Saturday, 10 April 2010

‘Vryheid Volk Vaderland...’


’n AWB-vlag en -erewag. Die kis word na die graf gedra.Foto: Cornél van Heerden

2010-04-09 22:10

Marida Fitzpatrick

Van vroue met Voortrekkerkappies en mans in kamoefleerdrag tot tieners met pers hare en wenkbrouringe het gister op Ventersdorp vir mnr. Eugène Terre’Blanche se begrafnis opgeruk.

Mense het in hul massas met kampstoele, sambrele en Vierkleure blokke ver gestap om by die kerk uit te kom.

Honderde motorfietsryers van oor die land heen en ’n bus van Namibië af het ook daar opgedaag.

Hoewel die diens eers gister om 12:00 begin het, het mense al vroegdag voor die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) saamgedrom in die hoop om ’n plek in die kerk te kry.

“Dis eintlik lekker om so baie wit mense bymekaar te sien,” het ’n vrou op pad na die kerk gesê. “Ek het nie geweet daar is so baie Afrikaners nie.”

Daar was hordes polisielede, onder andere die honde- en die berede-eenheid, en ’n polisiehelikopter het heeldag in die lug rondgedraai. Ook in die kerk het polisiemanne- en vroue met koeëlvaste baadjies rondgestaan vir in geval geweld uitbreek.

Mnr. Johan Nel (72) het gesê die moord moes só gebeur het, “want dit het ons Afrikaners, wat hierdie land opgebou het, tot eenheid gebring”.

Nel het gesê mnr. Julius Malema, ANC-jeugligaleier, wil “die Boerevolk vernietig” en hy is bly om te sien die Afrikaners kon gister saamstaan.

Voor die kerk was daar ’n gebrom van stemme met allerhande gesprekke wat wissel van “hulle” wat so steel, “want dis in hulle gene” tot die “vierde Andries” wat die ouma vir die eerste keer ontmoet.

In een bakkievenster het gestaan: Vryheid Volk Vaderland.

Mnr. Eben Klynsmith (20) van Vereeniging het gesê hy lees al De la Rey se boeke en wil hê die jongmense moet weer weet waaroor Bloedrivier, die Anglo-Boere-oorlog en Geloftedag gaan.

Baie mense het oranje linte om hul arms gedra of aan hul bors vasgesteek.

’n Meisie wat toevallig haar vriendin raakgeloop het ná die kerkdiens, het uitgeroep: “Mariana, is jy ook hier? Ek’s bly jou hart is reg.”

Mense op die dorp het die grootste deel van die dag gesukkel om met hul selfone te bel en te SMS.

Teen druktyd was die rede daarvoor nog nie duidelik nie, maar dis vermoedelik omdat die selfoonnetwerk weens die duisende mense wat na die dorp gestroom het, oorlaai was.

Mnr. Willem Nel (66) het gesê hulle het nie gekom om moeilikheid te maak nie. “Nee, ons kom vir ’n begrafnis. Ons kom om ons leier ter ruste te lê.”

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Vryheid-Volk-Vaderland--20100409

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.