Monday, 24 May 2010

‘Eendag in Boerland’


Mnr. Barend Pienaar, voorsitter van die Boerevolk-vryheidstigting, by sy Land Cruiser op sy plaas Kiepersol buite Nylstroom. Hy ry dikwels met ses Vierkleur-vlae en die ou Vrystaatse vlag op sy voertuig rond. Foto’s: Lisa Hnatowicz

2010-05-21 22:10

Is daar sprake van regse mobilisasie ná Eugène Terre’Blanche se dood? Willemien Brummer was in die Boere-hartland, waar sommige wil veg en ander wil vlug.

‘Ons gáán daardie Vierkleur weer in bloed doop,” sê mnr. Barend Pienaar (43), met ’n ingehoue stem. Dié voorsitter van die Boerevolk-vryheidstigting is toornig, ’n bulhond wat wil byt: “Ons sal die wapens moet opneem as ons aangeval word, en dis naby, daar’s geen twyfel nie.”

In sy two-tone kakiehemp, kamofleerdrag-kortbroek, jagmes en Boerevryheid-pet is Pienaar paraat om enige oomblik laer te trek in geval van ’n Boere-oordeelsdag. Op sy Landcruiser met die vier ligte op die dak, het sy blonde dogter Megan (18) weerskante ’n spesiale Vierkleur ontwerp.

Hy verduidelik trots: “Die rooi verteenwoordig vlamme – dis hoe ons die vyand gaan verteer – en die blou is ’n streamer, of soos die konfetti wat jy gewoonlik by troues kry vir as die Boer die stryd gewen het.”

In ’n pakskuur op sy plaas Kiepersol net buite Nylstroom word die “grootste volksvlag ter wêreld” gestoor – ’n Vierkleur van ’n volle 14 250 vierkante meter, of sowat drie rugbyvelde groot. Dié vlag, wat laas ten tyde van Eugène Terre’Blanche se begrafnis oopgerol is, weeg 3,5 ton en het die langste ritssluiter ter wêreld – 165 m.

Dié vlag was oorspronklik die idee van sy vrou se oom, Edwin Leemans, voorsitter van die Boerevolk-vryheidstigting se Komitee vir Openbare Betrekkinge, wat tot dusver misluk het om dié vlag in die Guinness Book of Records te kry. Tans word dié vlag, wat grootliks deur Pienaar befonds is, egter gebruik as simbool “om groter sigbaarheid vir die Boerevolk te kry”.

Want Pienaar is ’n man wat “29 uur per dag besig is met my volk”. Hy het sy swart werkers van 300 na vier afgeskaal (“dis ’n veiligheidsrisiko”) en op sy nabygeleë jagplaas, Donkerpoort, laat hy “geen volksvreemdes toe nie”.

“As ek enigsins ’n idee kry dat hierdie persone nie is wie hulle sê hulle is nie, stuur ek vir hulle per e-pos die tien beginsels van ’n Boer. As hy hom geteken het, is hy welkom.”

Hy’s oorgehaal vir aksie.

“Ek slaap nie meer nie. Ons staan wag, want jy weet nie wanneer jy aangeval word nie.

“By Bloukrans in 1834 is die Voortrekker-kindertjies teen wawiele doodgeslaan. Jy leer dat die geskiedenis homself herhaal. Ons berei onsself nou net voor. My kinders is 100% paraat.”

Hy wys met ’n reusagtige hand na die tuisgeskoolde Megan, wat al van kleins af leer skiet het en die een veiligheidskamp ná die ander bywoon.

“Dáái dogter sal jy nie vat nie. In die Boere-oorlog was daar seuns so jonk as tien wat op ’n perd was met ’n geweer in sy hand. My dogters sal vir seker baklei!”

Hou jy die internet of koerante dop, sal jy sien dat onder veral buiteparlementêre regse geledere daar ’n “herontwaking”, ’n “opsaal Boere!”, ’n hernude belangstelling is in die vooruitspellings van sogenaamde Boere- profete soos Siener van Rensburg en Johanna Brandt. Hulle lewe in angs oor Siener se “bloedbad wat sal volg op die dood van ’n prominente swart man” en uiteindelik, jubel hulle, sal die “Boerevolk weer vry wees”.

Baie van dié organisasies, of “volksgroepe”, beweer hul getalle neem eksponensieël toe – veral “in hierdie eindtye” ná die dood van Terre’Blanche en Julius Malema se opruiende liedere.

