Tuesday, 11 May 2010

ET-verdagte wou glo skuld beken


2010-05-11 01:26
Susan Cilliers

Ventersdorp

Mnr. Chris Mahlangu was besig om ’n bekentenis oor die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche voor ’n landdros af te lê toe sy regsverteenwoordiger glo “ingebars” en die proses gestop het.

Só beweer landdros Martie le Roux van Klerksdorp in Noordwes in ’n verklaring wat gister in die borgtogaansoek van Mahlangu (27) voorgelees is.

Hy word saam met ’n 15-jarige seun weens die moord op Terre’Blanche aangekla.

Volgens Le Roux was sy op 6 April agter geslote deure besig met ’n bekentenisprosedure. “Hy (Mahlangu) was kalm en het geen opsigtelike uitwendige beserings gehad nie.”

Le Roux het luidens haar verklaring aan Mahlangu verduidelik wat ’n bekentenis is en dat hy op regshulp geregtig is.

Hy het egter aangedring om sonder ’n prokureur te praat. Sy huidige regsverteenwoordiger, mnr. Puna Moroko, het luidens Le Roux se verklaring glo toe in die kantoor “gebars”.

“Ek was oorbluf en verslae oor sy onprofessionele optrede. Hy het my doodgepraat...”

Moroko het glo gesê Mahlangu se familie het hom opdrag gegee om vir hom op te tree en dat hy nie ’n bekentenis gaan aflê nie.

“Hy het toe in ’n swart taal begin praat wat ek nie verstaan nie,” lui Le Roux se verklaring. Mahlangu is hierna weggeneem.

Die ondersoekbeampte, kapt. Tsietsi Manu, kon nie rekord van Mahlangu op die nasionale regi­ster vind op grond van sy geboortedatum wat hy self verskaf het nie.

Mahlangu beweer sy ID-dokument is in ’n brand vernietig toe hy nog saam met sy ma in ’n plakkershut gewoon het. Hy het tans geen ID- of ander identifiserende dokumente nie.

Sy oom, mnr. Isaiah Ngobeni, beweer egter hy is oorspronklik van Zimbabwe.

Manu het gister getuig Mahlangu sal waarskynlik “nooit verhoor” word as hy op borgtog vrygelaat word nie, omdat mense met die grootste gemak tussen Suid-Afrika en Zimbabwe se grense beweeg. Mahlangu het ook geen vaste woonadres nie. Die hof het gister gehoor hy het “nog nooit die binnekant van ’n klaskamer gesien nie”.

Mahlangu het glo vroeër erken indien hy en sy makker die aand van die moord Terre’Blanche se bakkie aan die gang kon kry, sou hulle gevlug het.

Mahlangu beweer as hy nie borgtog kry nie, sal niemand na sy twee jong kinders by sy voormalige minnares omsien nie. Hy sê hy kan net R1 000-borgtog bekostig.

Manu het gister getuig die moord op Terre’Blanche was ’n plaasmoord, een van die voorkeurmisdade in die land, omdat “weerlose mense wreed aangeval word en dikwels nie oorleef nie”.

Manu het gesê Mahlangu kan ook moontlik met staatsgetuies inmeng as hy borgtog kry, omdat hy weet vir watter plaaswerkers hy gesê het hy het Terre’Blanche vermoor. “Sy eie lewe en die openbare orde sal moontlik (weens die emosies rondom die moord) bedreig word.”

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/ETverdagte-wou-glo-skuld-beken-20100511

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.