Sunday, 7 February 2010

‘Dit was net bloed’ in Vaal-aanval

Me. Sophie Jonas, ’n plaaswerker, was die bloedkolle op die mat uit. Foto: nicolize van der walt

2010-01-26 01:50

Nicolize van der Walt

Stilfontein. – ’n Vrou is gisteroggend net ná middernag in haar huis op die oewer van die Vaalrivier met ’n panga aangeval en vir dood gelos.

Mev. Theresa Eksteen (51) was teen druktyd in ’n stabiele, maar ernstige toestand.

Sy word in die hoësorgeenheid van ’n plaaslike private hospitaal verpleeg.

Eksteen is gister geopereer en penne is onder meer in haar beseerde hand geplaas.

Volgens haar familie ly sy steeds aan erge skok en verduur sy heelwat pyn.

“Ons vermoed dit was ’n wraakaanval deur ’n werknemer wat in Desember afgedank is. Hy het haar wang tot op die been van die kaak oopgeslaan, sy is oor die kop geslaan, haar hande is stukkend gekap en haar pinkie byna af.

“My kind het ongelooflik baie bloed verloor.

“Iemand is in hegtenis geneem, maar ons weet nog nie wie dit is nie,” het mev. Hilda Hodges, Eksteen se ma wat ’n paar meter verder op dieselfde rivierhoewe bly, gister gesê.

“Sy het hier aan ons deur geklop. Sy kon nie praat nie en kon skaars staan.

“Dit was net bloed wat gestroom het,” het Hodges, wat self agt jaar gelede die slagoffer van ’n plaasaanval in die Magaliesburg-omgewing was, gesê.

Hodges se man, Norman, het by die bure gaan hulp soek.

“In ’n oogwink was hier boere wat ons kom bystaan het.

“Hulle het die polisie en ambulans gereël,” het mev. Hodges gesê.

Volgens haar man het die polisie bevestig die wapen wat in die aanval gebruik is, is in die verdagte se besit gekry.

In Eksteen se huis was die bed, beddegoed, gordyne en matte in haar kamer en in ’n groot deel van die kombuis deurtrek van bloed. “Dis soos sy na die voordeur toe gestrompel het om hulp te gaan soek. Dis wreed. Maar die Here is goed vir ons. Ons kry baie krag van Bo. Sy sal orraait wees...”

By Beeld se besoek het van die bure en werkers ingespring om die huis op te ruim en die bloed af te was. Eksteen se man, Joe, werk glo in Zimbabwe waar hulle selfoontorings oprig en sal na verwagting vanaand by die huis wees om sy vrou by te staan. Die egpaar het twee volwasse kinders en een kleinkind.

Kapt. Msisithela Selima, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het bevestig ’n verdagte is in hegtenis geneem. “Die ondersoek duur voort. Dit lyk of die verdagte vandag (gister) sekere uitwysings aan die polisie wil doen. Dit is onduidelik wat alles geroof is.”

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/81c07dd929c6474298c7c5b3321455c5/26-01-2010-01-50/%E2%80%98Dit_was_net_bloed%E2%80%99_in_Vaal-aanval_

Monday, 8 February 2010

Ma (79) stap 4 km vir hulp

2010-02-08 00:39

Carla van Niekerk

’n Bejaarde ma moes gister sowat 4 km ver stap om te gaan hulp soek nadat sy gehoor het hoe gewapende rowers haar seun op hul plaaswerf doodskiet.

Mnr. Fanie Venter (60), ’n oujongkêrel wat saam met me. Hannetjie Venter (79), sy ma, op hul plaas sowat 25 km van Bethal af gebly het, is gister omstreeks 08:30 deur rowers buite sy huis oorval.

Mnr. Sakkie Pretorius, ’n jare lange familievriend, sê Venter en sy ma was op verskillende plekke op die werf besig toe mev. Venter die booswigte sien.

“Daar was blykbaar drie van hulle. Sy het vir hom (Venter) geskree, maar hy het haar seker nie gehoor nie. Die een het haar mond toegedruk.”

Een het Venter, wat altyd ’n wapen aan hom dra vir veiligheid, onkant betrap en hom in die kop geskiet.

Mev. Venter het blykbaar nie gesien hoe haar seun geskiet word nie, maar die skoot gehoor.

“Toe sy daar kom, sê een vir haar hy slaap net. Sy kon sien hy is dood met al die bloed.”

Pretorius vertel die rowers het mev. Venter toe met ’n wapen teen haar kop gedwing om die kluis vir hulle oop te sluit.

“Sy het vir hulle gevra: ‘Hoekom skiet julle my nie ook nie?’ ”

Die rowers het die haelgeweer in die kluis gevat, geld en die ma se handsak, sê Pretorius.

Mnr. Francois van Dijk, ’n buurman wat grond by Venter huur, vertel die rowers het die selfone ook gesteel. Mev. Venter kan nie motor bestuur nie het toe sowat 4 km ver saam met hul hond tot by Van Dijk se huis gestap om hulp te ontbied.

“Sy was so 10:00 hier. Sy het al die pad gestap. Dit is baie traumaties vir haar.”

Van Dijk het dadelik die polisie in kennis gestel en die bure gevra om vir die rowers uit te kyk. “Maar dit was te laat. Hulle was met ’n voertuig daar en al lankal weg.”

Van Dijk sê dit blyk dat die rowers nie enigiets anders uit die huis gesteel het nie. “Die huis was nie eens omgekrap of beskadig nie. Dit lyk of hulle daar was vir wapens.”

Volgens Pretorius het die rowers mev. Venter “rondgeruk”, maar sy is nie beseer nie.

Hy meen die booswigte het toegang tot die omheinde erf verkry deur “die slotte en kettings te knip”.

Venter laat sy ma, drie broers en ’n suster, wat in Australië bly, agter.

“Hy sou jou altyd help waar hy kan. Ek het hom goed geken. Ons was in 1980 reeds vriende,” sê Pretorius.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/6eb9449f408148e0877203aed1a75406/08-02-2010-12-39/Ma_(79)_stap_4_km_vir_hulp

4 mans verwoes my gesin in ’n sekonde

Dr. Duncan Prinsloo (regs) en mnr. Herman de Jager bring hulde aan hul familielede wat in twee plaasaanvalle vermoor is. Foto: lisa hnatowicz

2010-02-07 23:33

Hilda Fourie

“’n Wonderlike gesin is in een sekonde verwoes toe vier mans in ons kamer ingebars en sonder om ’n woord te sê, my vrou langs my doodgeskiet het.”

Só het ’n emosionele dr. Duncan Prinsloo eergister by Fort Schanskop in Pretoria tydens ’n gedenkdiens vir slagoffers van plaasaanvalle vertel van die nag toe hy en sy vrou deel van Suid-Afrika se misdaadstatistieke geword het.

Rowers het hulle op hul plaas by Vaalbank buite Bronkhorstspruit aangeval.

Dieselfde koeël wat sy vrou, Laetitia (54), se dood veroorsaak het, het Prinsloo (62) in die rug getref en hom verlam gelaat.

Mev. Prinsloo is een van sowat 2 000 mense wat sedert 1994 in plaasaanvalle dood is.

“Ek loof God dat ek vandag voor julle kan staan, al is dit wankelrig,” het Prinsloo, wat sukkel-sukkel met ’n kierie oor die weg kom, gesê.

“As dit nie was vir die genade van die Here wat jou moed gee om voort te gaan nie, sou ’n mens maklik ná só ’n voorval gaan lê.”

Volgens Prinsloo strek die implikasies van wat met hom en sy gesin gebeur het veel verder as dat hy sukkel om te loop.

Benewens die emosionele skade wat sy jongste dogter opgedoen het toe sy dié nag haar ma dood in haar bed en haar pa verlam op die vloer gekry het, is hy ook nie meer die hardwerkende, gesonde veearts met ’n praktyk wat veral boere bedien het nie.

Sowat 45 mense wat op sy plaas woon en in sy praktyk werk, word ook deur moontlike werkloosheid in die gesig gestaar omdat hy nie meer sy werk ten volle kan doen nie.

Prinsloo beoog om sy plaas te verkoop omdat hy dit nie meer kan behartig nie.

Verder leef Prinsloo in sy huis op die plaas wat hy wil verkoop soos ’n gevangene omdat dit soos ’n tronk lyk.

“As jy in die nag buite toe gaan, is die vrees in jou. Jy kan nie deur slaap nie, want as jy ’n geluid hoor, is jy wakker.”

Prinsloo het gesê as hy ooit weer ’n onbekende man in sy huis kry wat hom bedreig, sal hy skiet. “Daar word van my verwag om daardie tyd van die oggend vir ’n inbreker te vra wat hy in my huis soek.

“Die antwoord wat ek sal kry, is hoogs waarskynlik ’n koeël,” het Prinsloo gesê.

Mnr. Herman de Jager, wie se pa, Piet (65), in September 2003 op sy plaas Laatsgevonden in Levubu doodgeskiet is, het by dieselfde geleentheid gesê hy hoop dat hy eendag die mans wat sy pa vermoor het, kan vergewe sodat hy ook vergewe kan word vir die haat wat hy in hom dra.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/43faa38b8f51468886eeb545af21818a/07-02-2010-11-33/%E2%80%984_mans_verwoes_my_gesin_in_%E2%80%99n_sekonde

Boere sonder roere kan nie, sê TLU SA

2010-02-08 00:39

’n Vuurwapen is vir ’n plaasboer soos ’n stuk gereedskap waarsonder jy nie kan boer nie.

Só het mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, eergister tydens ’n gedenkdiens vir slagoffers van plaasaanvalle by Fort Schanskop in Pretoria gesê.

Sowat 50 mense het dié geleentheid bygewoon.

In ’n brief gerig aan pres. Jacob Zuma het TLU SA gesê die ideaal van ’n vuurwapenvrye land is in kontras met die fisieke en sielkundige risiko’s wat deel van die daaglikse lewe in Suid-Afrika geword het.

“As politici en senior beamptes die polisie opdrag gee om vuurwapens te gebruik om misdaad te bekamp of te voorkom dat hulle slagoffers van misdaad word, moet dieselfde beginsel geld vir wetsgehoorsame burgers wat nie die luuksheid het om deur polisielede beskerm te word nie,” lui die brief.

“Hulle (die wetsgehoorsame burgers) het geen keuse nie as om verantwoordelikheid te neem vir die beskerming van hul lewens en eiendom en daarmee saam die polisie te help sonder enige erkenning of beloning.”

Luidens die brief is die feit dat die hoë vlakke van wraaksug “sonder enige vooraf waarskuwing” op slagoffers gerig is, kommerwekkend.

Mnr. Henk van de Graaf, TLU SA se assistent-hoofbestuurder van kommunikasie, het tydens dieselfde geleentheid ’n oproep op boere gedoen om na hulself te kyk.

“Sorg dat ’n wapen gelisensieer is, dat u hom by u het en dat hy gelaai is,” het Van de Graaf gesê.

“Moenie u wapen in dié tyd ingee nie.

“Doen wat u binne die wet moet doen sodat ons nie die (misdaad)statistieke opjaag nie.”

TLU SA het ’n beroep op Zuma gedoen om die verhouding tussen die polisie in landelike gebiede en die boere te ondersoek.

Volgens TLU SA bestee die meeste polisie in landelike gebiede meer tyd en energie om plaasbuurtwagte te monitor as om die misdadigers wat die probleme veroorsaak, te vang.

TLU SA Jongboere het in ’n veiligheidsverklaring van die regering en die polisie geëis “om ernstig te besin oor hul grondwetlike verantwoordelikhede en die herhaalde beloftes om lewe en eiendom te beskerm”.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/f087291a0668458d936d4326bc470d35/08-02-2010-12-39/Boere_sonder_roere_kan_nie,_s%C3%AA_TLU_SA

Boer sterf langs sy vrou in bed ná 2 skote

Mnr. Koos van Staden (69) en sy vrou, Henriette (66). Mnr. Van Staden is eergisteraand koelbloedig op sy plaas in die Hoedspruit-distrik in Limpopo doodgeskiet.

2010-02-05 21:51

Marietie Louw-Carstens

Hoedspruit - 'n Boer van Hoedspruit in Limpopo is deur sy kamervenster koelbloedig in die nek geskiet terwyl hy in die bed gelê en TV kyk het.

Mnr. Koos van Staden (69) het hom langs sy vrou, Henriette (66), doodgebloei. Hy sou in April 70 geword het.

Die onbekende aantal aanvallers het niks gesteel nie.

Mev. Van Staden het met haar pistool op die aanvallers teruggeskiet, maar hulle het weggekom.

“Ek het aan hulle gesê: ‘Wat wil julle nog hê? ...hy is nou besig om dood te gaan’,” het ’n steeds geskokte mev. Van Staden gister aan Beeld gesê.

Die aanvallers het eergisteraand by die egpaar se huis op die Glencoe Sugar Estates buite Hoedspruit ingebreek. Hulle het by ’n kombuisvenster ingekom.

Mnr. Braam van der Merwe, voorsitter van Agri SA in die Hoedspruit-distrik, het gesê die aanvallers het hulle in ’n veiligheidshek voor die hoofslaapkamer vasgeloop. Hulle het om die huis gestap en die hoofslaapkamervenster met ’n graaf stukkend geslaan.

Mev. Van Staden het gesê sy en haar man was ná 21:00 in hul kamer. Hulle het TV gekyk voordat hulle sou slaap. Mev. Van Staden het gesê haar man was effens hardhorend en die TV se klank was baie hard. Hulle het nie gehoor toe die aanvallers by die kombuis inbreek nie.

“Ons het skielik net die hande gesien wat by die gordyne verbysteek. En toe die pistool en toe die een se gesig met ’n klapmus op.”

Die aanvallers het twee skote geskiet. Mnr. Van Staden is in die nek getref.

“My pistool was by my en ek het teruggeskiet op hulle, maar dit was te laat. My man het iets aan my gesê, maar ek kan nie onthou wat nie.”

