Wednesday, 19 May 2010

Terreur-verdagte sê hy’s geslaan

2010-05-18 22:14
Marietie Louw-Carstens

’n Man van Phalaborwa wat van terrorisme beskuldig word, beweer die polisie het hom tydens ondervraging byna versmoor.

Hy het ingegee en onder dwang vals verklarings afgelê.

Mnr. George Kiratzidis (21) sal vandag hoor of hy op borgtog vrygelaat word.

Hy verskyn vandag weer saam met mnre. Marthinus Christo­pher Vorster (19) en Ruan Rufus Louw (22), wat ook beskuldig word van onder meer terrorisme en die onwettige besit van plofstof, vuurwapens en ammunisie.

Luidens die klagstaat wou die mans glo toeslaan op townships en het ook glo aanvalle by regeringskantore in Limpopo beplan.

Die landdroshof in die dorp het Vrydag gehoor hulle het opgetree weens mnr. Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, se gewraakte uitlatings verlede maand.

Die mans word ook beskuldig van die skending van mnr. Norman Mashabane, voormalige ambassadeur in Indonesië, se graf in Phalaborwa.

Kiratzidis het Vrydag, tydens die begin van sy borgtogaansoek, gesê polisielede van die eenheid teen ernstige geweldmisdaad in Polokwane het hom geslaan.

Die polisie het op 19 April by sy huis in Phalaborwa op hom toegeslaan, maar hy het weggehardloop.

Hy het homself op 21 April aan die polisie oorgegee.

Kiratzidis is in die Modjadjiskloof (Duiwelskloof)-polisiekantoor aangehou.

Hy beweer hy is ná sy inhegtenisneming na ’n lapa buite Polokwane geneem waar sy voete aan ’n houtbankie geboei is.

’n Stuk rubber is oor sy gesig getrek en hy het telkemale byna sy bewussyn verloor.

Hy het toe ingegee en verklarings afgelê. Kiratzidis sê die verklarings is onder dwang gedoen en is leuens.

Kiratzidis het ook Griekse burgerskap.

Vorster, wat op 21 April in Phalaborwa in hegtenis geneem is, beweer ook die polisie het hom aangerand.

Hy is by die Gravelotte-polisiekantoor aangehou. Hy beweer hy is geklap en gewurg.

Luidens ’n sielkundige verslag, wat by die hof ingedien is, ly Vorster aan angs, depressie en posttraumatiese stres.

Mnr. André Stroh (21) is Vrydag op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het alle aanklagte, behalwe dié van die onwettige besit van ammunisie, teen hom teruggetrek.

Die hof het gehoor Stroh is in die Polokwane-polisieselle gesodomiseer en gebruik nou antiretrovirale middels.

Stroh moet op 25 Junie saam met mnr. Francois Vos (36) weer in die hof verskyn.

Vos is vroeër op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Die saak teen mnre. Albertus Kruger (22) en Hendrik Venter (21) is verlede week teruggetrek.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Terreurverdagte-s%C3%AA-hys-geslaan-20100518

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.