Wednesday, 26 May 2010

PRAAG-toer na Europa skop af in Frankfurt


Dinsdag, 25 Mei 2010
Dan Roodt

Die PRAAG-toer met as tema "Volksmoord onder die dekmantel van misdaad" het vanmôre afgeskop met ons aankoms in Frankfurt. Ek sit hier in 'n kafee in die middel van die stad en skryf gou 'n paar woorde oor wat lesers oor die volgende paar dae te wagte kan wees.

Vanaand vlieg ons na Stockholm waar ons met politieke aktiviste en politieke partye gaan gesels. Ons is gewapen met 'n kort Powerpoint-aanbieding, 25 eksemplare van my boek The Scourge of the ANC en 'n CD met enkele TV-programme oor plaasmoorde en geweld daarop.

Hoewel al ons afsprake oor die volgende paar dae nog nie bevestig is nie, lyk dit belowend. Ten minste een Vlaamse en een Nederlandse politikus gaan ons te woord staan en Donderdagaand het ons ook 'n ete-afspraak met die Amerikaner Jared Taylor wat ons saak in die VSA sover moontlik probeer bevorder.

So pas was ons by die Frankfurtse Persklub se gebou in en het nou die name van 'n paar TV-joernaliste wat ons moontlik te woord sal staan. Een sal ons verklaring na sy kollegas aanstuur.

Reeds met ons aankoms by die lughawe het ons spontaan met 'n Tsjeg en 'n Kroasiër wat hier in Duitsland woon en vir Lufthansa werk aan die gesels geraak oor die politieke situasie in Suid-Afrika. Volgens hulle is daar min Duitsers wat belangstel om die Wêreldsokkerbeker by te woon "aangesien hulle nie doodgemaak wil word nie".

Dis eintlik ongelooflik, maar die nuus oor Suid-Afrika het reëlreg verander en dis nou ons wat die slagoffers is, nie meer die swartes nie. Die internasionale pers het reeds die weg voorberei op ons boodskap en al wat dit nou gaan verg, is om aan mense die onreg en ekstreme aard van die situasie oor te dra waarna potensieel miljoene Europeërs ons in ons vryheidstryd sal steun, veel meer as wat ooit die ANC in die verlede gesteun het.

Oorsprong:Praag

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.