Saturday, 8 May 2010

Polisie gryp regses in Pta

2010-05-06 22:51
Lizel Steenkamp

Kaapstad. – Die polisie het ’n groep verregses in Pretoria in hegtenis geneem wat plofstof “in townships wou plant”.

Mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het gister tydens ’n inligtingsessie by die parlement gesê verregse groepe “met ’n neo-Nazi-ideologie” is landwyd bedrywig.

Cele het agterna aan Beeld gesê verskeie verdagtes wat “verskillende dinge beplan het” is in Gauteng, Limpopo en die Wes-Kaap gearresteer.

“Ons het nog een gisteraand (eergisteraand) in Polokwane gearresteer. Ons is besig om hulle aan te keer. Hulle behoort almal aan verskillende verregse groepe,” het Cele gesê.

Mthethwa het gister uit die bloute aangekondig die polisie het op 12 April op ’n “arsenaal van vernietiging” in Pretoria afgekom.

“Van die mense wat in Pretoria gearresteer is, het wapens, wapenonderdele en ammunisie vervaardig. Hulle het ’n arsenaal van vernietiging gehad en beplan om plofstof in townships te plant,” het hy gesê.

Dié verdagtes het al in die hof verskyn, maar Mthethwa wou nie verder uitwei nie.

Hy het ook verwys na verdagtes wat in hegtenis geneem is weens die skending van mnr. Norman Mashabane, ’n voormalige ambassadeur in Indonesië, se graf in Limpopo.

“Hulle het nou begin sing (verklarings aflê) en dis die lied van die verregses met hul neo-Nazi-ideologie.”

Mthethwa het gesê dié mense bedreig nie staatsveiligheid nie, maar dat die polisie hul “ore en oë op die grond hou”.

“Hulle hoop om ’n bedreiging te wees en hulle wil graag glo hulle is groot, maar hulle is liggewig.

“Niemand gaan die WB 2010 ontwrig nie, ons monitor álles,” het Mthethwa volgehou.

Die ANC in Gauteng het intussen gister sy lede teen regses gewaarsku wat volgens hulle die land wil terugneem na die apartheidsjare, berig Cobus Coetzee.

Mnr. Paul Mashatile, ANC-leier in die provinsie, het lede by die party se elfde provinsiale konferensie in Pretoria gewaarsku daar is sommiges wat die moord op mnr. Eugène Terre’Blanche, AWB-leier, wil gebruik om die land weer in ’n “era van rassekonflik” te dompel.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Polisie-gryp-regses-in-Pta-20100506

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.