Mev. Van Staden het gesê die aanvallers het nie eens haar handsak met haar beursie in wat in die kombuis was, gevat nie.

Mev. Wendy van Staden, die egpaar se skoondogter, het gesê hulle het “nooit, nooit gedink so iets sal gebeur nie”.

Supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê spoorsnyers en polisiehonde het gister na die aanvallers gesoek.

Teen druktyd is niemand nog weens die moord in hegtenis geneem nie.

–Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/022320bf95fd42acbb2e6e7892f85de9/05-02-2010-09-51/Boer_sterf_langs_sy_vrou_in_bed_n%C3%A1_2_skote_

Sunday, 7 February 2010

Afrikaner boeren in de steek gelaten


Zuid-Afrika Jonge zwarte mannen martelen en vermoorden ongeveer honderd blanke boeren per jaar

In Zuid-Afrika worden gemiddeld twee boeren per week vermoord. Boerenorganisatie Agri SA luidt de noodklok. "Een veiligheidsplan voor het platteland is er wel, maar dat werkt niet."

In het plattelandsdorpje Senekal verschijnen vandaag Petrus Ndaba (29) en zijn vermoedelijke handlanger Pule Jacob Mpanyane (22) voor de rechter. Ndaba wordt verdacht van de brute moord op zijn voormalige werkgevers, het bejaarde boerenechtpaar Koos en Retha van Zyl. Hij zou beiden in de slaapkamer hebben vermoord met hun eigen hagelgeweer, nadat hij de vrouw eerst had toegetakeld met een vleeshaak.

Blanke boerengezinnen en burgers die boerderijtjes bewonen op het platteland, worden al jaren geteisterd door gewelddadige overvallen. Boerenorganisatie Agri SA (die pakweg 90 procent van de 45.000 commerciële blanke boeren vertegenwoordigt) gaat uit van 750 tot 800 ’plaasaanvalle’ per jaar, waarbij ongeveer honderd dodelijke slachtoffers vallen.

Sommige Afrikaner groeperingen spreken van ’blanke genocide’, maar zo wil Agri SA het niet noemen. Boeren en buitenlui zijn vooral makkelijke doelwitten, aldus André Botha, hoofd veiligheid van de organisatie. "Boeren wonen afgelegen en er zijn meestal vuurwapens, geld en auto’s te halen. Overvallers weten bovendien dat het op het uitgestrekte platteland lang duurt voordat de politie ter plaatse is."

En de kans dat ze gepakt worden, is klein. De Unisa-universiteit in Pretoria deed in 2008 onderzoek onder 37 veroordeelde misdadigers. Die bleken vóór hun aanhouding per persoon gemiddeld 105 geweldsmisdrijven te hebben gepleegd. Politiestatistieken wijzen uit dat van alle gerapporteerde misdaden maar twaalf procent eindigt met de veroordeling van de dader.

Unisa-criminoloog Dawie Swart noemt het speurwerk van de politie ’doorgaans pathetisch’. "Met het aantreden van de ANC-regering zijn met voorrang onervaren zwarte mensen benoemd op politieposten. Daarbij is veel deskundigheid verloren gegaan", stelt hij.

In de zaak-Van Zyl is overigens wél accuraat gereageerd. De verdachten werden korte tijd later aangehouden in hun vluchtauto, de Chevrolet van de dochter van het echtpaar.

Voor 1994 werkte de politie op het platteland samen met legercommando’s, die patrouilleerden om misdaad te verkomen. Toen het ANC aan de macht kwam, werd die samenwerking met het leger afgeschaft. Om het vacuüm op te vullen, ontwikkelde Agri SA samen met de regering een alternatief. Het platteland werd opgedeeld in sectoren en de politie zou in elke sector worden bijgestaan door patrouillerende reservisten. Deze burgers (veelal boeren) kregen een verkorte militaire opleiding en dezelfde bevoegdheden als de politie.

Dit Veiligheidsplan voor het Platteland kwam in 1999 onder leiding van Nelson Mandela tot stand. "Die veiligheidsstructuur is in theorie uitstekend, maar in de praktijk functioneert het op veel plekken niet", stelt Botha.

Het grootste probleem is volgens hem dat er te veel politiemensen zijn die hun werk niet doen, en daar nooit op worden afgerekend. De rotte appels worden niet ontslagen. Dat tast het hele systeem aan. Agri SA probeert dit al twee jaar aan te kaarten bij het Ministerie van Politie, maar krijgt tot dusver geen reactie.

Botha: "Boeren krijgen daardoor het gevoel dat ze gemarginaliseerd worden, dat er geen aandacht is voor hun onveilige situatie. Terwijl commerciële boeren juist de spil zijn van het platteland. Als zij verdwijnen, stort de hele plattelandsontwikkeling in. De commerciële boer staat tussen een Zuid-Afrika met toekomst, en een land dat afglijdt richting Zimbabwe."

In Senekal wordt het vermoorde boerenechtpaar betreurd. Ook door medewerker April Modibedi. "We hebben lang samengewerkt. Hij was een goede man. Als ik een schaap kwijt was, hielp hij mij zoeken", zo citeerde het dagblad Beeld hem tijdens de begrafenis.

Oorsprong:Trouw.nl
http://www.trouw.nl/nieuws/wereld/article2976849.ece/Afrikaner_boeren_in_de_steek_gelaten_.html

Sunday, 31 January 2010

Anatomie van 'n plaasaanval: Die verhaal van die Boshoffs



Foto 1: Louis & Bella in beter dae voor die aanval

Polisiesaaknommer: CAS 15 / 7 / 2009 (Koppies)
Streekshofsaaknommer: SHK 15 / 09 (D M Mosese en 2)

Slagoffers: Louis Jacobus Boshoff en Elizabeth Susanna Boshoff

Beskuldigde 1: Daniël Mosese
Beskuldigde 2: Mark Ramatsebe
Beskuldigde 3: Nelson Ramatsebe

Ondersoekbeampte: Chris Moschesane

KORT BESKRYWING VAN GEBEURE VANAF 12 JULIE 2009
Weergawe van Louis Jacobus Boshoff

Ek boer op my plaas Viljoenslaagte tussen Koppies en Kroonstad sedert 1964. Dit is waar my vrou Elsabé en ek in 1978 ons huwelikslewe begin het en waar ons ook ons kinders, Stoffel en Isabél, grootgemaak het. Laasgenoemde twee is natuurlik al uit die huis uit en lei hul eie lewens.

Op Sondagoggend, 12 Julie 2009, het Elsabé en ek die dag begin met die lees van Ps 67: 1-6. Die teks vir die dag is vers 3 “sodat Sy dade oor die wêreld heen bekend mag word, Sy reddende krag onder al die nasies”. Die voorgestelde gebed in Uit die Beek is: “Rus ons vandag toe om werklik ’n verskil in hierdie wêreld te maak”.

Soos gewoonlik gaan maak ek vir ons rooibostee. Daarna stort, ek skeer, trek skoon onderklere en sokkies aan met ’n oorpakbroek en dik wolbaadjie bo-oor. Ek moet die weerstasie gaan lees en die diere versorg.

Teen ongeveer 07:30 stap ek by die agterdeur uit, weerstasieboek in die hand en die vier honde by my. Ek stap teenaan die enjinkamer verby om die hek vir die beeste oop te maak. Drie van die honde jaag die beeste aan maar Bella, die een Pointer, steek vas by die enjinkamer en blaf aanhoudend.

Ek lees die weerstasie, omtrent 50 meter verder en gee vir ‘n siek koei skoon water en meel. Bella blaf onophoudelik en heftig. Ek skree vir haar dat sy moet los, maar sy blaf net erger. Ek stap terug huistoe, weer by die enjinkamer verby. Ek roep Bella om huistoe te kom maar sy gaan net erger tekere. Ek was by die kamer verby, toe ek besluit om om te draai en te gaan kyk waarvoor Bella so blaf. (Vir foto van Louis & Bella in beter dae voor die aanval, sien Foto 1 hierby aangeheg.)

Toe ek omtrent 5 meter van die kamertjie kom, borrel twee manne daar uit. Die voorste een (Beskuldigde 1) met ‘n kous oor die kop - twee groot gate vir die oë en ‘n gat om die mond. Hy rig ‘n .38 special rewolwer op my en met sy linkerwysvinger oor die mond wys hy ek moet stilbly. Ek vra wat hulle soek, maar kry geen antwoord nie. Ek swaai my hande en sê ek is haastig, draai om en stap aan huistoe.

Ek het dadelik besef dit is ‘n plaasaanval en het na my vrou begin roep omdat ek geweet het sy sou gaan stort en die agterdeur waar ek uit is, nie gesluit is nie. Die een met die vuurwapen hardloop by my verby en in die huis in.

Die ander een (Beskuldigde 3) storm my met ’n kettie en met groot ongelyke loodballe skiet hy na my. Ek keer met die weerstasieboek, hardeband A4, vir my gesig en kop. Ek sê vir hom dat as hy my nou sou skiet, ek weet ek gaan na die Modimo toe, maar as ek hom sou doodmaak, gaan hy hel toe.


Foto 2: Louis in ISE

Ek merk uit die hoek van my oog dat die ander persoon met Elsabé by die agterdeur uitkom. Hy het haar aan die arm beetgehad en die rewolwer was op haar gerig. Sy was kaalvoet, het net haar slaapbaadjie aangehad met ‘n handdoek om haar onderlyf. Die temperatuur was 2°C. Ek het haar hardop hoor bid: “In die Naam van Jesus Christus bid ek dat U nou alle bose magte op hierdie plaas sal bind, Here!”

Die man met die kettie het vir Bella geskiet dat sy tjank. Ek het my vervies en gesê: “As jy weer my hond skiet, foeter ek jou.” Ek het my selfoon uit my sak gehaal en my naaste buurman gebel. Hy het nie geantwoord nie. Ek het ‘n boodskap gelos: “Manie, ons word aangeval, kan jy kom help?” Ek het die foon in my sak teruggesit en gemerk Elsabé het losgekom en in die huis teruggespring – die man met die rewolwer agterna.

Ek het na die agterdeur toe aangestap en die weerstasieboek op die tafel neergesit. Beskuldigde 3 het ‘n skoot, gemik na my kop, met die kettie afgetrek. Ek het met my arm gekeer vir my gesig en die loodbal het my naby die elmboog getref, die vel het oopgebars (die dokter het my later gevra waarmee ek daar gesteek is, hy moes 7 steke insit). Ek het vir die man gesê: ”Jy het my nou geskiet, en hier staan ek nog – jy sien die Modimo keer vir my, jy kan my niks doen nie.” Ek het gevra: ”Wat soek jy?” Geen antwoord nie. Hy sit weer ‘n loodbal in die velletjie om my te skiet. Ek storm op hom af, gryp die kettie met loodbal en al en gooi dit op die stoep se dak.

Ek draai na hom en sê: “Jy praat nie, ek weet nie wat jy wil hê nie. Ek is haastig, ek gaan kerk-toe.” Toe ek omdraai en op die stoep loop, sien ek die een met die vuurwapen is weer buite. Ek maak die sifdeur oop, klim die eerste trappie en toe sien ek uit die hoek van my oog die hand van Beskuldigde 3 wat die vuurwapen by Beskuldigde 1 vat.

Die volgende oomblik het die eerste skoot geklap. Ek het gevoel hoe die koeël my rug binnedring en deur my ingewande bars. Ek het deur die lug getrek, die tweede trappie op. Die tweede skoot het geklap en ek het gevoel hoe die koeël deur my linkerbeen bars. Ek het binne in die kombuis geval. Beskuldigde 1 het nadergestorm en my met pepersproei in die gesig gespuit. Ek het my oë styf toegeknyp en gevoel hoe my gesig brand.

Toe ek my oë weer oopmaak, was hulle weg. Ek het vorentoe geleun, die deur toegemaak en gesluit. Ek het ongeveer 3 meter gekruip tot in die woonkamer, weer die buurman probeer bel – steeds geen antwoord nie. Ek het sy vrou gebel – voicemail. Ek het my seun Stoffel gebel en gesê : “Hulle het my geskiet, kan jy kom help, asb.” Hy het onmiddellik bure en ‘n speurdervriend van Vredefort in kennis gestel.

Vir ’n skets van die misdaadtoneel, sien die aangehegte.

Skets van plaasaanval


Foto 3: Soektog na verdagtes

Elsabé het ingekom en met my gepraat, maar ek kon nie hoor nie – as gevolg van die slag van die rewolwer wat so naby afgevuur is. Daar het ‘n bakkie gestop by die agterdeur, dit was ‘n buurman Buks Engelbrecht. Hy en Elsabé het my gehelp om, kop omlaag, te kruip by die trappe af tot by die bakkie. Hulle het my in die bakkie gehelp, waar ek skuins gelê het en met knieë omhoog om soveel moontlik bloed in my kop te hou.

Ongeveer 15 – 20 minute later was ons by Kroon Hospitaal. Toe die bakkie stop, was die deur al oop en het hulle my op die trollie gehelp. Al die dokters, ongevallepersoneel, teaterspan, alles was gereed – die teater was voorberei. Hulle het my baadjie en skoene op die trollie uitgetrek en ek het iemand hoor sê: “Daar val ’n koeël.” Hulle het my onderhemp stukkend gesny en in die teater ingestoot. Ek kon my lengte, gewig en bloedgroep gee. Ek het die personeel naaste aan my se hande gevat en gebid: “Dankie Here dat U my tot hier gebring het. Help nou die mense wat met my gaan werk, want dit gaan moeilik wees.” Ek wou amen sê, maar kon nie... toe kom die woorde: “en my aanvallers, Here, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle gedoen het nie.”

Toe ek amen sê, het daar ’n vrede oor my gekom – dit moet die vrede wees waarvan in Matteus geskryf word: “Die vrede wat alle verstand te bowe gaan.” Op ’n stadium het ek vir ’n paar sekondes afgekyk na my liggaam op die teatertafel, met die mense wat rondom staan en met my werk. Dit was asof die Here vir my sê: “Wees rustig, jy is in goeie hande.”

