Thursday, 20 May 2010

Die gevaarlikste werk


Deur Radio Pretoria

Enkele dae nadat die ANC se dissiplinêre komitee besluit het sy jeugleier, Julius Malema, sal nie vervolg word omdat hy ‘n opdrag geïgnoreer het om nie meer “Skiet die Boere” te sing nie, is nog ‘n plaasmoord gepleeg.

Dié keer was dit mnr Johan Strydom, wat deur kennisse onthou word as ‘n boer wat baie goed vir sy plaaswerkers was. In ‘n vroeëre, dubbele Vrystaatse plaasmoord, is die bejaarde egpaar as filantrope beskryf.

Enkele jare gelede was daar beweer dat ‘n sakeman ‘n swart man agter sy voertuig aangesleep het. Dit het tot internasionaal opslae gemaak. Dat mnr Strydom ook, volgens die getuienis op die toneel, skynbaar agter sy bakkie aangesleep is, het kwalik die nuus gehaal, laat staan nog opslae maak.

In Suid-Afrika is daar in verskeie kringe, veral die regering, ‘n ergerlikheid weens die groot klem wat op plaasmoorde geplaas word. Daar is egter verskeie redes waarom dit soveel aandag geniet.

Die internasionale moordkoers word op 5 per 100 000 per jaar geraam, met dié van Wes-Europa op een. Suid-Afrika se moordkoers is egter net minder as 50 per 100 000 per jaar, met onder meer die Mediese Navorsingsraad wat meen dit is aansienlik hoër. Formeel word die moordkoers onder bruin mans in die Wes-Kaap weens bendebedrywighede op ongeveer 90 per 100 000 per jaar geraam, wat as die hoogste moordkoers vir ‘n identifiseerbare groep in die wêreld beskou word.

Interpol beraam egter die moordkoers onder Suid-Afrikaanse boere op meer as 300 per 100 000 per jaar.

Nog ‘n rede waarom plaasmoorde soveel aandag trek, is die ontsettende wreedheid waarmee dit in baie gevalle gepleeg word. Van ‘n bejaarde se voetsole afskil om te wys waar ‘n nie-bestaande kluis is, tot die keel afsny van ‘n Belgiese burger. Met byna elke plaasmoord lyk dit of die aanvallers vrye teuels aan hul verbeelding gee om nuwe wreedhede op te dis.

Die moordveldtog moet ook ‘n sielkundige uitwerking hê, wat moontlik dieper en wyer lê as die gewone trauma wat met ‘n moord gepaard gaan.

Daar is ‘n paar redes: Daar is ‘n onderlinge band tussen boere, hulle is grootliks op hulleself aangewese, die regering verseg om die moorde te veroordeel en beskuldig eerder die boere van allerlei dinge en die gevaar neem nooit die wyk nie. Sielkundiges beskryf dit as ‘n vorm van viktimonologie – ‘n trauma wat nie weggaan nie.

Selfs die huidige minister van landbou, Tina Joemat-Petterson, se aanvanklike belowende wegspring het nou in die gebruiklike retoriek verval wat die bewindstydperk van Liewe Lulu en Dirk du Toit gekenmerk het en wat beslis nie bydra tot die veiligheid van boere nie.

Dit beteken nie dat enige ander moord minder veroordelingswaardig is nie. Of die boef nou ‘n veiligheidskompleks indring en iemand in die privaatheid van sy slaapkamer vermoor, en of dit ‘n dronknes-messtekery is, dit bly erger as die blote statistiek. Maar dit is tog opvallend dat dit nie die blanke mynbase is wat in oorlogsliedjies gedreig word of enige ander sektor van die blanke samelewing nie, maar spesifiek die BOER – en ons kan dit maar spel met of sonder ‘n hoofletter.

Oorsprong:Radio Pretoria
http://radiopretoria.co.za/Nuuskommentaar.php

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.