Sunday, 6 June 2010

Slagting van vroue beskryf


Mej. Helen Lotter (57). Sy en haar ma, mev. Alice Lotter, is verlede jaar in hul huis oorval en vermink.Foto: verskaf

2010-06-02 00:41
Corné van Zyl

WELKOM. – “Mej. Helen Lotter was so erg beseer dat ek twee stukke vet so groot soos my hand langs haar op die grond gekry het waar sy bebloed in die kombuis gelê het.”

Só het ao. Frederik Meintjies, ’n fotograaf vir die plaaslike misdaadrekordsentrum (PKRS), gister in die verhoor oor die wrede aanvalle op mev. Alice Lotter (78) en haar dogter mej. Helen Lotter (57) getuig.

Die twee vroue is in Maart 2009 dood nadat hulle in hul huis op die dorp oorval en grusaam vermink is. Geharde polisiemanne en paramedici het die slagting beskryf as die ergste wat hulle nog gesien het.

Meintjies het getuig dat ’n erg beseerde mev. Lotter in baie pyn op die sitkamermat gelê het toe hy daar aankom.

“Mev. Lotter was by haar volle positiewe toe sy aan my en kapt. Koos Venter gesê het dit is Joseph wat in die tuin werk wat hulle seergemaak het. Ons het haar op haar sy gedraai omdat sy gekla het dat sy versmoor wanneer sy op haar rug lê.”

Volgens Meintjies het mev. Lotter aan hom vertel wat gebeur het. “Ek het by haar op die mat gaan sit om haar te vertroos. Sy het vir ons vertel sy was in die bad toe haar dogter roep om te sê sy het geluide buite by die bakkie gehoor.”

Mev. Lotter het aangetrek en saam met haar dogter na buite gegaan toe hulle ’n onbekende getal mense by die bakkie gesien het. Mev. Lotter het vir hulle geskreeu dat hulle die polisie gaan bel.

“Sy en mej. Lotter het in die huis teruggegaan en die deure gesluit toe hulle hoor hoe ’n venster breek. Dit was toe dat mev. Lotter gesien het dit was Joseph die tuinier.”

Volgens Meintjies het mev. Lotter gapende wonde aan haar hande, arms en nek gehad. Mej. Lotter, wat in die kombuis gelê het, kon nie praat nie.

“Sy het gereageer deur ons hande te druk wanneer ons haar iets gevra het.”

Mev. Antoinette Horn, dogter en suster van die Lotter-vroue, het dié verhoor bygewoon.

Die twee beskuldigdes in dié verhoor is mnr. Joseph Hlongwane, die Lotters se tuinier, en mnr. Joseph Khumalo.

Hlongwane se vriendin, mej. Rebecca Bochedi, het gister getuig dat Hlongwane op die aand van die moord net ná 23:00 vol bloed by die huis aangekom het.

“Ek was te bang om hom te vra hoekom hy so vol bloed was,” het sy gesê sonder om een keer na die beskuldigdes te kyk. Sy het ook getuig dat sy hom gehelp het om die bloed van sy hande te was voordat sy sy bebloede broek in ’n plastieksak gesit het. Volgens Bochedi het Hlongwane weggehardloop toe die polisie omstreeks 24:00 by hul huis stop.

“Ek het nie vir die polisie gesê Hlongwane was kort voor hul aankoms nog by die huis nie. Ek het ook nie vir die polisie die sak gegee met die bebloede klere nie.”

Sy het saam met die twee beskuldigdes in Hlongwane se huis in Allanridge gewoon. Sy het ook in die verhoor die klere in die polisie-foto’s as Hlongwane se klere uitgewys.

Dié twee beskuldigdes word benewens die moord en roof op die Lotter-vroue aangekla van die moord op mnr. Bongani Landu tussen 2 en 3 November 2007. Albei word met DNS met sy moord verbind.

Hy is in ’n stuk veld in die dorp met ’n gebreekte bierbottel doodgesteek.

Dié verhoor duur voort.

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.