Van die volgende paar dae weet ek maar min. Ek was aan ‘n asemhalingsmasjien en baie ander monitors gekoppel. Ek kon nie praat nie, my mond was te droog. Twee eenhede bloedplasma en 6 eenhede bloed is vir my oorgetap, maar die bloedtelling het laag gebly. Ek het later verneem dat my milt en ’n gedeelte van my pankreas verwyder is , asook dat die koeël dwarsdeur my maag en deur my lewer is. My bloeddruk was die heeltyd baie laag en my liggaamsfunksies het gesukkel. My linkerlong was wel nie deur die koeël getref nie, maar het baie plofskade gehad as gevolg van die slag. (Sien Foto 2 van my in die ISE hierby aangeheg.)

Ek het verneem dat die Polisie en boere nog dieselfde dag van die aanval twee verdagtes ongeveer 6 km van ons huis vasgetrek en inhegtenis geneem het. Later die middag is die persoon wat hul kom aflaai het en weer moes oplaai, ook naby Vredefort in die motor in hegtenis geneem.


Foto 4: Verdagtes vasgetrek

Ná drie weke moes ek weer ‘n uiters pynlike operasie ondergaan om dooie weefsel as gevolg van die plofeffek van die koeël te verwyder - daar was ‘n holte van 13 x 13 x 17 cm, gevul met etter en dooie weefsel. Die narkotiseur het my later meegedeel dat hul op die dag wat ek geskiet is, alles gedoen het wat die boeke leer, maar dat dit nie genoeg was nie – ek was klinies dood, maar die Here het ingegryp en my teruggebring.

As gevolg van sekere medikasie wou my oë nie fokus nie. Elsabé en die kinders het gereeld vir my uit die Bybel voorgelees. Toe ek later beter kon sien en bietjie meer regop kon lê, het ek my Bybel een oggend geneem en oopgemaak by Psalm 94. Vers 17 het my getref: “As die Here my nie gehelp het nie, was die stilte van die graf seker al my tuiste.”

Ek is presies 40 dae later, waarvan 38 in die intensiewe hoësorgeenheid (ISE), uit die hospitaal ontslaan. Ek het belangrike organe verloor en was baie swak. Ek kon nie eet nie en het twee gapende wonde gehad. Ek moes daagliks by Ongevalle aanmeld om die wonde skoon te laat maak en te verpak – die hospitaal is 60 km van my huis af. Die laaste wond was eers vier en ‘n halwe maande later toegegroei. Die hospitaal en dokterskostes beloop reeds bykans R600 000 – dan is brandstof en alles wat in die boerdery skade gely het, nog nie eens genoem nie.


Foto 5: Verdagtes vasgetrek

Ek het tans steeds ‘n groot wondbreuk wat baie ongemaklik en pynlik is en wat volgens die mening van ’n chirurg deur ’n operasie herstel moet word. Van al die hofverskynings, borgaansoek en alles wat daarmee saamloop, weet ek nie veel nie. Ek was òf in die hospitaal of te swak om dit by te woon.

Hoewel ek my aanvallers vergewe het, het ek vertrou dat die regsproses en hofsaak daartoe sal lei dat reg en geregtigheid geskied. Nadat die saak talle wendinge geneem het en die werklike verhoor telkens uitgestel is, was die uitspraak van die landdroshof op 11 Desember 2009 te Kroonstad vir my ‘n groot skok. Beskuldigde 3 wat my geskiet het en vir dood agtergelaat het, is slegs agt jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan hy waarskynlik nie die volle termyn sal uitdien nie voordat parool toegestaan word. Beskuldigde 1, wat heeltyd die vuurwapen gedra het, dit op my en my vrou gerig het, haar gedreig het met verkragting en die dood en my met pepersproei in die gesig gespuit het nadat ek geskiet is, het as gevolg van “’n pleitooreenkoms” skotvry uit die hof gestap. So ook Beskuldigde 2, wat die vervoervoertuig na en van die misdaadtoneel bestuur het.

Ek kan hierdie hofuitspraak en –reëling eenvoudig nie begryp nie. Behalwe dat dit skrei teen enige redelike sin vir geregtigheid, is dit nie bevorderlik vir emosionele verwerking nie.

Weergawe Elizabeth Susanna Boshoff

Sondagoggend 12 Julie 2009 – ’n rustige Sondagoggend. Ek is in die badkamer – het klaar my gesig gewas en reeds my pajamabroek uitgetrek om te stort. Ek hoor die honde blaf en Louis skree. My eerste gedagte is dat die honde die beeste jaag en hy op hulle skree, maar die geskree word erger. Toe hoor ek hy skree my naam, baie dringend en besef daar is groot fout.

Ek gryp ‘n handdoek, draai dit om my kaal onderlyf, sit my bril op en hardloop by die kamerdeur uit om by die agterdeur te gaan hoor wat fout is. Toe ek in die gang kom, sien ek op die ander punt van die gang ‘n kort man met ‘n kous oor die kop, groot gate uitgesny vir die oë en ‘n gat vir die mond. Dit was Beskuldigde 1. Hy het ‘n blinkloop vuurwapen wat hy met albei hande vashou, op my rig en hy skree vir my: “Staan stil, ek maak jou dood vandag!”

Ek kom tot stilstand en bid hardop tot God vir beskerming en hulp. Die man kom staan voor my. Hy het handskoene aan en ek sien die blink loop van sy vuurwapen waar hy dit voor my gesig hou en hoor hom sê dat hy my gaan “naai” en my gaan “doodmaak.”

Ek vra hom wat hy eintlik wil hê. Hy sê hy soek geld. Ek is baie kalm, sê ek het geld en kan dit vir hom gee. Hy sê nee, hy “gaan my naai en my doodmaak.” Ek probeer verder onderhandel: “As jy my doodmaak, kan ek nie vir jou geld gee nie.”

Ek kyk die man heeltyd vas in sy oë, oor die rewolwer wat hy in my gesig druk. Ek sê weer: “Moet ek nou vir jou geld gee?” “Nee, ek gaan jou naai en ek gaan jou doodmaak.”

Ek roep weer hardop na God. Die man lyk of hy bewe, hy’s onseker, maar hou steeds die rewolwer in my gesig. Ek sê: “Dis reg, dan moet jy my maar doodmaak …maar jy moet onthou: As jy my doodgemaak het, kan ek nie vir jou geld gee nie.” Nou lyk dit of hy nie weet wat hy verder moet doen nie.


Foto 6: Belangstellendes by die hof

“Kom”, sê hy en gryp my aan my arm, trek my die gang af en uit by die agterdeur. Toe ek op die stoep kom, sien ek Louis en ‘n groot man, geklee in ‘n denim “boiler suit” en met klapmus op die kop (Beskuldigde 3), kom om die hoek van die stoor. Ek hoor dat Louis aan hom vra: “Ken jy vir Jesus Christus?” Die man antwoord niks en Louis sê vir hom dat hy op pad hel toe is. Ek roep weer hardop tot God en vra Hom om in die Naam van Jesus alle bose magte op die werf te bind.

Beskuldigde 1 los my en hardloop nader na Louis en Beskuldigde 3. Ek spring om en hardloop terug in die huis in maar hoor dat die sifdeur agter my klap en besef Beskuldigde 1 agtervolg my. Die eerste deur in die gang is dié van die kamer wat my seun s’n was. Ek klap dit toe en sluit net betyds. Beskuldigde 1 skop die deur met mag en mening en die slot wil-wil meegee. Dan gee hy op en ek hoor hom in die gang afhardloop.

Ek sluit die deur oop, kry Louis se rewolwer, maar besluit om net eers weer my slaapbroek aan te trek want ek het nog altyd net die handdoek om my onderlyf. Ek hoor twee skote klap namekaar. My bloed stol, want ek kan hoor dit was raak. Ek tel die pistool van die bed op en, hoe dit gebeur het, weet ek nie, want ‘n skoot gaan af. Die koeël slaan in die kamermuur vas.

Ek hol kombuis toe. Daar kry ek Louis op die vloer en hoor hom sê dat hulle hom twee skote geskiet het. Ek sien daar is bloed agter sy blad en ‘n bloedkol op sy maag en baie bloed aan sy linkerbobeen. Hy is baie bleek en ek besef hy bloei inwendig kwaai en moet baie gou by ‘n hospitaal kom.

Ek bel die Polisie op Koppies, maar die dame wat antwoord kan my nie verstaan nie. Ek gee moed op om my by haar verstaanbaar te maak en sit die foon neer. Buks Engelbrecht, ‘n buurman daag op en uiteindelik het ons Louis in die bakkie en hy jaag met hom na Kroon Hospitaal.


Foto 7: Mense bid by die hof

Nadat hul vertrek het, skakel ek vir Morné de Wet, Polisie-offisier van Kroonstad, wat naby ons woon. Hy bied aan om die Polisie in kennis te stel. Heelwat later daag die plaaslike Polisie op – hulle stel egter duidelik baie meer belang in die skoot wat ek in die kamer afgevuur het as in die toneel buite die huis waar Louis geskiet is.

Vingerafdrukdeskundiges daag ook later op en begin afdrukke neem van merke waar die man gevat het toe hy die deur probeer oopskop het. Op daardie stadium daag ons dogter, Isabel, op. Sy is in erge toestand van skok. Sy begin foto’s neem van die toneel en van die afdrukke op die deur. Die stasiebevelvoerder van die SAPD tak op Koppies, (in siviele klere) supt. Ismael Nqai, storm op haar af en vloek haar – beveel haar om te “f-off” uit die huis want sy is besig om met polisiewerk te “ interfere”. Die bevelvoerder, in die gemeenskap is bekend as arrogant en rassisties, dreig om die Polisie te onttrek van die toneel.

Gelukkig was Vrystaat Landbou Unie se manne - intelligensie en spoorsnyers – gou op die toneel en het hul beheer geneem van die soektog na die verdagtes. Supt. Nqai soek aanmekaar moeilikheid op die werf met op- en aanmerkings – soveel so dat ek hom versoek om dit te staak en sy aandag by die ondersoek te bepaal.

Ek is haastig om by die hospitaal te kom om by my man te wees, maar die polisie wil nog vrae vra en verklarings afneem – maar kom ook nie sover nie. Op een stadium was daar 12 Polisielede wat deur my huis loop en in elke vertrek rondkyk, niks te doen met die toneel buite nie. Een Polisieman laat my twee blanko foliovelle teken en eers later besef ek wat ek gedoen het. Niemand het ‘n verklaring afgeneem nie, hulle gaan hul eie verklaring skryf op die papier wat ek geteken het. Die manne van Vrystaat Landbou het gereël vir honde en vir ‘n helikopter. Hul twee spoorsnyers het vinnig die spore opgetel, terwyl die plaaslike boere hul bystaan deur die paaie rondom die plaas te patrolleer en af te sper.

Net voor ek na die hospitaal vertrek, teen ongeveer 12:30, verneem ons dat twee verdagtes vasgetrek is. (Sien Fotos 3, 4 en 5 van die soektog en inhegtenisnames hierby aangeheg.) Op die toneel, waar boere teenwoordig is, word daar aan een van die verdagtes gevra wie gesê hy moet na hierdie plaas kom. Hy noem ‘n naam van ‘n jongman aan ons bekend. Aby is die seun van een van ons plaaswerkers, sy ma is my huisbediende. Hy woon in Kwakwatsi by Koppies is is werkloos. Sy naam word aan die polisie deurgegee – die ondersoekbeampte en plaaslike speurders. Ek het agterna ’n paar keer navraag gedoen of dit opgevolg is, maar kon nooit bevestiging kry dat die inligting opgevolg is nie.

Op pad Kroonstad toe deel my buurvrou, Gertrude Engelbrecht wat by die hospitaal is, my mee dat die dokters so pas uit die teater gekom en en haar gevra het om my voor te berei op die ergste - hulle het gedoen wat menslik moontlik is, maar my man se milt en helfte van sy pankreas is verwyder en die koeël is dwarsdeur sy maag en sy lewer. Hy het geweldig baie bloed verloor en sy bloeddruk is gevaarlik laag. Hy is aan lewensondersteunende masjiene gekoppel en word in die intensiewe sorgeenheid behandel.


Foto 8: Bella vergiftig

Later die middag ontvang my dogter ‘n oproep van supt. Nqai waarin hy haar meedeel dat ‘n derde verdagte in hegtenis geneem is – die persoon wat die ander twee afgelaai het en weer moes kom oplaai (Beskuldigde 2). Hy het ook aan haar gesê dat laasgenoemde ‘n hoeveelheid ammunisie aan die Polisie oorhandig het en dat die verdagtes aan die Polisie beken het dat hul al ’n paar Sondae op die werf was om ons doen en late dop te hou – hul het Louis se Sondagoggend roetine aan die polisie beskryf en ook genoem dat ons kinders altyd Sondag by ons kom eet en kuier, daarom kon hul nie op ‘n Sondagmiddag inkom nie. Ons ken die verdagtes van geen kant af nie en het hulle nooit voorheen gesien nie.

Op 16 Julie 2009, verskyn die verdagtes in die landdroshof op Koppies vir ‘n aansoek om borgtog. Die ondersoekbeampte, mnr. Chris Moschesane, deel my mee dat die Polisie borgtog gaan teenstaan aangesien die wapen 14 maande tevore by ’n bejaarde egpaar in ’n plaasaanval in Sasolburg-distrik geroof is en dat die verdagtes verbind word met daardie voorval. Baie mense, swart en wit, drom saam voor die landdroskantoor waar ds Etienne Maritz die skare toespreek en almal wat op hul kniee kan staan, voor God in gebed kniel. (Sien Fotos 6 en 7 van tonele by hof hierby aangeheg.) Die hofsaal word volgepak terwyl baie mense buite by my bly. Die borgaansoek word uitgestel en die verdagtes bly in aanhouding.

