Monday, 10 May 2010

Bejaardes van Bfn erg aangerand

2010-05-10 00:53
Earl Coetzee

In minstens die vierde soortgelyke voorval die laaste maande in die Vrystaat is ’n bejaarde egpaar van Bloemfontein in hul huis aangeval en pimpel en pers geslaan.

Mnr. Johannes Werner (81) en sy vrou, Anna (80), is Saterdagoggend in die hospitaal opgeneem nadat hulle Vrydagaand in hul huis in Erlichpark met ’n knopkierie aangerand is. Die egpaar het albei ernstige gesigs- en kopbeserings opgedoen.

Kapt. Ina Scholtz, polisiewoordvoerder, sê die Werners het geslaap toe mnr. Werner omstreeks 23:00 geluide buite hul huis hoor. Hy het gaan ondersoek instel. Toe hy die voordeur oopmaak, is hy verskeie kere met ’n knopkierie geslaan.

Die aanvaller is die huis binne en mev. Werner het ook erg deurgeloop. Die knopkierie is die volgende oggend deur ’n polisiebeampte op die toneel gevind.

Volgens Scholtz word slegs ’n selfoon en ’n beursie met ’n paar rand vermis.

Die erg beseerde egpaar is die volgende oggend deur mnr. Frans Smit, ’n eiendomsagent, in hul huis aangetref. Die huis is glo in die mark, omdat hulle beplan om in ’n tehuis vir bejaardes te gaan woon.

Smit sê toe hy by die huis opdaag, kon hy die bloed by die voordeur sien. Toe hy ingaan, het hy op die beseerde egpaar afgekom en hul seun, Ben, laat weet. “Ek kan nie glo hulle kon ou mense so slaan nie. Dis iets wat jy moet sien om te glo,” sê Smit.

Die Werners is in die Life-Rosepark-hospitaal in Fichardtpark opgeneem waar hul beserings behandel is voordat hulle na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas is.

Mev. Werner is gister uit die hospitaal ontslaan, en mnr. Werner is steeds in ’n stabiele toestand in die trauma-eenheid.

Hul seun sê dit gaan taamlik goed met albei ná die aanval, hoewel albei ernstige beserings opgedoen het. Hulle het onder meer snywonde aan die kop, insluitend hul oogbanke, opgedoen.

Scholtz sê klagte van huisroof en aanranding met die doel om ernstig te beseer word ondersoek.

Die Werners se aanranding volg op dié van mev. Hester Thomas (79) van Gardeniapark en emeritus-professor Flippie Minnaar (83) en sy vrou, Louise (77), van Dan Pienaar.

Daar was sedert Maart ook aanvalle op bejaardes tuis in Lilaclaan, Bloemfontein, en op Jagersfontein, is vroeër berig.

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Bejaardes-van-Bfn-erg-aangerand-20100510

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.