Wednesday, 7 April 2010

Terre’Blanche-moord glo ‘polities gemotiveerd’

2010-04-07 05:46

Johannesburg – Die moord op die AWB-leier Eugene Terre'Blanche was nie ‘n gewone misdaad nie, maar ‘n politieke moord waarmee “die regering waarskynlik betrokke was,” het die landbou-organisasie TLU-SA Dinsdag gesê.

Volgens Ben Marais, president van TLU-SA, kom die wreedheid en barbaarse aksies wat aan politieke moorde gekoppel word in Terre'Blanche se moord ook voor.

Volgens Marais is daar ‘n ontstellende patroon wat tydens die afgelope paar weke plaasgevind het, waarvan Terre'Blanche se moord slegs een insident is.

“Ons vrees hierdie is nie die einde nie tensy die regering of burgers ingryp. Polarisering van die rasse is ‘n werklikheid en die sneller vir verdere konflik lê in die hande van die die ANC-jeugliga en hul radikale leier (Julius Malema), wat glo nie deur die ANC tot orde, verantwoordelikheid en dissipline gebring kan word nie,” het Marais gesê.

Volgens hom het plaasmoorde onlangs toegeneem, nasionalisering van grond was ter sprake en die lied “Skiet die boere” het verskyn.

“Nou is ‘n bekende leier vermoor,” het hy bygevoeg.

Terre'Blance is glo deur twee van sy werkers vermoor na 'n onderonsie oor lone.

TLU-SA verwerp stellings dat boere hul werkers sleg behandel.

As werkers voel dat hul sleg behandel word, is daar genoeg institusies wat hulle kan nader vir hulp, meen Marais.

Werkers kan die plase verlaat om beter behandeling, akkommodasie, salarisse en voordele op ‘n ander plek te kry, het hy gesê.

Volgens Marias is die unie "moeg daarvoor dat misdadigers as helde beskou word terwyl die boere as die misdadigers gesien word."

“Ons kan hierdie nie langer duld nie. Die feit is dat die ANC beheer oor homself en die land verloor het. Wat tans in ons land voorkom is niks minder as gewapende propoganda vir ‘n vryheid wat ons gedink het ons 16 jaar gelede gehad het,” het Marais gesê.

Marais dring daarop aan dat boere hul sekuriteit moet opskerp.

“Ons glo dat ons net die begin van groter probleme in die gesig staar.”

- Sapa

Oorsprong:
http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/6c5e36b4d359496b9a0d2088c2e996e9/07-04-2010-05-46/Terre%E2%80%99Blanche-moord_glo_%E2%80%98polities_gemotiveerd%E2%80%99

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.