Met die tweede verskyning word die aansoek weer uitgestel.

Dan verskyn hulle weer. Die ondersoekbeampte vra in die hof dat Louis ‘n uitkenningsparade sal bywoon – min wetend dat hy die vorige dag weer geopereer is en aan ‘n respirator in die ISE gekoppel lê. Die saak word weer uitgestel.

Die ondersoekbeampte vra my om die verdagtes te gaan uitken. Ek stem in, maar vra wanneer hy dan my verklaring gaan afneem, waarop hy antwoord dat daar reeds ‘n verklaring in die lêer is. So vind ek uit dat daar namens my ‘n verklaring geskryf is. Ek vra hom om na my huis te kom, wat hy doen. Hy lees die verklaring in die lêer vir my voor, maar na die eerste paragraaf vra ek hom om liewer my regte verklaring af te neem, want wat hy het is beslis nie die ware weergawe van die gebeure nie.

Ek stem in tot ‘n uitkenningsparade en vra of dit agter glas sal wees. So vertrek ek op die oggend, soos afgespreek, na Sasolburg. Ek word ontvang en gehelp deur twee blanke Polisiebeamptes, inspekteurs De Jager en Olivier. Hulle verduidelik die prosedure aan my en ek kom agter dat daar nie op Sasolburg glasfasiliteite vir ’n uitkenningsparade beskikbaar is nie. Hulle stel aan my die keuse of ek wil voortgaan met uitkenning. Aangesien ek spesiaal na Sasolburg gery het, stem ek in om voort te gaan.

Dieselfde twee beamptes vergesel my na die gevangenis. Hulle is professioneel en ondersteunend. Voordat ek deur die laaste hekke in die tronk gaan, word die prosedure weer aan my verduidelik. So word die laaste hek oopgesluit en ek word gehelp om agteruit in die binnehof te stap. By die vensters, wat almal op die binnehof uitkyk, hang honderde gevangenes aan die tralies en staar na my. Toe ek mag omdraai, kyk ek in die gesig van die man wat by my in die huis was – hy kyk vinnig weg. Ek loop op en af voor die 15 gevangenes wat opgestel is, verby. Ek gaan staan by die man wat by my in die huis was – ek wys na hom terwyl ‘n foto geneem word en ek sê: “Hy het my met ‘n rewolwer aangehou en gesê hy gaan my verkrag en my doodmaak.” Hy kyk vir my met ‘n spottende uitdrukking op sy gesig. Dan stap ek verder. Ek gaan staan voor die ouer man met die vol postuur. Hy staar stip voor hom uit. Ek wys na hom en sê: “Hy het my man geskiet.” Hy knip nie ‘n oog nie.

Nog ‘n hofverskyning breek aan. Die ondersoekbeampte kry ‘n beurt om te getuig wat die betrokke dag gebeur het. Ek sit en luister na die kruisondervraging deur die staat en die verdagtes se prokureur. Dit voel of ek later alles van elkeen weet – waar hy gebore is, gewerk het en gebly het, hoeveel kinders hy het, vorige veroordelings, ens. Daar word getuig hoe die eerste twee gearresteer is, hoe die verdagte wat die ander afgelaai het en weer moes kom oplaai, gearresteer is, hoe die onwettige ammunisie deur hom aan die Polisie uitgewys en oorhandig is. Ek hoor hoe die een wat geskiet het, (Beskuldigde 3) kleitrap oor die oorsprong van die wapen waarmee geskiet is. Onder kruisverhoor tel ek die een teenstrydigheid na die ander op – die getuies weerspreek hulself. Die hof verdaag vir middagete en na die breek word uitspraak gelewer: Borgtog word geweier en hulle bly in aanhouding.

Op Sondagaand 15 November 2009 was ons tussen 17:30 en 19:30 weg van die huis. Met ons terugkeer is daar geen spoor van ons twee kwaaiste honde nie. Ons het geroep en gesoek, die volgende dag verder gesoek en uiteindelik altwee gekry – dood. Die tekens was duidelik dat hul vergiftig is. Die trauma en seer was weer rou oopgekrap. Die honde was vir ons soos kinders. Bella wat die aanvallers uitgewys het, was Louis se skaduwee en Michaela was Isabel se agtjarige ”kind”. (Sien Foto 8 Bella vergiftig.)


Foto 9: Beskuldigde 3

So stap die tyd aan en ek hoor niks verder van die saak nie. Elke keer as die ondersoekbeampte skakel sê hy hy sal my terugskakel met die volgende datum, maar daar gebeur niks. Ek gaan sien die plaaslike aanklaer – sy kan my niks sê nie, die saak is uit haar hande want dit is na die streekshof verwys.

Weer en weer skakel ek die ondersoekbeampte en op ‘n dag deel hy my mee dat daar ‘n datum bepaal is waarop hulle verskyn en dat dit net sal wees om die datum vir die streekshof te bepaal. Ek kan nie die hofverrigtinge bywoon nie en toe ek navraag doen, vind ek uit dat die ondersoekbeampte dit ook nie bygewoon het nie en nie weet wat gebeur het nie. Ek bly vra en vra, sonder om terugvoer te kry. Gedurende die eerste week in Desember stap ek te Kroonstad by die kantoor van die staatsaanklaer Christine in. Sy deel my mee dat die beskuldigdes op 11 Desember 2009 in die streekshof te Koppies sal verskyn. (Sien aangeheg Foto 9 van Beskuldigde 2 en Foto 10 van Beskuldigde 3.)

Op Vrydag 11 Desember, gaan ek na Koppies om die hofsitting by te woon. By die hof aangekom, weet niemand hoe laat die prokureur sal opdaag nie, maar ‘n swartman kom na my en vra of hy my kan help. Ek deel hom mee dat ek daar is vir die streekshof saak en dat ek mev. Boshoff is. Dit blyk uit die gesprek dat hy die staatsaanklaer is wat die saak behartig, mnr. Jerry Noge. Die interessante is dat hy my vra wie vir my gesê het dat die saak vandag voorkom en of die Polisie my laat weet het. Ek het agterna eers besef hy het dit so gesê asof ek nie daarvan moes geweet het en nie daar moes wees nie?? Ek het hom meegedeel dat ek maar die saak volg en dat ek navraag gedoen het en so uitgevind het.

So begin die hofsitting met landdros Rudi Smit op die bank. Die aanklaer trek namens die staat alle beskuldigings terug teen Beskuldigdes 1 en 2 . Dit word so aanvaar en afgehandel. Ek kon my ore nie glo nie . . . die man (Beskuldigde 1) wat heeltyd die rewolwer gedra het, dit op my man en op my gerig het, wat in my huis ingekom het, geskree het dat ek moet stilstaan want hy gaan my vandag doodmaak, ‘n pistool in my gesig gedruk het en herhaalde kere gesê het hy gaan my verkrag en doodmaak, wat die deur amper oopgeskop het toe ek my in ‘n kamer toegesluit het. . . is vry, die staat trek alles terug! Die ander een (Beskuldigde 2) wat by die borgaansoek erken het dat hy die mense afgelaai het en weer moes oplaai, in wie se huis die onwettige ammunisie uitgehaal is, is onskuldig, vry om te gaan!


Foto 10: Beskuldigde 2

Ek luister na die skulderkenning van Beskuldigde 3 wat deur die prokureur voorgelees word. Daar word vertoë gelewer dat hy ‘n man van van 57 is wat die eerste keer met die gereg bots. Ek was egter met die borgaansoek in die hof toe sy veroordelings vir veediefstal ter sprake was. Die landdros aanvaar die skulderkenning, hy aanvaar dat hierdie man die eerste keer met die gereg bots en dat hy sy samewerking gee. Hy noem dat die man met ‘n vuurwapen na die werf gegaan het – dit was sy bedoeling om te skiet. Hy het ‘n tweede skoot afgetrek, hy wou doodmaak. Hy erken dat dit ‘n plaasaanval was en dat die boere as die kosvoorsieners van die land op brutale wyse vermoor word.

En toe kom die uitspraak: Op aanklag 1, poging tot moord, kry hy 8 jaar. Op aanklag 2, besit van ‘n onwettige vuurwapen, kry hy 3 jaar. Nou is dit glo sy oorlede swaer se wapen, maar in die borgsaak was dit ‘n wapen wat hy per ongeluk saam met ‘n sak klere bekom het - volgens die ondersoekbeampte, ‘n wapen wat 14 maande tevore in ‘n plaasaanval op ‘n bejaarde egpaar geroof is! Op aanklag 3, onwettige besit van ammunisie, 6 maande – nou’s hy skuldig aan die besit van die ammunisie, maar in die borgsaak het sy seun, Beskuldigde 2, dit by sy woonplek uitgewys en daarvoor tereg gestaan. Al die vonnisse word gelyk uitgedien.

Ek is stomgeslaan. Ek het die borgaansoeke gevolg, al die detail en aanklagte aangehoor, maar nou klink dit na ‘n heel ander saak? Hoe gebeur dit? Waar verander die aanklagte so maklik, wie laat dit toe? Is daar sommer vooraf oor die vonnis ook besluit soos daar vooraf besluit is dat die saak teen Beskuldigdes 1 en 2 teruggetrek word? Ek is die slagoffer in die saak maar ek word nie toegelaat om ‘n enkele woord te sê nie, nie gevra wat die waarheid is nie, op geen stadium gevra om te getuig nie? Behalwe vir die verklaring, wat ek aangedring het om af te lê, het niemand my gevra wat die waarheid is nie. Ek word van geen hofverskyning in kennis gestel nie?!

As die beskuldigdes ‘n verklaring afgelê het oor die gebeure van daardie dag, wat het hulle verklaar. Was dit die waarheid? As die man wat geskiet het, skuld erken het, wat het hy erken? Hoe sal ek weet? Hoe sal die staatsaanklaer weet wat die waarheid is? Kan ek dan ook nou maar doodmaak, roof, steel, dreig en dan my verklaring gaan afle – wie toets dit aan die waarheid? Is dit hoe die regstelsel (behoort te) werk?!

Watter boodskap is daar in die hof uitgedra – plaasmoorde is aanvaarbaar - jul kan maar aangaan en julself geniet want julle sal maklik vrykom?

Toe ek ná die verrigtinge aan die aanklaer vra hoe dit kan gebeur dat die saak sommer so deur die staat teruggetrek word, was sy antwoord: ”Ons het maar so besluit.”

Wie is die “ons”? Die plaaslike landdros het aanvanklik borgtog geweier omdat hy gereken het die verdagtes kan nie in die gemeenskap losgelaat word nie, ook as gevolg van vorige rekords, vonnisse wat hyself Beskuldigde 3 opgelê het, maar nou is hulle skielik vry om te gaan sonder dat hulle eers verhoor word? Ek vra die vraag: Wie is hierdie “ons” wat dit besluit het?

Die man wat die sneller getrek het, kry 8 jaar tronkstraf. Hy klink na ‘n onbesproke karakter wanneer hy in die beskuldigdebank staan, want hy is, word in die hof gesê, 57 jaar oud en dis die eerste keer dat hy met die gereg bots – terwyl hy al veroordelings vir veediefstal het en hy alles (ons weet net nie wat alles nie) erken het en sy samewerking gegee het, dit alles tel punte om sy straf ligter te maak!

Hy het ’n onskuldige bona fide boer op ‘n afstand van minder as 2 meter in die rug geskiet met ‘n onwettige wapen en hy het ‘n tweede skoot ook geskiet – hy wou doodmaak!?

Ek voel baie sterk daaroor dat die regstelsel ons as slagoffers hier skandelik gefaal het!!

Ek wonder of iemand wat nog nie deur sulke omstandighede getref is nie, werklik besef wat dit beteken. Dit raak ‘n gesin, ‘n familie, ‘n gemeenskap. Dit het lewensveranderende gevolge en laat letsels wat nie in woorde uitgedruk kan word nie:

Dokters wat moet veg vir ‘n lewe, intensiewesorg, ens. – koste beloop reeds bykans R600 000.

Eggenote, self getraumatiseer deur aanhouding en dreigemente met ‘n vuurwapen, kritiek siek man in die hospitaal ondersteun, kinders kalmeer en ondersteun, beskuldigdes, wat nou sommer so vrygelaat word in moeilike omstandighede in die tronk uitken, boerdery behartig. Baie vrae, onsekerheid – wat is die motief?

Jongmense, wie se ouers aangeval is, wie se vader geskiet is, wie se honde vergiftig is, wat hul seer en frustrasies moet deurwerk. Net soveel vrae by hulle. Hulle wil graag in Suid-Afrika, hul vaderland bly en dit help opbou.

Dogter wat deur die polisiehoof uit haar ouerhuis gevloek word.

‘n Boerdery wat tot stilstand geruk word, maar wat moet aangaan, want diere hou nie op leef nie en moet versorg word.

Die vrae wat ons het en ons versoek:

Is dit normale prosedure dat ‘n persoon wat ‘n vuurwapen op my man rig, my met dieselfde wapen aanhou, my dreig met verkragting en die dood, my uit die huis sleep, my huis se deure probeer afskop, ‘n persoon wat reeds twee skote geskiet is met pepersproei in die gesig spuit, nie vervolg word nie?

Is dit normale prosedure dat aangeklaagdes se vorige veroordelings en rekords geignoreer word wanneer hul op ‘n volgende aanklag verskyn?

Is dit normale prosedure om die saak vinnig-vinnig af te handel, sonder om die slagoffers van hofdatums, eintlik van enigiets , te verwittig? Is dit normaal dat slagoffer se getuienis, verklaring nie in ag geneem word nie?

Is die boodskap wat deur hierdie betrokke saak uitgegaan het, téén geweld teen vroue en téén plaasmoorde of kon die teenwoordiges in die hof dalk tot die gevolgtekking gekom het dat ‘n mens maar kan voortgaan om sulke dade te pleeg, jy maklik sal loskom?