Soos Pienaar dring die meeste egter daarop aan om nie regs of ultra-regs genoem te word nie.

“Dis ’n woord wat hulle in die sewentiger- en tagtigerjare uitgedink het om mense te karikaturiseer as gevolg van die feit dat hulle gedink het mense wat in die bos of in ’n plaas bly is dom en agteraf,” sê hy nors.

En semantiese verskille is hier ’n kwessie van lewe en dood. By die Boerevolk-vryheidstigting word daar gepraat van “Boere” – beslis nie van Afrikaners nie.
“Want hoe vertaal jy Afrikaner na Engels toe?” vra Pienaar.

“Ouens gaan sê êfrikêner, maar dis ook nie reg nie. Wat hy eintlik vir jou gaan sê is African. Nee, ons wil nié Africans wees nie. Ons verteenwoordig nié die houtboognasie nie.”

Of soos “Dok Lets”, of te wel dr. Johan (Lets) Pretorius, ondervoorsitter van die Boerevolk-vryheidstigting en president van die besluitnemende liggaam, die Boerevolk Verteenwoordigende Raad (BVR), jou gou sal sê: “Slegs ’n volk kan aanspraak maak op grond. Die Afrikaner is in geen sin volgens die definisie ’n volk nie.”

Dok Lets, wat sedert 2002 saam met sy drie seuns en destyds negentien ander in die sogenaamde Boeremagsaak teregstaan op klagtes van onder meer moord, terrorisme, sabotasie en hoogverraad, het in 2005 die Boerevryheid-webblad (www.boerevryheid.co.za) begin nadat hy in 2004 op borgtog vrygelaat is. Sy drie seuns, Wilhelm, Kobus en Johan, ook ’n mediese dokter, word steeds in die C-Max-gevangenis in Pretoria aangehou.

Deesdae maak Dok Lets en sy meelopers wilde bewerings soos dat Boerevryheid “die grootste interaktiewe Afrikaanse webblad in die wêreld is”.

Op dié webblad is onder meer ’n “Volksregister Inskrywingsvorm” wat besoekers mag invul mits hulle die “Tien Beginsels van ’n Boer” onderskryf. Dié register kan ook by skoue en die Boerevolk-krisisbeheersentrum, beman deur sy vrou, Minnie Pretorius, ingevul word. Tans skat Minnie dié register het sowat 30 000 ingetekendes.

Dok Lets is meer beredeneerd as Pienaar, met sy bril, bokbaard en Boerevryheid-hemp.

“Ek sê om ’n Boer te wees, moet jy ’n besluit in jou hart neem. Ons maak dit vir mense maklik deur vir hulle ’n vorm te gee met beginsels sodat hulle die keuse willens en wetens kan maak.”

Maar vandag, sê Pienaar, “het ons so ver van die waarheid afgedwaal dat ons onder ’n strafgerig staan – spesifiek die blankes omdat ons ’n vreemde owerheid oor ons het”.

Hy sug. “Hierdie ding is pleinweg volksvreemd. Ek wil eenvoudig in my eie land bly, met my eie regering wat ek aangestel het, wat soos ek lyk.”

In hierdie duister dae het hulle egter meer onmiddellike bekommernisse as onafhanklikheid vir die Boerevolk. Soos een skrywer op die Boerevryheid-forum “met alle respek sê”: Hy’t nie tyd vir lang stories op die internet nie, hy’s besig om voorrade reg te kry, ontsnappingsroetes te verken, patrone te herlaai, teiken te skiet en sy messe skerp te maak.

Dok Lets se stem word sagter waar hy in die Boerevolk-krisisbeheersentrum in Mayville, Pretoria, sit. Langs ons by Maders is die slaghuis en die restaurant vol ou landsvlae. Op die deur van die slaghuis lees jy: “Mnr. Mbeki, ek belowe jou, in ’n aanval of rooftog HIER, sal ek soveel as moontlik van die bliksems doodskiet.”

“Die Suidlanders waarsku, die AWB waarsku, almal weet daar’s moeilikheid op pad,” sê Dok Lets. “Maar ons is nie van plan om soos laasgenoemde met ’n groot gejuig na Heilbron se Spar te gaan nie.”

Sy stem word ernstig.

