Saturday, 15 May 2010

Weermagopleiding vir Malema en sy bestuur laat die wenkbroue lig

2010-05-15 00:33
Erika Gibson

Pretoria - Die uitnodiging om twee weke militêre diensplig aan mnr. Julius Malema, president van die ANC Jeugliga (ANCYL), en sy topbestuur te gee, skep die gevaar dat die weermag by partypolitiek betrek word.

“Die weermag durf nie ’n politieke wapen word nie. Dit mag nóg minder deur Malema en die jeugliga vir hul eie politieke doelwitte gekaap word,” het mnr. David Maynier, die DA se verdedigingswoordvoerder, gister in reaksie gesê.

Me. Lindiwe Sisulu, minister van verdediging en militêre veterane, het Malema en die liga vir twee weke militêre opleiding in September genooi om eerstehandse ervaring op te doen oor haar plan om ’n nuwe nasionale dienspligstelsel te implementeer.

Sy is tans besig om die stelsel onder jeuggroeperings te bemark en het gister ook die Young Communist League ontmoet.

Sy beoog om binnekort wetgewing oor die stelsel ter tafel te lê, terwyl die meesterplan vir die implementering daarvan tans afgerond word, het mnr. Ndivhuwo Mabaya, haar woordvoerder, in ’n verklaring gesê.

Sisulu het planne vir haar program om jeugvaardighede te ontwikkel – oftewel diensplig – op 5 Mei in haar begrotingstoespraak bekend gemaak. Dit is op werklose jeugdiges gemik.

Malema het in reaksie op Sisulu se planne gesê die ANC-jeugliga verwelkom die konsep.

“Ek hoop die diensplig sal jong mense ook meer leer omtrent hul vlag, nasionale simbole en ons ryk geskiedenis.

“Die jeugliga is gereed om al sy lede te mobiliseer om die stelsel te ondersteun,” het Malema gesê.

Mnr. Harald Pakendorf, ’n politieke ontleder, het gister gesê die uitnodiging om militêre opleiding aan Malema te verskaf, “laat ’n mens se wenkbroue lig”.

“Wat gaan dié mense – bekend vir hul ongedissiplineerde uitlatings – by twee weke se opleiding kan baat?

“Word dié uitnodiging aan alle jeugorganisasies van politieke par­tye en organisasies gerig?

“Die weermag moet ’n diens aan die staat lewer – ongeag watter politieke party dit verteenwoordig – en daar móét dus afstand tussen die weermag en die politiek gehandhaaf word,” het Pakendorf gesê.

Mnr. Pieter Groenewald van die VF+ het gesê Malema is bekend daarvoor dat hy graag “Skiet die Boere” sing.

“Die vraag is of hy nou opgelei gaan word om dit te kan doen. Gaan die minister ook die VF+-jeugkomitee se dagbestuur aanvaar vir militêre opleiding?

“Die besluit bewys dat die minister en die ANC heeltemal uit voeling is met die onsekerheid en bekommernisse van wittes en skep verdere polarisasie.”

- Die Burger

Oorsprong:Beeld
http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Weermagopleiding-vir-Malema-en-sy-bestuur-laat-die-wenkbroue-lig-20100514

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.