Sin uit die feite: ‘n Tweede skoot is afgetrek, om dood te maak, deur ‘n man wat met voorbedagde rade na die plaas gekom het, maar hy kry 8 jaar en sy medepligtiges loop vry uit – my man was eintlik klinies dood – volgens die dokters is dit ’n wonderwerk uit God se hand dat hy lewe.

Die versoek van ons, Louis en Elsabé, is dat wie ookal in ’n posisie is om verder aandag aan hierdie saak te gee of wie ookal statutêr verplig is om daaraan aandag te gee en dit na volle regslotsom te neem, dit asb. sal doen. Ons lê dit so aan u voor – ter wille van reg en geregtigheid, van ander bestaande sowel as potensiële slagoffers en ter wille van Christelike beskaafdheid.

Oorsprong:Ditsem Vrystaat
http://ditsem.net/boshoffs.php

‘Polisielede’ roof, skok boer en sy gesin

2010-01-28 23:37

Marietie Louw-Carstens

Swaar gewapende mans in polisie-uniforms het ’n boer en sy gesin vandeesweek op ’n plaas in die Mokopane (Potgietersrus)- distrik vasgebind en herhaaldelik met skokstokke geskok.

Die agt aanvallers het ook plastieksakke oor die koppe van mnr. Okkie Malherbe (63) en sy vrou, Emmerentia (53), van die Olerm-boerdery op die plaas Doelen getrek. Malherbe se kleindogter, Kaycee (5), was histeries tydens die aanval.

Malherbe se seun, WD (34), het gesê die aanval het sowat twee uur geduur, “maar dit het soos ’n ewigheid gevoel. Daar was moord op hul gesigte”.

Malherbe jr. het gesê hy het Dinsdag by sy pa en stiefma gaan eet. Net ná 19:00 het ’n Isuzu-bakkie en ’n Toyota Corolla met ’n blou lig op die dak voor die plaashuis stilgehou.

Drie van die agt mans het polisie-uniforms aangehad. Die res was in “netjiese klere, soos speurders dra”.

“Ons het gedink dit is die polisie en toe het ek die deur oopgemaak. Hulle het semi-outomatiese masjiengewere op my gerig.”

Volgens Malherbe jr. het die aanvallers gesê hulle is van Gauteng se polisie en ondersoek onwettige vuurwapens. Sy pa het identifikasie gevra en die mans het “’n stuk papier en kaartjies vinnig rondgeswaai”.

“Ons kon sien dit is nie polisiekaartjies nie en het gesê ons gaan die Mokopane-polisie bel. Dit is toe dat hulle hul klapmusse opsit.”

Hulle het geld en kluissleutels gevra. Die aanvallers het Malherbe jr., sy pa en stiefma en ook sy suster, Zia, en haar dogtertjie, Kaycee, se hande vasgebind.

“Ek is aangesê om op die bank te lê met my gesig na onder. Ons mag niks gesê het nie en kort-kort voel jy ’n wapen teen jou kop.”

Malherbe jr. het gesê die aanvallers het hulle, maar darem nie Kaycee nie, verskeie kere met skokstokke geskok.

Die aanvallers het Malherbe sr. na ’n nabygeleë gebou gevat waaruit die familie die onderneming Limpopo Meat Packers bedryf. Hy het die kluissleutels aan hulle gegee. Hulle het sy skoene uitgetrek en ’n plastieksak oor sy kop getrek. Hulle het glo R120?000 gebuit.

Die aanvallers het hom terug huis toe gedwing en hom en sy vrou na hul kamer gevat.

’n Plastieksak is ook oor mev. Malherbe se gesig getrek.

“Hulle is gewurg. Dit het gevoel of ek wil mal word toe ek dit hoor, maar ek kan niks doen nie,” het Malherbe jr. gesê.

Werknemers van die Malherbes wat in ’n woonstel naby die hoofhuis woon, het onraad vermoed en ’n alarm geaktiveer.

“Toe die alarm afgaan, toe slaan hulle op die vlug. Hulle het my bakkie gevat, maar dit later op ’n plaaspad gelos. My pa en stiefma se selfone is ook gesteel.

“Ons voel uitgelewer, wat moet ’n mens doen as mense met polisie-uniforms en ’n blou lig by jou stop? Hoe moet jy weet wie jy kan vertrou?”

Supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê ’n spesiale taakspan is aangestel om na die aanvallers te soek.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/c8952aa23d084b44b56fab84c3d2a3c7/28-01-2010-11-37/%E2%80%98Polisielede%E2%80%99_roof,_skok_boer_en_sy_gesin

Sunday, 24 January 2010

Vrystaatse boer wreed vermoor

2010-01-23 17:33

Bloemfontein - ’n 59-jarige Boer van die Vrystaat is vroeg Saterdagoggend aangeval en na bewering deur drie mans op sy plaas in Ficksburg vermoor, het die polisie gesê.

Sers. Majang Mosupa het gesê die voorval het omstreeks 05:00 Saterdagoggend op die plaas met die naam Goeiehoop plaasgevind.

Die slagoffer Ernest Giefeke het na buite gegaan om sy diere en plante water te gee toe hy deur die mans oorval is, het sy gesê.

“Hy was met ‘n klip aan die agterkant van sy kop geslaan en sy keel is met ‘n mes afgesny,” het Mosupa gesê.

Die gewapende mans het daarna glo die huis binnegegaan en geld en vuurwapens by sy vrou geëis.

Die vrou het egter daarin geslaag om die noodhulpknoppie te druk. Die mans, wat ‘n mes en ‘n skroewedraaier by hulle gehad het, het geskrik en die toneel gevlug.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Nuus24
http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/afc97b7d7129423a9f9cc9ef5ab77baf/23-01-2010-05-33/Vrystaatse_boer_wreed_vermoor

Boer sterf, vrou ernstig gewond toe 2 toeslaan

2010-01-23 02:22

Middelburg. – ’n Boer (59) is dood en sy vrou ernstig gewond in ’n plaasaanval gisteroggend net buite dié dorp in Mpumalanga.

Mnr. Johan Venter is in die kop geskiet. Sy vrou, Rentia (60), is in die maag en arm gewond. Sy was teen gister in ’n ernstige, maar stabiele toestand in die Life Health Midmed-hospitaal in Middelburg.

Die voorval het in die vroeë oggendure op die Venters se plaas, Keerom, aan die Stofbergpad plaasgevind.

Die aanvallers, twee mans, het by die huis ingekom deur een van die hoofslaapkamer se vensters oop te dwing.

Volgens insp. Lize Coetzee, woordvoerder van die Middelburg-polisiestasie, was die Venters se seun, Jaco (22) in sy kamer.

Hy het sy pa hoor skree en toe ’n skoot gehoor.

Sy ma het begin gil, waarna nog skote geskiet is.

“Hy het na die kamer gestorm en sy ouers daar gevind,” het Coetzee gesê.

Die aanvallers het toe glo reeds gevlug.

Dit is nie bekend watter vuurwapen in die aanval gebruik is nie.

Niks word vermis nie.

Niemand is nog teen druktyd aangekeer nie.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/c96f53a15d5749e08abf1b575192846d/23-01-2010-02-22/Boer_sterf,_vrou_ernstig_gewond_toe_2_toeslaan

Laggende gewapendes wil vroue van pad druk

2010-01-21 08:23

Virginia Keppler

Drie gewapende mans het eergistermiddag om 15:00 op die Boschkop-pad, oos van Pretoria, twee vroue en ’n maand oue baba van die pad probeer afdruk terwyl hulle ’n rewolwer op die vroue gerig het.

Die mans het die heeltyd vir die vroue gelag.

Mev. Anita Fourie (56), haar dogter, Ankea Pretorius (33), en dié se baba, Ruben (1 maand), was op pad na hul plaas in Boschkop toe die voorval gebeur het.

“My dogter het bestuur en ek het agter saam met die baba gesit. Die volgende oomblik het ’n wit BMW op ons afgepyl en byna agter in ons vasgery,” het Fourie gesê.

“Ek het aanhoudend vir die bestuurder van die BMW gewys om verby ons te ry, want daar was geen ander voertuie op die pad nie, maar hy het hom nie aan my gesteur nie,” het Fourie gesê.

Volgens haar het die BMW toe langs hulle begin ry. “Die passasier wat links voor gesit het, het sy venster afgerol en ’n rewolwer teen my dogter se venster gedruk.”

Fourie het gesê Pretorius het in daardie stadium aanhoudend geskreeu: “Ma, hy gaan my skiet!”

“Ons het seker vier minute lank so gery en die heeltyd het hulle vir ons gelag. Ek het die baba vasgehou en met my liggaam probeer beskerm,” het Fourie huilend vertel.

Pretorius het in ’n stadium die BMW langs die kant hard gestamp om die mans van hulle af weg te kry, maar dit het nie gehelp nie.

’n Vragmotor wat in die teenoorgestelde rigting aangery gekom het, het waarskynlik die vroue se lewe gered, want die BMW het spoed verminder, omgedraai en weggejaag.
Fourie het gesê haar dogter is erg getraumatiseer.

Tuis het die vroue byna twee uur lank gesukkel om die Boschkop-polisie in die hande te kry. “Toe ek uiteindelik ’n polisieman in die hande kry, het hy
gesê hy gaan nie nou uitkom nie, want niemand is dood of beseer nie. Ons buurtwag het ons kom ondersteun.”

Insp. Marinda Stoltz, polisiewoordvoerder, het Fourie gister persoonlik gebel en verskoning gevra en gesê die voorval sal ondersoek word.

Hulle gaan ook vasstel wie die betrokke polisieman is. “As dit daarop neerkom dat hy versuim het om sy plig na te kom, gaan hy departementeel vervolg word,” het Stoltz gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/9423b184b62f42509b6bec29373b8fd1/21-01-2010-08-23/Laggende_gewapendes_wil_vroue_van_pad_druk

Vrou in roof by woonstel op hoewe in heup geskiet

2010-01-07 00:32

Linda de Beer

’n Vrou wat onlangs in ’n huurwoonstel op ’n kleinhoewe buite Hartbeespoort ingetrek het, is gister in die vroeë oggendure deur inbrekers in die heup geskiet.

Twee skote is op me. Christa Denicker (53) geskiet toe sy die inbrekers in die sitkamer verras het. Sy het opgestaan om ondersoek in te stel nadat ’n geraas in die kombuis haar wakker gemaak het, het supt. Lesego Me- tsi, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.

Denicker en haar man, Adriaan, het onlangs in dié woonstel op ’n kleinhoewe in Melodie ingetrek, het mnr. Romano van der Spuy, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gesê. Die eienaar van die huis wat aan die woonstel grens, het die plotwag ontbied toe sy die skote hoor.

Volgens Van der Spuy het die twee verdagtes ’n skuifdeur uit sy raam gelig om toegang tot die huis te verkry. Hulle het daarna die veiligheidshek tussen die kombuis en die sitkamer oopgebreek. Dit is vermoedelik wat Denicker wakker gemaak het.

Metsi het gesê die koeël van die ander skoot wat op Denicker geskiet is, het ’n muur getref.

Sy is per ambulans na ’n plaaslike hospitaal geneem.

Haar toestand is volgens inligting wat die GPF ontvang het ernstig, maar bestendig.

Die polisie weet in dié stadium net van ’n DVD-speler en juweliersware wat gebuit is, het Metsi gesê. Die verdagtes het vermoedelik te voet gevlug. Volgens Van der Spuy is die omgewing baie bebos en ruig.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/a6ff3ab6f6a9482d9a86beded1cb7a71/07-01-2010-12-32/Vrou_in_roof_by_woonstel_op_hoewe_in_heup_geskiet

Sunday, 17 January 2010

Hou op om weg te kyk van dié moorde

deur Johan Pieterse

2010-01-13 05:48

Die nuwe jaar het skaars aangebreek en daar is brutale moorde gepleeg in Suid Afrika. Op ’n plaas tussen Steynsrus en Senekal is ’n boer en sy vrou byvoorbeeld met ’n vleishaak aangeval en met baaltou vasgebind en deur die huis tot in die kombuis gesleep. Die moordenaar het elkeen met ’n haelgeweer in die bors geskiet!

Wanneer gaan ons Afrikaner- gemeenskap begin besef dat anargie op hande is en ek dink persoonlik dit kom van 1994 af. Hierdie boere het families net soos ek en jy. Wat gaan jy doen as jou pa, ma boetie of sussie, brutaal vermoor is? Gaan jy net daar sit en wag? Gaan jy jou pistool in die kas wil gryp en daardie Bliksems aan die galg laat ry?

Wat gaan ons as Afrikaners doen omtrent hierdie wrede, brutale geweld op ons nasie, vriende en familie? Hierdie dade verwoes lewens!

Ek lees nêrens in enige koerant dat daar druk uitgeoefen word op hierdie slapgat-regering nie. Hoe is dit moontlik dat enige land dit kan toelaat?

My vraag vandag is: Kan ’n mens die regering dagvaar deur die internationale howe? Sodat daar buitelandse druk op hul uitgeoefen kan word.

Ons menseregte word daagliks geskend, ons mense is lankal nie meer veilig nie, ons kan nie ons kinders in hierdie gewelddadige land grootmaak nie.

Ons word uitgemoor en dit lyk my dit pla niemand nie. Is ek die enigtste persoon wat dit raaksien? Ons koerante is vol van klimaatsverandering en onbevoegde ministers wat sit en bolle rol terwyl die land kwyn.

Ek is n trotse Afrikaner en ons volk word daagliks in alle vorme aangeval, vermoor en verneder. Wanneer gaan ons saamstaan en veg vir dit wat reg is? Lees dié vraag weer.

Die grootste sonde in die moderne tyd is die feit dat ons as Afrikaners ons wang draai op ons mede-Afrikaners, deur ons stem nie te laat hoor en dat ons nie meer doen om geregtigheid te laat geskied nie. Dat ons meer aan ons self dink en in ’n groot mate selfsugtig is.

