f****n gebreek,” het Hofmeyr telefonies vanuit Oudtshoorn, waar hy die KKNK bywoon, gesê.

Hofmeyr het bygevoeg hy en Andries Botha, sy kitaarspeler, het saam met ander mense in ’n restaurant in die dorp gesit en eet toe hulle die nuus hoor.

Volgens Hofmeyr is die moord op Terre’Blanche “’n voorbeeld waarom ons sê Malema mag nie mense aanhits nie”.

Hy het gesê hy sien ’n dag kom wanneer iemand wat van moord aangekla word, ter versagting gaan voorhou: “My leier (Malema) het gesê ek moet dit doen.”

Hofmeyr het gesê sy politieke oortuigings stem nie met Terre’Blanche s’n ooreen nie omdat dié ’n generasie voor hom is, maar hy het gesê hy het die laaste ruk ’n paar gesprekke met hom gevoer en is daarvan oortuig dat Terre’Blanche as “’n ander man” uit die tronk gekom het.

Hofmeyr het Terre'Blanche as die “laaste vergestalting van die erfenis waarvoor ons baklei het”, beskryf en gesê Terre’Blanche se “vrae is nog nie beantwoord nie”.

Die sanger het bygevoeg hy het Terre’Blanche voorheen belowe om hom te besoek om “navorsing oor die regse retoriek” te doen, maar hulle het nog nie ’n datum vasgemaak nie. “Ek gaan my afspraak met hom nakom.”

Om dié rede hoop hy om Ventersdorp Donderdag te besoek.

Anton Goosen het ook die voorval veroordeel. “Een mens mag nie ’n ander doodmaak nie,” het hy verklaar.

Volgens hom moet mense wag totdat hulle feite het voordat hulle die moord met Malema se “skiet die Boer”- uitlatings verbind.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/16fa2353f98849cca4248fcd35ad3bd6/04-04-2010-10-21/Sy_hart%E2%80%99s_in_stukke,_s%C3%AA_Steve

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.