“Die Nag van die Lang Messe is so wesenlik soos die wederkoms – en wanneer ís die wederkoms? Maar daar is geweldig baie tekens wat ons bekommerd maak, en dis hoofsaaklik op Johanna Brandt se profesieë gebaseer, wat voorspel het op ’n spesifieke nag gaan hulle uit die omgewing van Soweto in Johannesburg insak en die hele wêreld gaan vol bloed wees.

“Die punt is eergister is daar weer mense by Kameeldrift doodgemaak. Vir hulle was dit die Nag van die Lang Messe. Vir Eugène Terre’Blanche het die Nag van die Lang Messe plaasgevind daai Saterdagmiddag, want hulle het ’n panga op sy bors gelos – ’n lang mes. Ons waarsku dus ons mense om paraat te wees. Dis net logies dat die mense, as hulle in ’n walaer georganiseer is, hul eie veiligheidsituasie sal uitwerk.”

Op sy plaas buite Nylstroom is Pienaar vir jare reeds paraat, “al is die Boerevolk nooit die instigeerder nie”.

“Vir seker moet die Boerevolk hulle bewapen ja,” sê hy verbaas. “As jy na die Suidlanders kyk, sê hulle ons moet wag vir Uhuru, vir die Nag van die Lang Messe, of Operation Iron Eagle.”

Hy staan met ’n wapperende Vierkleur en die ou Vrystaatse “strydvlag” in sy hande. “Van my kant is dit klaar oorlog. Hulle gaan ons stelselmatig uitmoor. Dit gaan net eskaleer, en vernaam ná die Wêreldbeker.”

En glo hom, hy sal eerder veg as vlug as die moeilikheid kom.

“Wat gaan jy ná die vlugaksie doen? Wat doen jy as jy terugkom by jou huis en hier bly twintig swartes in jou huis? Onthou, hulle het reeds die huise uitgekies hier in die dorp.”

Het hy reeds planne?

Sy gesig word rooi, maar hy laat glip nie sy “strategie” nie.

“Ja. Hier is 700 weerbare mans in die dorp in totaal. Blankes. Daar is 125 000 swartes in die lokasie. Wat kan jy doen? Jy moet jouself bewapen en jy moet aktief wees en dan moet jy bid.”

Jy moet ook die “verraaier in jou midde uithaal” voeg hy strydgereed by. “Weet jy wat is ons grootste probleem? Mense wat soos ek en jy lyk wat ons verraai.”

Wat gaan met hulle gebeur?

Hy antwoord dadelik. “Natúúrlik word hulle gefusileer. Teen ’n muur gesit en doodgeskiet ja. As jy my verraai, het jy my verraai. Kom ek stel dit vir jou anderster – as F.W. de Klerk teen dáái muur staan, nè, sal ek nie ’n sekonde huiwer om hom dood te skiet nie. As ek moet tronk toe gaan, dan gaan ek tronk toe, dis fine.”

Sy stem is skor: “Eendag in Boerland... dis die afrekeningsdag.”

Die Suidlanders, wat die afgelope maande weer pal in die nuus was, sien hulleself suiwer as ’n “noodplaninstansie”, selfs ’n “liefdadigheidsorganisasie”, aldus hul vrome leier mnr. Gustav Muller. Daarom dat daar in regse geledere selfs al ’n onderskeid getref word tussen Suidlanders en “tuislanders”.

Baie van die Boerevryheid-boere is egter ook lede van die Suidlanders. En net soos sommiges wat dié webwerf skree die Suidlanders ‘wolf’ oor rewolusie, “swart burgeroorlog”, pandemies, stakings, hernude xenofobiese geweld en die begrafnis van ’n ikoon soos oudpres. Nelson Mandela.

Om dié vrees-psigose verder aan te wakker, verkoop hulle onder meer DVD’s, kamphandleidings en resepte vir dinge soos gedroogde eiers. Wanneer hierdie “Groot Trek” na die Suidlanders se vlugtelingplase sal nodig wees, kan Muller egter nie sê nie.

“Die soort ding is onvoorspelbaar,” sê hy per telefoon. “Kyk hoe skielik gebeur ’n klein insident soos Eugène se dood, en onmiddellik is daar paniek in Suid-Afrika. Sê nou Malema of selfs Zuma kom iets oor. Dis alles scenarios wat onmiddellik ’n vonk in ’n kruitvat kan word.”

Muller swyg soos die graf oor die geografiese ligging van die kampe, maar hy beweer dat daar “letterlik honderde dwarsoor die land” is. Ook dat “tot 90% van die dorpies in Suid-Afrika” al Suidlander-organiseerders het.

