Thursday, 6 May 2010

‘Hoekom skiet julle?’ ‘Bly stil!’


Mnr. Jan du Toit van Kameeldrift sterk in die waakeenheid van die Steve Biko-hospitaal in Pretoria aan nadat rowers hom in sy bed geskiet het. Foto: Cornél van Heerden

2010-05-06 00:02
Virginia Keppler

‘Hoekom skiet julle my?”

So het mnr. Jan du Toit (80) van Kameeldrift, wes van Pretoria, aan sy twee aanvallers gevra nadat hulle sy kombers oor sy kop getrek en hom in die maag geskiet het.

Dieselfde koeël het Du Toit se regterarm rakelings getref.

Du Toit het gister vanuit sy bed by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria met moeite vertel hoe hy verlede Vrydagoggend in die vroeë oggendure aangeval is.
“Ek was aan die slaap toe ek iets in my kamer voel. Toe sien ek die twee mans, ’n lang een en ’n kort een. Hulle het ’n wapen en een het net so ’n lang mes gehad.

“Ek het dadelik vir hulle gesê ek het nie geld nie en wou toe opstaan om my pepersproei wat op my bedkassie was te gryp om hulle in die gesig te spuit, maar hulle was te vinnig vir my.

“My been was ook te styf, so ek kon nie vinnig beweeg nie,” het Du Toit gesê.

Volgens hom het hy sy kombers opgelig en toe gryp die rowers die kombers en trek dit oor sy kop. “Ek het terugbaklei, want ek het gedink hulle gaan my versmoor, maar hulle het my hande saam met die kombers vasgehou en toe skiet hulle my.

“Ek vra: ‘Hoekom skiet julle my,’ maar hy het net gesê: ‘Bly stil.’”

Du Toit het gesê die rowers het toe sy draagbare radio en selfoon wat op sy bedkassie was gegryp en toe vlug hulle.

“Die bloed het toe uit my maag gestroom. Ek het opgestaan en na my dogter en skoonseun se huis (sowat 50 m van sy woonstel) geloop en hulle het met my hospitaal toe gejaag.”

Hy het gesê sy wond is nog baie seer, “maar die dokter meen ek sal volkome herstel”.

Volgens hom het die rowers sy skuifdeur oopgedwing en sy kamerdeur, wat gesluit was, oopgeskop.

Sowat ’n jaar gelede is Du Toit ook deur rowers in sy bed oorval en beroof. “Hulle het my darem nie seergemaak nie.

“Ek het net stil gelê en toe dra hulle alles uit. Soos dit nou in die land gaan, weet ek nie. Ek is al oud, maar wat van my kleinkinders en agterkleinkinders?” wou hy weet.

Hy het gesê hy is bly dat die kommando's (die Kommandokorps wat privaat bedryf word) in hul omgewing weer op die been gebring word.

“Verder is ek gelukkig, want my kinders kom kuier darem elke dag vir my,” het hy gesê.

Me. Hettie Jordaan van die landelike beveiligingsektor het gesê Du Toit se beskrywing van sy aanvallers stem ooreen met dié van twee misdadigers wat die gemeenskap al die afgelope sewe jaar teiken.

Hulle het nou R10 000 uitgeloof vir inligting wat tot hul suksesvolle arrestasie en vervolging sal lei. Volgens insp. Louis de Bruin, polisiewoordvoerder, is niemand nog gearresteer nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Hoekom-skiet-julle-Bly-stil-20100505

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.