Dit is jou medemens wat vermoor word. Hou op weg kyk!

Johan Pieterse

Jpieterse80@gmail.com

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Content/MyVolksblad/Briewe/2047/3d907131d32c4ebdb8fe17a596bc1f04/13-01-2010-05-48/Hou_op_om_weg_te_kyk_van_di%C3%A9_moorde

Dit kon u vrou gewees het?


Plaas, in u geestesoog, u vrou, dogter of moeder se gesig in hierdie foto. Dit kon sy gewees het.

(Hoekom laat ons dit toe?)

Inbreker trek sneller 3 keer, maar g'n skoot klap

2010-01-15 07:42

Vicus Bürger

Petrus Steyn. – Een keer, twee keer, drie keer is die sneller getrek, maar nie ’n enkele skoot is geskiet nie.

Mnr. Jan van der Westhuizen (59), ’n melkboer in die distrik, het gister gesê hy dank God dat nie een van die skote afgegaan het toe ’n inbreker hom wou doodskiet nie.

Van der Westhuizen bly saam met sy seun, GF, op die Houtnek-hoewe.

Hy het gisteroggend gesê hy en sy seun het die huis voor 06:00 verlaat. Van der Westhuizen het sy werkers opgelaai en is na die melkstalle, terwyl sy seun vertrek het na die plaas waar hy werk.

Van der Westhuizen het gesê hy is later terug na die huis.

Hy het dadelik onraad vermoed toe ligte in die huis aangeskakel was. Hy was op pad na die kombuis toe hy die inbreker by sy dogter se kamerdeur sien staan het.

Die booswig het Van der Westhuizen se .38-rewolwer gehad.

“Wat soek jy in my huis?” wou Van der Westhuizen weet. Die inbreker het geld gesoek.

Van der Westhuizen het sowat R150 op die grond neergegooi.

Die inbreker het die sneller die eerste keer getrek. Die boer het gesê hy kan nie die gevoel beskryf wat toe oor hom gekom het nie. “In daai stadium (toe die skoot nie afgaan nie) het ek besef God is aan my kant.”

Die inbreker het Van der Westhuizen eers beveel om op die grond te lê en toe om sy dogter se kamer binne te gaan.

Hy het na ’n ander kamer gehardloop. Die inbreker moes volgens hom toe nog twee keer die sneller getrek het, maar weer eens het geen skoot afgegaan nie.

Volgens hom het die inbreker die R150 en sy seun se selfoon gesteel, maar die rewolwer buite die huis agtergelaat.

Die inbreker het ’n staaldeur oopgedwing en só by die huis ingekom.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/af493b63810d45e3a00687860c0f09d6/15-01-2010-07-42/Inbreker_trek_sneller_3_keer,_maar_gn_skoot_klap_

Sunday, 10 January 2010

Elderly couple murdered on farm

January 06 2010 at 04:06PM

In a scene paramedics described as "carnage", two elderly people were found murdered on their farm in the Free State on Wednesday morning.

"Paramedics were called to the farm this morning at (8am) and when they arrived on scene they were faced with absolute carnage," said Netcare 911 spokesman Chris Botha.

He said the murder at Plaas Poortjie Farm, located between Senekal and Steinrus, appeared to have taken place late on Tuesday night.

"The male, aged 65, and his 60-year-old wife had passed away during the night due to the severe trauma they had sustained."

Police comment was not immediately available. - Sapa

Source:IOL
http://www.iol.co.za/index.php?set_id=1&click_id=15&art_id=nw20100106112008590C453103

Boere moet paraat raak

deur Ann van Douglas

2010-01-09 06:00

Die berig Egpaar wreedaardig vermoor op hul Oos-Vrystaatse plaas (7/1/10) verwys.

Is mnr. Koos (63) en mev. Retha (66) van Zyl regtig vermoor net omdat hul moordenaar gereken het hul skuld hom geld?

Nee, ek dink nie so nie!

Boere en hul families word vermoor sedert 1994 omdat hul voorgehou is in die struggle as die sogenaamde onderdrukkers, grondstelers, wat wreed optree teen hul werkers.

Vandag word dié boodskap nog aan die ANC-kiesers opgedis veral met verkiesingstyd:

Stem ANC anders gaan die boere, met ander woorde die wittes, weer apartheid skep.

Nie dat daar juis ’n verskil gemaak is deur die huidige regering behalwe nou om hulself te verryk ten koste van die res van Suid-Afrika nie.

Hul monde is vol beloftes, vol van rassisme, krete as daar fout kom, maar mense se lewens verbeter, nee eerder word hul kiesers net verder in die grond in getrap.

Dit laat mens dink aan ’n klomp bokke wat al agter die bokwagter aan stap sonder om vrae te vra.

Boere raak paraat.

Hou op om te dink dit gaan nie met jou gebeur nie.

Dit ?is ?so maklik vir daardie gewetenlose ondier-misdadiger om jou en jou gesin te vermoor want jy dink dit sal nie met jou gebeur nie.

Julle is voëlvry verklaar. Bring die masjiengeweer, sing hulle mos.

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Content/MyVolksblad/Briewe/2047/98918b2d3594457d81354162408eafc0/09-01-2010-06-00/Boere_moet_paraat_raak

Vleishaak-aanval: Ontstelde boere ruk op by hofverskyning

2010-01-09 01:33

Jan van der Merwe

Senekal. – Meer as 100 ontstelde boere het gister by die landdroshof hier opgeruk vir die eerste verskyning van die twee verdagtes wat ná die grusame moord op die Van Zyl-egpaar van die distrik aangekeer is.

“Waar was die pers vandag? Waar was die televisiekameras? As ’n boer ’n plaaswerker vermoor het, was daar vandag ministers ook hier. Plaasmoord is net te gewoon,” het mnr. Fanie Ferreira, voorsitter van die Emdonia-boerevereniging, die algemene gevoel opgesom.

’n Gevoel van verslaentheid heers steeds in die boeregemeenskap, het hy gesê. “Die ouens is kwaad.”

Mnr. Petrus Ndaba (29) en mnr. Pule Jacob Mpanyane (22) staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal van ’n motorvoertuig en veediefstal ná die moord Dinsdagaand op mnr. Koos van Zyl (63) en sy vrou, Retha (66), op hul plaas Poortjie tussen Senekal en Steynrus.

Die twee verdagtes het vlugtig verskyn.

Die verhoor is vir verdere ondersoek tot 1 Februarie uitgestel.

Die verdagtes wil ook om regshulp aansoek doen.

Hulle het nog nie om borgtog aansoek gedoen nie en bly in aanhouding.

Die egpaar is eers wreedaardig met ’n vleishaak aangerand en daarna albei met hul eie haelgeweer in die bors doodgeskiet.

Die een verdagte, wat ’n plaaswerker op die plaas was, is op die dag van die moord afgedank.

Hy is Woensdag in die egpaar se dogter, Marietjie, se voertuig naby Odendaalsrus aangekeer.

Die polisie het dieselfde dag by die ander verdagte op die plaas Driepunt by Steynsrus een van die egpaar se selfone gekry.

Ferreira het gesê die ergste vir hom was om die egpaar se dogters se hartseer te aanskou.

Estie, ’n onderwyseres op Ventersburg, en die jonger dogter, Marietjie, ’n kandidaatprokureur in Bloemfontein, was ook by die hof.

Hul broer, Erik, sou gisteraand van Amerika, waar hy werk, in Johannesburg aanland.

Met sy koms sal die familie die egpaar se begrafnisreëlings kan tref.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/ef6ae0259840479d8107ebdd0f1d1a0f/09-01-2010-01-33/Vleishaak-aanval_Ontstelde_boere_ruk_op_by_hofverskyning

Boer, vrou geskiet ná vleishaak-houe

2010-01-08 00:38

Juan van der Merwe

’n Vrystaatse boer en sy vrou is Dinsdagaand met hul eie haelgeweer doodgeskiet nadat hulle wreed met ’n vleishaak aangeval is.

’n 27-jarige voormalige plaaswerker van mnr. Koos van Zyl (63) en sy vrou, Retha (66), is eergister weens die moorde in hegtenis geneem. Die egpaar se plaas is tussen Senekal en Steynsrus.

Die plaaswerker, wat glo die vorige dag afgedank is, is naby Odendaalsrus in die rooi Chevrolet Aveo-sedan van die egpaar se dogter, Marietjie, aangekeer.

Die egpaar het hom glo nog R250 geskuld.

Sers. Majang Mosupa, polisiewoordvoerder, sê mev. Van Zyl het die aand van die moord vermoedelik die huis verlaat nadat hul kragopwekker afgegaan het.

Hul plaas, Poortjie, het nie Eskom-elektrisiteit nie.

Haar aanvaller, wat vermoedelik die kragopwekker afgesit het, het Van Zyl kort daarna buite die kombuis ingewag.

Hy het haar oorval en wreed met ’n vleishaak, hoofsaaklik oor die bors, asook een keer in die nek gekap.

Mnr. Van Zyl, wat sieklik was, is daarna in die kombuis oorval en twee keer met die vleishaak in sy nek en op sy kop gekap.

Hartseer gemeenskapslede sê hy was swak en sou hom nie kon teësit nie.

Die aanvaller het mev. Van Zyl se hande met baaltou vasgebind en haar deur die kombuis tot in die huis se gang gesleep.

Hy het die egpaar se haelgeweer langs hul nog opgemaakte bed in hul slaapkamer gevind. Hy het elkeen van naby met een skoot in die bors doodgeskiet.

Die verdagte het daarna met hul dogter se voertuig en hul twee selfone gevlug.

Hy het ook glo een van die egpaar se skape in die motor gelaai en iemand ’n rygeleentheid gegee.

Reserviskonstt. Thapelo Mponeng en Moeti Mokoatsi van Odendaalsrus se eenheid vir sigbare polisiëring het die voertuig waarna die polisie gesoek het eergistermiddag gesien.

Hulle het hul kollegas om bystand gekontak en die verdagte vasgetrek.

Mnr. Jan de Villiers, veiligheidsbeampte van die Emdo-nio-boerevereniging, het ’n beroep op boere gedoen om aktief deel van hul gebied se veiligheidstelsel te word.

Hy sê dit was die tweede plaasaanval in die distrik in twee weke.

Mnr. Frik Ras, ook ’n boer, is die dag ná Kersfees in ’n aanval op sy plaas beseer.

“Dit is ’n neiging wat sedert 1994 aanhou. Die ouens wat oorbly, gaan moet leer om na hulself te kyk,” sê De Villiers.

Die egpaar word deur hul drie kinders, Erik, Estie en Marietjie, oorleef. Hulle het nie kleinkinders nie.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/89d07c7f2d4b405e837be3ef2541b315/08-01-2010-12-38/Boer,_vrou_geskiet_n%C3%A1_vleishaak-houe

SA gesin verlaat hul Zim-plaas

2010-01-08 00:03

Sarel van der Walt

Die Suid-Afrikaanse egpaar vir wie plaasbesetters sedert verlede naweek dreig op hul Zimbabwiese plaas, het die plaas gistermiddag verlaat.

Mnr. Dolf du Toit (66), sy vrou, Alida (61), en hul seun, Rudolph (38), het gisteraand by vriende sowat 25km van hul plaas tuisgegaan ná ’n week van drama.

Mnr. Rudolph du Toit was vir meer as ’n dag in die Du Toits se plaashuis op hul plaas in die Nyazura-distrik, sowat halfpad tussen Harare en Mutari in die oostelike hooglande, vasgekeer.

Plaasbesetters het hom eers gistermiddag toegelaat om die huis te verlaat. Die plaasbesetters het ook die Du Toits se klere aan hulle oorhandig en hulle aangesê om die plaas te verlaat.

Die plaasbesetters het verlede Saterdagoggend vir die eerste keer by die plaas opgedaag en geëis dat hulle die plaas oorhandig aan die “ware eienaar” – ene brig. Innocent Chiganze van die Zimbabwiese lugmag.

Die Du Toit-egpaar is vroeër vandeesmaand deur van die plaasbesetters aangerand, maar nie ernstig beseer nie.

Mnr. Dolf du Toit het laat gistermiddag aan Beeld gesê hy en sy vrou was eergisteroggend dorp toe. “Toe ons terugkom, het ek my voorman raakgeloop. Hy het geskree ek moet ‘ry, ry, ry!’, want die plaasbesetters was by die plaashuis en Rudolph daarin vasgekeer.”

Die Du Toits is terug dorp toe om die polisie te vra om te kom help, maar dié wou nie. “Ons het toe ons ambassade in Harare gebel. Dié het ’n mnr. Simmins hierheen gestuur. Hy het alles in sy vermoë gedoen, maar eerstehands ons frustrasies met die polisie hier ervaar.

“Hy kon wel reël dat die polisiehoof in Mutare beveel dat die polisie saam met ons uitkom plaas toe.

“Rudolph was vanoggend (gisteroggend) nog in die huis vasgekeer en ons het gevra hy moet toegelaat word om uit te kom. Ons wou ook ons klere hê.

“Alida (mev. Du Toit) is toestemming gegee om in te gaan en die klere te gaan haal, maar ek kon nie, want ek was glo te cheeky,” het Du Toit vertel. “Rudolph is toegelaat om uit te kom. Hy is ’n bietjie getraumatiseer.”

Chiganze het later self by die plaas opgedaag. “Toe hy my beeste sien, het hy gesê hy belowe hy sal na na hulle omsien. Hy het ook onderneem dat hulle niks uit my twee huise of my werkwinkel sal dra nie en gesê ‘ons kan verder onderhandel’.”

Die besettings kom slegs enkele weke nadat Suid-Afrika en Zimbabwe ’n handelsooreenkoms onderteken het wat Suid-Afrikaanse boere die reg gee om op vergoeding aan te dring as hul grond onwettig oorgeneem word.