Nes die ander is hy vaag oor ledetalle. Hy kug.

“Dis eintlik maar ’n liefdadigheidsorganisasie, as jy dit so wil noem, en daarom het ons nie fooie of aansluitingsvorms nie. As jy nou ’n sameroeper in Kaapstad skakel, sal jy net sê hier’s my selnommer in geval van nood.”

Selfvoldaan: “Toe ek ondervra is deur die SAPD so ’n jaar en ’n half terug, het hulle ons geëstimeer op tussen 600 000 en 800 000 mense wat simpatie het met ons saak. Ná Eugène Terre’Blanche se dood wil ek vir jou sê daar is ’n ontploffing, en dit bly so.”

Ander verregse organisasies maak aanspraak op ’n ewe groot toeloop. Dis egter gewis die AWB is geen “liefdadigheidsorganisasie” wat blanke Suid-Afrikaners in die aangesig van ’n apokalips gaan help vlug nie.

“Ons moet gereed maak vir oorlog sodat ons onsself kan verdedig,” sê die AWB se omstrede sekretaris-generaal, mnr. André “Weerwraak” Visagie.

Dié skraal man in ’n netjiese pak klere het ’n ietwat meer intellektuele aanslag as die voormalige AWB-leier. Maar ten spyte daarvan dat hy reeds kort ná Terre’Blanche se dood deur die AWB gerepudieer is oor sy uitsprake, drup sy tong steeds vuur en swael.

In ’n ingehoue stemtoon vertel hy die “werklike keerpunt” in die regse politiek het op 12 Mei aangebreek: “Met die dood van mnr. Terre’Blanche het die Boerevolk wakker geword. Maar die keerpunt het gekom op 12 Mei (nadat Malema luidens ’n pleitooreenkoms net op een klagte skuldig bevind is deur die ANC se tugkomitee).

Die ANC het vir ons in soveel woorde uitgespel hulle is besig om ’n politieke spel met die witman van Suid-Afrika te speel.

“Ek beskou dit minstens as ’n oorlogsverklaring ten opsigte waarvan ek ander insigte sal kry indien die ANC dit duidelik uitspel.”

Meesmuilend: “Ag, ek dink nie dis ’n verskriklike openbaring as ek sê die AWB se mense wat betrokke was voor 1994 stroom in oorvloed na die AWB terug nie. Ons is besig om terug te keer na die dae toe daar militêre optogte in die strate was met derduisende mense in uniform. Dit sou onnosel van ons wees om in hierdie omstandighede te versuim om weer die Ystergarde in die lewe te roep.

“En u kan dit as ’n gegewe aanvaar dat die militêre strukture van die AWB weer gaan herleef in die vorm van ’n sekuriteitsfirma.”

Hy beweer die AWB het tans “tussen 1 000 en 2 000 ongeprosesseerde aansoekvorms in sy kantoor”, en dat dié beweging ’n ledetal van “tussen 100 000 en 150 000” het. Hy verkondig ook “Terre’Blanche het met sy bloed die grense tussen Afrikanerorganisasies” weggewas.

Baie van dié Afrikaners (hy’t nie “tyd vir fieterjasies soos die verskil tussen Boere en Afrikaners nie”) sal dalk so gou as ná die Wêreldbeker-sokkertoernooi moet begin laer trek.

“U kan in die Zimbabwe Mail gaan lees dat Malema in Zimbabwe was om te gaan reël dat die war veterans sy mense moet kom afrig in Suid-Afrika om plase te beset. Hulle noem daar dit kan direk na afloop van die Wêreldbeker gebeur.”

Dink hy werklik die AWB en sy meelopers sal ’n “oorlog” kan wen indien hulle soos hy vrees “aangeval” word?

Sy stem is betigtigend. “Ek kan die vraag nie verstaan nie! Die Boere was in die Boere-oorlog ’n ongelooflike klein minderheid teen die Engelse. Ek dink hulle het hulle genoeg gas gegee dat hulle dit vandág nog onthou.”

“Kommandant” Franz Jooste, uitvoerende direkteur van die Kommandokorps, is ewe paraat vir die nag wat naderkom.

“Eugène Terre’Blanche sou definitief gesê het as dié moord op my veroorsaak het dat my volk gemobiliseer word, dan sal ek nog drie keer vermoor word,” sê dié voormalige persoonlike lyfwag van Terre’Blanche.

