Saturday, 8 May 2010

Brief dreig boer met dood waar plaashuis brand


Die brief

2010-05-07 21:55
Buks Viljoen

Nelspruit. – “Jy gaan net soos Eugene blanche (sic) volgende wees ... jy gaan vermoor word!”

Dit is die woorde in ’n brief wat dié week opgetel is op die plaas van mnr. Dave Mortlock (53) van die plaas Dustin in die Brondal-omgewing buite Nelspruit.

Mortlock het Maandag skade van sowat R3 miljoen gely toe sy spoghuis op die plaas afgebrand het.

’n Werker het die brief naby die afgebrande huis opgetel.

Volgens Mortlock se seun, Roger, is daar aanvanklik vermoed ’n elektriese kortsluiting het die brand veroorsaak.

Mortlock sr. het die huis Maandag omstreeks 09:15 verlaat.

Skaars ’n halfuur later het ’n werker hom gebel en gesê die huis brand.

’n Werker, wie se naam nie bekend is nie, het die brief Woensdagoggend, twee dae ná die brand, langs ’n paadjie tussen die huis en die kampong opgetel.

Die moontlikheid van brandstigting word nou ondersoek.

Forensiese kundiges van die polisie is eergister ingeroep om die presiese oorsaak van die brand te bepaal.

Volgens Mortlock jr. leef hulle in vrees sedert die brief gekry is.

In die brief word hoër lone, ’n minimum loon van R1 800 en beter werkomstandighede geëis.

Die briefskrywer(s) kla ook omdat Mortlock Mosambiekers en Zimbabwiërs in diens het.

In die brief sê die skrywer Mortlock het vier dae om die plaas te verlaat of hy gaan vermoor word.

Later word gesê hy het twee weke om die plaas te verlaat.

Verskeie van die plaaswerkers is gister ondervra, maar daar is geen aanduiding dat hulle iets van die brief of die brand weet nie, sê mnr. Danie Coetzer, bestuurder van J&M Sekuriteit in Witrivier, die maatskappy wat Mortlock se plaas beveilig.

Hy sê die werker wat die brief opgetel het, het dit aan Mortlock gegee. Die brief is toe aan die polisie gegee.

Coetzer sê hulle vermoed die brief hou verband met ’n grondeis op verskeie plase in die Brondal-gebied.

“Ons weet van ten minste een eiser wat bitter is omdat sy eis onlangs van die hand gewys is.”

Ao. Dawie Pretorius, woordvoerder van die polisie in Nelspruit, het bevestig dat hulle aanvanklik net ’n klag van brandstigting ondersoek het.

“Ons het egter Woensdag die klag van intimidasie bygevoeg toe die brief opgespoor is,” het hy gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Brief-dreig-boer-met-dood-waar-plaashuis-brand-20100507

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.