Mnr. Charles Taffs, visepresident van die Zimbabwiese Commercial Farmers’ Union (CFU), het vroeër in ’n verklaring gesê landwyd word 152 van die oorblywende 300 kommersiële plase in die land geteiken. Volgens hom is daar inligting dat mnr. Didymus Mutasa, ’n voormalige Zimbabwiese minister van grondsake, agter van die besettings sit.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/997482c2676946c2ac8f165f588a1a73/08-01-2010-12-03/SA_gesin_verlaat_hul_Zim-plaas

Sunday, 27 December 2009

Met panga doodgekap

2009-12-23 04:22

Buks Viljoen

’n Boer het magteloos met sy hande vasgebind aan die bad se handvatsel gehang terwyl hy eergisternag in sy vrou se arms in hul plaasopstal naby Louis Trichardt dood is.

Vier aanvallers het mnr. Pieter Snyman (in sy laat 50’s) ten aan- skoue van sy gesinslede verskeie kere met ’n panga teen die kop gekap en met ’n mes in die bors gesteek.

Die vier, gewapen met jagmesse en ’n panga, het mev. Jeanine Snyman (50) en die egpaar se dogter Sharon (12) omstreeks 18:30 in hul huis op die plaas Balmoral, naby Mara, oorval.

Volgens mnr. Japie van der Goot, veiligheidshoof van die Vivo/Alldays-gebied van TLU SA Noord, is die twee verskeie kere aangerand en vasgebind.

“Die aanvallers het Afrikaans met hulle gepraat en gesê hulle weet mnr. Snyman was in daardie sta­dium elders op die plaas om ’n pomp af te sit.”

Kort daarna het mnr. Snyman, alombekend as “Pieter Slang” vanweë sy liefde vir slange, opgedaag. Hy is ook vasgebind.

Die moordenaars het hom na die badkamer gesleep waar sy vrou en Sharon aangehou is.

Snyman se dogter Tracy (30), wat ook op die plaas werk, was besig om arbeiders by hul kampong af te laai.

By haar terugkeer is sy ook oorval, vasgebind en saam met die res van die gesin in die badkamer aangehou. Die rowers het geld en wapens geëis en mnr. Snyman verskeie kere met die panga gekap.

Hulle het die gesin later in die badkamer toegesluit en die huis deurgesoek.

Mev. Snyman het haar erg beseerde man in haar arms vasgehou totdat hy dood is, het Van der Goot gesê.

Die drie getraumatiseerde vroue kon hulself eers teen 22:00 bevry en op ’n naburige plaas gaan hulp soek.

By die polisie se aankoms op die plaas het hulle glo geweier om eerste by die opstal in te gaan en gevra boere wat op die toneel was, moet die huis eers deurkyk.

Snyman se lyk is in die badkamer gekry met gapende wonde aan sy kop. Sy hande was steeds aan die bad vasgemaak.

Daar is vasgestel twee skootrekenaars, ’n TV-stel en Snyman se Toyota-bakkie is weg. Die kluise is ook oopgebreek. Van die vuurwapens is net so daarin gelaat.

Die bakkie is later verlate in ’n plakkerskamp buite Polokwane (Pietersburg) gekry.

Supt. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog aangekeer nie. Die moordenaars is volgens haar tussen 20 en 30 jaar oud.

Mev. Snyman en die dogters bly sedert die aanval by ’n buurman en kry berading.

Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het gesê die geweld van die moord is skokkend. Hy het die moordenaars as “sosiale terroriste” beskryf.

“Die regering se siening dat dié tipe misdaad gewoonlik deur buitelanders gepleeg word, is verkeerd bewys aangesien die moordenaars, wat Afrikaans goed praat, plaaslike mense met kennis van die omgewing is.”

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/9226f84f9dd54b33acb40c49399deb27/23-12-2009-04-22/Met_panga_doodgekap

Plaasaanval: ‘Ek moet skiet om te leef’

2009-12-24 03:54

Hilda Fourie

“Ek moet skiet om te oorleef.

“Ons het nie meer ’n ander keuse nie.”

So het mnr. Louis Meintjes, adjunkpresident van TLU SA, gister gesê. Hy het Maandagnag met drie skote geantwoord toe ’n rower in sy huis in Boekenhoutskloof in die Cullinan-omgewing op hom geskiet het.

Meintjes en sy vrou, Erika, het dié nag omstreeks 23:15 wakker geword van ’n harde slag. Dit was toe rowers hul eetkamervenster met ’n klip gebreek het.

Hy het in sy kamerdeur gaan staan, in die gang af geloer en twee mans in die sitkamer sien staan.

“Ek het die handradio vir my vrou gegee, haar badkamer toe gestuur en gesê sy moet die gemeenskap roep,” het Meintjes vertel.

“Toe sy op die radio roep, het hulle (die rowers) dit gehoor en op my geskiet. Hulle het een skoot afgevuur.

“Toe hy skiet, het ek gereageer. Ek het nie gewonder of ek moet skiet of nie. Ek het teruggeskiet.

“Die realiteit is hy skiet eerste. Daar is hoeveel voorvalle waar die rowers die mense kan vasbind en kan vat wat hulle wil hê, maar hulle doen dit nie.

“Hulle skiet.

“Ek moet skiet, anders sal ek dit nie oorleef nie.”

Meintjes vermoed een van sy drie skote het een van die rowers getref, want bloed is op die plaveisel buite die eetkamervenster gekry.

Die twee rowers en nog een wat vermoedelik in die tuin geskuil en van buite op Meintjes geskiet het, het gevlug. Polisie- en gemeenskapslede wat binne minute op die toneel was, het die rowers se spoor probeer volg, maar niks gekry nie.

Mev. Meintjes het gesê al is daar verskeie misdaadvoorvalle soos diefstal, huisbrake en huisrooftogte in dié omgewing, weier sy om deur misdadigers geïntimideer te word.

“Ek bid elke dag vir ons veiligheid. Daar is honderde mense wat elke dag vir God vra om ons te behoed en te bewaar.

“As dit nie vir Hom is nie, sal ons dit nie oorleef het nie,” het sy bygevoeg.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/1a7bb9decee8488f8fa317baedb10f00/24-12-2009-03-54/Plaasaanval_%E2%80%98Ek_moet_skiet_om_te_leef%E2%80%99

Sunday, 20 December 2009

Terreur tóé, maar bomplanters is nóú helde

deur E. de Clerk
2009-12-17 22:32

Hoe kan daar ooit versoening in ons land plaasvind wanneer mense wat terreurdade gepleeg het, vereer word?

Beeld berig oor ’n landsvlag en ’n sertifikaat wat deur pres. Jacob Zuma oorhandig is aan die vrou van ’n man wat as “vryheidsvegter” in die Kerkstraat-bomontploffing in 1983 dood is.

Dié lafhartige daad word nou voorgehou as die dapper optrede van mense wat vir hul vryheid gesterf het.

Die “vegters” se name gaan op die Muur van Name by Vryheidspark in Pretoria gegraveer word.

Hoe moet die onskuldige mense voel wat familie en vriende in hierdie laakbare ANC-terreuraanval verloor het?

Die ANC gebruik nog steeds die apartheidmonster om sy menseregtevergrype van die 1980’s te probeer regverdig.

Hy verswyg egter dat die metodes wat hy gebruik het – soos aanvalle op burgerlikes en die gebruik van bomme en landmyne – uitdruklik deur die Geneefse Konvensie verbied word.

Dus terreuraanvalle, maar nou word die bomplanters as helde vereer.

Die waarheid word verdraai en die geskiedenis word deur die ANC herskryf asof hulle nooit hierdie grusame dade gepleeg het nie. En almal moet hulle daarmee versoen.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/MyBeeld/Briewe/1976/59824bebb6814c5f8dd79be81cb41850/17-12-2009-10-32/Terreur_t%C3%B3%C3%A9,_maar_bomplanters_is_n%C3%B3%C3%BA_helde

Drie vas ná byl-aanval, rooftog op bejaarde

2009-12-18 01:34

Fanie van Rooyen en Hilda Fourie

Polisielede het bykans 40 uur lank aaneen gewerk om die aanvallers van ’n bejaarde man, wat op sy kleinhoewe buite Bronkhorstspruit met ’n byl oor sy kop en liggaam geslaan is, vas te trek.

Teen gistermiddag het die polisie drie mans, wat glo betrokke was by die aanval op mnr. Ivan Raubenheimer (75), in hegtenis geneem en was hulle op die spoor van een van die hoofverdagtes.

Die polisie het ook alles wat eergister en laasweek tydens twee huisbrake by Raubenheimer geplunder is, teruggekry.

Raubenheimer, wat alleen op sy kleinhoewe in Balmoral woon, is eergisteroggend omstreeks 07:00 oorval, vasgebind en met ’n byl bygedam.

Kapt. Sipho Zulu, polisiewoordvoerder, het gesê Raubenheimer het die honde in sy erf hoor blaf en gaan ondersoek instel. Dit was toe dat minstens drie mans hom oorval het.

“Die mans, waarvan een ’n mes gehad het, het hom by sy huis ingeneem en hom met tou vasgebind. Daarna het hulle hom met ’n byl, wat hulle iewers gekry het, oor sy lyf en kop geslaan en hom daar gelos,” het Zulu gesê.

Die drie rowers het met ’n rewolwer en ’n .303-geweer, elektriese toebehore, DVD’s en ’n kwadfiets gevlug. Hulle wou ook Raubenheimer se Mercedes Benz steel, maar kon nie die motor se sleutels vind nie.

Bure het kort daarna onraad vermoed en die polisie ontbied.

’n Deurbraak het gisteroggend gekom toe drie verdagtes in Zithobeni buite Bronkhorstspruit, sowat 10 km van Raubenheimer se kleinhoewe af, aangekeer is.

Volgens Zulu word ’n vierde verdagte nog gesoek aangesien een van die aangekeerdes moontlik nie regstreeks by die aanval betrokke was nie, maar dalk wel net by die beplanning.

“Ons sien dié drie arrestasies as ’n groot deurbraak,” het Zulu gesê.

“Ons het inligting uit die gemeenskap oor ’n motor wat skynbaar deur die rowers gebruik is, opgevolg en vasgestel waar die rowers skuil,” het hy gesê.

“Die polisie en lede van GE Security het daarna vroeg gisteroggend ’n klopjag op die betrokke perseel in Zithobeni uitgevoer en drie verdagtes daar in hegtenis geneem.”

Al Raubenheimer se besittings is in hul besit gevind.

Die moontlikheid word ook ondersoek dat die verdagtes wat aangekeer is, en tussen 20 en 30 jaar oud is, betrokke was by twee huisbrake verlede week op Raubenheimer se kleinhoewe.

Hulle sal na verwagting Maandag in die Bronkhorstspruit-landdroshof op aanklagte van huisroof, huisbraak en diefstal, besit van vermoedelik gesteelde goedere en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie verskyn.

Raubenheimer is gister in ’n stabiele toestand uit ’n plaaslike hospitaal ontslaan waar hy behandel is.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/56d0363fd5784f9fab8f237a3989ec13/18-12-2009-01-34/Drie_vas_n%C3%A1_byl-aanval,_rooftog_op_bejaarde_

Friday, 18 December 2009

PraagTV: La Rochelle Geloftefees


PraagTV: Toespraak gelewer op 16 Desember 2009 in die holkrans by die La Rochelle-geloftefeesterrein. Die La Rochelle-geloftefeesterrein is ongeveer 50km anderkant Carolina op die Amsterdampad geleë. Geloftefeeste word reeds sedert 1914 daar gehou. Vroeër jare het mense reeds op die 15de Desember daar aangekom, braaivleis en Boeresport gehou alvorens die Gelofte op 16 Desember afgelê is. Die Geloftediens en -toespraak vind in 'n holkrans plaas waarin Boesmantekeninge te siene is, asook 'n granietsteen wat in die wand ingemessel is met die datum "1938" en die inskripsie: "Om in 2038 geopen te word.

La Rochelle Geloftefees Deel 1

As u nie die video kan sien nie, kliek hier.

La Rochelle Geloftefees Deel 2

As u nie die video kan sien nie, kliek hier.

La Rochelle Geloftefees Deel 3

As u nie die video kan sien nie, kliek hier.

La Rochelle Geloftefees Deel 4

As u nie die video kan sien nie, kliek hier.

La Rochelle Geloftefees Deel 5

As u nie die video kan sien nie, kliek hier.

La Rochelle Geloftefees Deel 6

As u nie die video kan sien nie, kliek hier.

Oorsprong: PraagTV
http://www.youtube.com/user/praagtv
http://www.praag.co.za

Was Dingaan die eerste transformeerder?

DONDERDAG, 17 DESEMBER 2009

Deur Dr. Dan Roodt

Toespraak gelewer op 16 Desember 2009 in die holkrans by die La Rochelle-geloftefeesterrein*
Op Geloftedag herdenk ons die oorwinning van die goeie oor die bose, van die lig oor die duisternis, van die regverdige en godvresende Voortrekker oor die listige, wreedaardige Dingaan. Daar is sekerlik vandag baie Afrikaners wat meen dat Dingaan weereens in ons land aan bewind is, want dieselfde soort wreedhede en gruweldade as wat by Bloukrans en Weenen teen ons gepleeg is, het in die nuwe Suid-Afrika alledaags geword.

Elke tydvak en elke revolusie word deur ‘n begrip of ‘n woord benoem. Daar was die bloedige Franse revolusie, die Oktoberrevolusie van 1917 in Rusland wat die tydvak van kommunisme ingelui het, asook Mao se kulturele revolusie wat ‘n suiwerder vorm van kommunisme en gelykheid aan Sjina moes bring. Hier by ons staan die tydperk 1948-1994 vandag bekend as die sogenaamde “apartheidtyd”. Dis geen onskuldige benaming nie, want in die woord “apartheid” het die vyande van die Afrikaner ‘n towerwoord, ‘n sjibbolet, ‘n vloek gevind waarmee ons vandag lamgelê en van alle regte en menswaardigheid beroof word.