“Die hele politieke klimaat het sedertdien verander. In die verlede het mense ons gesien as regs radikaal, nou sien mense ons as die oplossing en almal stroom na ons om hulp en raad en opleiding te kry.”

Sy korps het “tans 5000 amptelike lede”, maar daar’s nog hope aansoekvorms wat instroom ná Terre’Blanche se dood, sê hy.

Die Kommandokorps is as ’n artikel 21-maatskappy gestig om volgens Jooste “in opvolging van die weermagkommandos weer strukture te hervestig waarbinne ons mense hulleself kan beveilig en beskerm”. Hy bied onder meer “weerbaarheidskursusse aan waar ons mense leer om hulleself te kan handhaaf met hul vuurwapens”, vertel Jooste. Daar’s ook kadetopleiding vir jong seuns, sowel as “leiervorming”en kommandostigting dwarsoor die land.

Vir hierdie man is “elke nag in Suid-Afrika die Nag van die Lang Messe”.

“Ons lei mense op om noodplanne op te stel in die verskillende dorpe deur middel van die kommandos. Ons sê as die ANC MK het en die PAC Apla wat hulle beskerm, as die Zoeloes Inkatha het en almal van hulle marsjeer in uniforms rond, sékerlik kan ons dan die Kommandokorps hê wat ons mense, die Boeremense, beskerm.”

En hulle staan beslis vir baklei eerder as vlug, sê Jooste selfversekerd. “Ons het ’n meningsopname onder ons mense gemaak en 80% sê hulle gaan nie hul eiendom verlaat nie, hy gaan dit nie sommer los vir die vyand om oor te neem nie, hy gaan veg.”

Hy aarsel. “Ons probeer binne die wet bly. Maar ons sê altyd: mense moet ook nie probeer om ons aan te val nie...”

’n Stilte. “Ons slaan terug.”

Is daar enige sprake van samehorigheid tussen al hierdie groepe, splintergroepe en “volksgroeperings”? Hoe seker is jy baie bestaan nie in werklikheid uit drie lede, ’n selfoon, ’n faksmasjien en ’n .38-rewolwer nie?

Praat jy met die verskillende groepe, is dit die eerste ding waarvan hulle mekaar beskuldig.

Mnr. Andries Breytenbach, leier van die Herstigte Nasionale Party (HNP) en voorsitter van die oorkoepelende Afrikanerfront, lag op sy besadigde manier.

“Die ouens maak gróót aansprake. Elke ou probeer jou beïndruk met die groot getalle wat verál nou by hulle aansluit.”

Hy vertel die Afrikanerfront is in 2007 in die lewe geroep omdat “die nasionaal gesinde Afrikaner ná 1994 in baie groepies begin fragmenteer het”. “Ons het besef ons kan nie so aangaan nie. Nie een van die groepe is sterk genoeg op sy eie nie.”

Daarom bestaan dié front tans uit 28 buite-parlementêre “volksorganisasies wat selfbeskikking en onafhanklikheid van die Afrikaner of Boerevolk nastreef”.

Onder hulle tel onder meer die AWB, die Verkenners, die Kommandokorps en die “Aksie Vrouekrag” (maar nie die Boerevolk-vryheidstigting nie).

Breytenbach sê reguit hy’t geen idee hoeveel lede die onderskeie organisasies wat aan die front behoort het nie. Dié front steun egter die Volksraad-verkiesingskommissie (VVK) wat reël dat daar so gou as volgende jaar ’n “volksraadsverkiesing” gehou word.

Hy hoop daar sal uiteindelik tussen 200 000 en 300 000 “blanke volksgenote” op die kieserslys wees, waaruit kandidate genomineer sal word.

“Een van die reëls is dit moet ’n verteenwoordigende liggaam wees wat deur die volkereg en die internasionale gemeenskap aanvaar sal word. Die volgende stap is dat ons na die owerheid gaan om te sê ons eis ons reg op vryheid op.”

Maar nee, sê hy ferm. “Die Afrikanerfront is nié op die oorlogspad uit nie. As ’n volk onvoorbereid in ’n oorlog ingaan, pleeg hy selfmoord.”

Sy stem is rustig, vasberade, asof hy soos ’n direkte lyn na Bo het. Teen sy muur pryk die Slag van Bloedrivier.

“Ek glo God het ons in dié land as volk geplaas en ek glo dat hy ons weer as volk sal herstel.”

Oorsprong:Beeld

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.