Tuesday, 11 May 2010

Mahlangu wou E.T. se geslagsdeel glo afsny

2010-05-11 00:36
Susan Cilliers

Ventersdorp - Een van mnr. Eugène Terre’Blanche se vermeende moordenaars het die AWB-leier se broek afgetrek omdat hy sy geslagsdeel wou afsny, maar het op die laaste nippertjie daarteen besluit.

Mnr. Chris Mahlangu (27) het na bewering ook ná die moord by werkers op ’n naburige plaas gaan “spog” dat hy nou hul “baas” is, omdat hy en sy makker Terre’Blanche vermoor het. Hy het glo toe, steeds geklee in sy bebloede moordklere, Terre’Blanche se gesteelde selfoon aan dié werkers gewys om sy bewering te staaf.

Dié getuienis is gister in die Ventersdorp-landdroshof gehoor tydens Mahlangu se borgtogaansoek. Die aansoek sal op 19 Mei voortgaan.

Die staat beweer Mahlangu is moontlik ’n Zimbabwiër, dat sy regte naam Chris Rhangani is en hy ’n vlugrisiko is.

Die hof het gehoor Mahlangu en sy 15-jarige medebeskuldigde, wat by ’n plek van veiligheid aangehou word, het minute voor die moord op 3 April by Terre’Blanche se plaasstal beplan om hom te vermoor, omdat hy hulle glo twee maande se salaris geskuld het. Die twee en Terre’Blanche het glo ook gestry, omdat Terre’Blanche beweer het drie van sy 97 beeste is weg.

Die vermeende moordenaars, wat as beeswagters vir Terre’Blanche gewerk het en elk sowat R600 per maand verdien het, het luidens hofstukke die dag van die moord na Terre’Blanche se huis op die dorp gegaan.

Mahlangu het vir sy vrou, Martie, gevra hy wil geld leen. Sy het Terre’Blanche gebel, maar hy het glo nee gesê en dat hy ’n reëling met die werkers het om hulle ná die Paasnaweek te betaal.

Terre’Blanche het glo kort hierna opgedaag en die twee werkers na die plaas geneem. Op pad daarheen het hy by ’n drankwinkel stilgehou waar hy vir Mahlangu 18 Savannas en vir die minderjarige 12 gekoop het.

Vir homself het hy ’n bottel Smirnoff-vodka gekoop. Die twee werkers het hul drank op ’n buurplaas geniet voordat hulle besluit het om Terre’Blanche te vermoor.

“Albei die beskuldigdes het gesê hy (Terre’Blanche) het gelê en slaap toe hy aangeval is,” het die ondersoekbeampte, kapt. Tsietsi Manu, gister getuig.

“Die moord was brutaal.”

Terre’Blanche se beserings het luidens hofstukke onder meer ingesluit ’n gebreekte skedel, breinbloeding, gebreekte gesigsbeendere, ’n gebreekte borsbeen en ribbes, ’n geskeurde tong en ’n geskeurde lewer.

Die verhoor sal na verwagting op 13 September begin.

- Die Burger

Oorsprong:Die Burger
http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Mahlangu-wou-ET-se-geslagsdeel-glo-afsny-20100511

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.