In die toekoms, iewers, wanneer Suid-Afrika hom hopelik uit die huidige greep van boosheid en korrupsie sou ontworstel het, gaan geskiedkundiges, skrywers, filosowe, staatswetenskaplikes en gewone mense waarskynlik na dié periode verwys as die transformasietyd. Een van die beste moderne romans in Afrikaans, deur P.J. Haasbroek, speel in Kambodja af, ‘n land wat insgelyks deur ‘n fanatiese en kommunistiese revolusie verwoes is. Dit heet Die jaar nul. Tydens die revolusie van die Rooi Khmer in Kambodja het vier miljoen mense omgekom. Lede van minderheidsgroepe soos Sjinese handelaars is voor die voet uitgemoor. Die hele bevolking is aan ‘n vorm van politieke terreur blootgestel. Een van die slagspreuke van die Kambodjaanse revolusie was: “Om jou te hou, is geen voordeel nie. Om jou te vernietig, is geen verlies nie.”

Herken ons nie iets van hierdie slagspreuk in die huidige Suid-Afrika nie? Om 'n Afrikaanse skool of universiteit te behou, is geen voordeel nie; om dit te vernietig, is geen verlies nie. Dieselfde geld ons plaasboere wat in hul duisende al aangeval is en waarna ons regering geen poging aangewend het om hulle te beveilig nie. In die groot stede, waar stedelinge insgelyks deur swerwende boosdoeners geteister word, is tienduisende en selfs honderdduisende mure met elektriese drade en lemmetjiesdraad opgerig, die stille getuienis van ons behoefte aan veiligheid en ons vrees vir die transformasieproses wat besig is om oor ons land te spoel.

Die poging om ‘n nuwe orde in Kambodja tot stand te bring – ‘n jaar nul, ‘n wêreld wat van voor af begin sonder die besmetting van die ou orde – het tot 'n misdaad teen die mensdom gelei.. Soos die karakter Krishmi in Haasbroek se Jaar nul op bladsy 38 sê: “In die naam van die nuwe orde slaan hulle mense en word die tronke vol. Duisende is al doodgemaak uit ywer vir een of ander ideale orde. Dit lyk my onvermydelik dat elke nuwe orde sy eie drag lyding bring; daaraan kan ons nie ontsnap nie. Daarom dink ek die hel is juis orde, ‘n groot ysige orde van mense wat in rye staan soos bome in ‘n plantasie, roerloos op een plek. In die hemel sing en dans hulle... Jy maak my bang as jy van ‘n Groot Eenheid praat, Ton lon Jin.”

Nes daar in Kambodja in die laat sewentigerjare ‘n volksmoord gepleeg is om ‘n Groot Eenheid tot stand te bring, word daar vandag in Suid-Afrika deur wetgewing, staatsmag, sosiogeniëring en desnoods deur geweld, gepoog om ‘n nuwe orde en Groot Eenheid tot stand te bring. Die sentrale begrip, die groot idee, die revolusionêre strydkreet van ons land ná 1994 is: “transformasie”.

Transformasie is die kleinkind van alle kommunistiese revolusies van die twintigste eeu. Vir baie mense, veral liberale of linkse Afrikaners wat vandag die nuwe orde met soveel ywer dien, is dit moontlik ‘n aanvegbare stelling. Vir hulle is “kommunisme dood” en het dit skadeloos geword. En indien die stelling waar is, is hulle onmiddellike reaksie: “En wat daarvan? Ons het geen beswaar teen kommunisme nie, al het dit 100 miljoen mense in die twingtigste eeu in strafkampe en oorloë laat sterf. Ons enigste beswaar is teen apartheid, teen Afrikanereksklusiwiteit, teen die ou vlag en rassisme.’

Die ou vlag, selfs die kleure oranje, wit en blou van die ou Prinsevlag wat ons voorouers tesame met die Protestantse Bybel in die moedertaal en die Romeins-Hollandse regstelsel hierheen gebring het, gee aanstoot. Maar nie die rooi en geel van die hamer en sekel nie. Aand na aand sien ons dit op die TV-nuus wat deur Riaan Cruywagen in sy vertroude stem gelees word, maar ons is so gewoond daaraan, ons merk dit nie eens op nie. Lede van die ANC-regering spreek mekaar as “kameraad” of “comrade” aan en ook daarmee vind ons niks fout nie. Want het ons nie die nuwe orde, die nuwe wêreld, ons “jaar nul”, met geesdrif omhels nie? En is ons nie almal lief vir Nelson Mandela, die draer van die nommersesrugbytrui wat nou ook deur Hollywood verewig is nie, al is Mandela dan ook die skrywer van ‘n boek met die titel: “How to be a good communist”?

Dus, om ‘n verband tussen transformasie en kommunisme te sien, is geensins omstrede nie. Die voorstanders van transformasie is selfs trots op die herkoms van hul begrip; vandaar ook Suid-Afrika se noue bande met Kuba, een van die laaste plekke op aarde wat nog amptelik onder kommunistiese beheer verkeer.

Vandag, hier, wil ek egter dieper in die verlede in delf, iets wat Van Wyk Louw vir ons so mooi in ‘n gedig gestel het:

En hiermee keer ons langs die wenteltrappe

en die kartelings af na ander jare:

word druïdes van ons volste wete,

word – gemasker – beitelaars op klippe,

wentelaars van klippe tot iets minders

- ja!- as piramides: maar tog séker

hoeders van die eerste weet oor “gode”.

Verder terug as Mandela, wat vir ons transformasie en ‘n kwasikommunistiese revolusie gebring het, staan Dingaan, wie se misdadige optrede direk tot die Gelofte en die slag van Bloedrivier gelei het.

Die Gelofte, soos dit moet, fokus op ons verbond wat met God gesluit is. Dit lui: "Hier staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde, om 'n gelofte aan Hom te doen dat, as Hy ons beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as dankdag, soos 'n sabbat, sal deurbring en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig waar dit hom behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee."

In die strydkreet waarmee Dingaan sy krygers aangesê het om Piet Retief en sy geselskap dood te maak, het hy hulle volgens oorlewering as "wit towenaars" beskryf. Hierin kan ons vele dinge lees, maar vir my dui dit die begin van die transformasierevolusie aan. Immers het Dingaan met sy beskrywing te kenne gee dat Retief-hulle tot 'n ander kultuur, taal en ras as hy behoort het en daarom verdien het om te sterf. Agterna is hulle op gruwelike wyse doodgemartel en Retief moes aanskou hoedat sy volgelinge een na die ander gefolter is en hul skedels oplaas met knopkieries verbrysel is.

Hierna is 500 vroue en kinders ook op die afgryslikste wyse vermoor. Daar word gesê dat 'n mens nie die geskiedenis moet misbruik nie, maar is hierdie gebeure nie vandag - te midde van die geweld en transformasie wat ons tans ervaar - soveel te meer relevant en ter sake nie?

Paul Kruger se outobiografie deur D.W. Krüger, wat 'n maand of twee gelede by PRAAG in 'n heruitgawe verskyn het, bevat 'n beskrywing van daardie tonele waartydens ons voorsate uitgewis is, as straf vir hul tog na vryheid die binneland in. In die woorde van Paul Kruger:

„Maar watter verskriklike tonele het ons nie in die ander laer gesien nie. Daar het die lyke van ons mense gelê wat deur ʼn ander afdeling van die Zoeloeleër vermoor is en in hulle bloed gebaai het. Die veld was wit van die vere wat die moordenaars uit die beddegoed van die waens geskud het. Daar was skape wat lewendig oopgesny is en manne, vroue en kinders op die gruwelikste wyse gefolter, vermoor, deursteek en keelaf gesny. Die aasvoëls, wat soos hulle vertel het, so ʼn Zoeloe-impi orals gevolg het, het reeds begin om die dooies te verskeur. Daar het moeders dood gelê asook sterwendes nog met die kleintjies aan die bors gedruk. Ander het met verstyfde arms hulle kinders, deurboor met assegaaie wat die lyke aanmekaar gehou het, omklem. Baie lyke is op die verskriklikste manier mishandel en geskend, en klein kindertjies het gelê waar die barbare hulle neergegooi het, nadat hulle die harsings teen die wawiele uitgeslaan het.” (PK, bll. 28-29.)

In die twintigste eeu, is daar vele boeke oor kommunisme geskryf, veral ná die Russiese skrywer Aleksandr Solsjinitsin se werke in Westerse tale vertaal is. Die strafkampe en gruweldade van kommunisme is ná byna 'n eeu van sensuur deur die liberale media en veral die Westerse intellektuele en akademici ontbloot vir wat dit is: 'n mensdaad teen die mensdom, maar ook: primitiewe geweld en moordlus wat in die naam van revolusie en 'n beter wêreld met groter gelykheid botvier.

Dingaan het nie gelykheid of kommunisme nagestreef nie, maar in sy bereidheid - en sou 'n mens sê, die gemak - waarmee hy die onskuldige Voortrekkermanne, -vroue en -kinders laat uitmoor het, was hy Suid-Afrika se eerste swart revolusionêr, ons land se eerste transformeerder. Hy het verstaan dat terreur 'n politieke wapen is wat met welslae aangewend kon word. Waarskynlik was die keerpunt in die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis die Kerkstraatbom wat die ANC op 20 Mei 1983 laat ontplof het. Dit was 'n terreurdaad waarop selfs 'n Dingaan trots sou kon wees, want 19 onskuldige mense het gesterf en ongeveer 200 is beseer.

Maar anders as die Voortrekkers onder Andries Pretorius in 1838, het hierdie daad van uiterste geweld nie die destydse Afrikanerleiers tot verdediging, straf en geregtigheid aangespoor nie. Dit het tot akkomodering, onderhandeling en uiteindelike kapitulering gelei.

Onlangs het mnr. Roelf Meyer, die hoofonderhandelaar van die Nasionale Party tydens die vroeë negentigerjare, in Rapport geskryf dat hy en sy regering nie anders kon as om aan die ANC en die SAKP oor te gee nie. Hoewel Suid-Afrika destyds 'n kernmoondheid was, met waarskynlik die vyfde of sesde sterkste weermag ter wêreld, het mnr. Meyer dit goedgedink om alle beheer van die staat - ook oor die weermag en polisie - aan die ANC oor te dra. Hierdie daad van blinde en naïewe vertroue in 'n gewelddadige en listige vyand, is presies dít wat tot die dood van Piet Retief en sy geselskap gelei het. Ook Retief het beleefd en goedgelowig op Dingaan se versoek om hul wapens buite die kraal te los, gereageer.

Op 'n meer uitgebreide manier het 'n onlangse geslag politici die wapens buite die kraal oorhandig en is ons vandag byna meer weerloos as daardie vroue en kinders wat niksvermoedend in 1838 langs die Tugelarivier deur die Zoeloe-impi's verras is en 'n verskriklike prys daarvoor moes betaal.

Die transformasie van die Suid-Afrikaanse weermag was waarskynlik die enkele mees belangrike politieke gebeurtenis van die afgelope vyftien jaar. Nie net behels transformasie direkte en verskriklike geweld soos wat Dingaan gepleeg het nie, maar as stelsel en revolusionêre program skep transformasie die potensiaal vir verdere geweld, massamoord en uitwissing.

Deur die geskiedenis het filosowe en politieke denkers daarteen gewaarsku om jou vyand se beloftes op sigwaarde aan te neem. Goedgelowigheid en gebrek aan kennis en insig word gewoonlik baie swaar deur die verloop van die geskiedenis gestraf. Een van die politieke filosowe wat in die Westerse wêreld tot vandag toe gelees word, is Machiavelli. Hy het heelwat te sê gehad oor die mistasting om goeie bedoelings aan jou politieke opponent toe te skryf.

Binne die Calvinisme is ons geneig om te dink dat alles deur God vooraf bepaal word; vandaar dan ook sekere Afrikaners wat vandag beweer dat God die ANC oor ons aangestel het om ons vir ons sondes uit die verlede te straf. Maar by die goddelike wil en predestinasie, is daar ook die menslike wil te voeg. Calvyn was van mening dat die Here diegene help wat hulleself help. Nicolo Machiavelli in Die Prins skryf só oor Italië en oor sy stadstaat Florence:

"Met ons is daar groot geregtigheid, want daardie oorlog is regverdig wat nodig is en wapens word geseën as daar geen ander hoop as op hulle is nie. Hier heers die grootste bereidwilligheid en waar die bereidwilligheid groot is, kan die moeilikhede nie groot wees nie as u bloot daardie mans volg wat ek onder u aandag gebring het. Wat meer is, hoe buitengewoon is die weë van God nie wat bo alle voorbeelde geopenbaar is: die see is verdeel, 'n wolk het die weg gelei, die klip het water voortgebring, dit het manna gereën, alles het tot u grootheid bygedra; u behoort die res te doen. God is nie bereid om alles te doen nie en sodoende ons van ons vrye wil en daardie deel van die glorie wat aan ons behoort, te ontneem nie."

Ek herhaal die laaste sin: "God is nie bereid om alles te doen en sodoende ons van ons vrye wil en daardie deel van die glorie wat aan ons behoort, te ontneem nie." Vanjaar is die 172ste jaar dat Afrikaners Geloftefees hou. Terwyl ons hierdie goddelike ingryping in die lot van ons pioniervoorvaders gedenk, huldig ons terselfdertyd hul moed, intelligensie en deursettingsvermoë. Dít is die aspek waarna Machiavelli verwys as hy sê dat God ons nie van ons aandeel aan die glorie van 'n veldslag soos Bloedrivier wil ontneem nie.

In dié opsig is Andries Pretorius 'n interessante figuur in die hele Bloedriviersage. Hy het aanvanklik nie deelgeneem aan die Voortrek nie, maar het wel in die Oos-Kaap verskeie militêre ekspedisies teen die Xhosas aangevoer. Op dié stadium was die Voortrekkers, wat ná die slag van Italeni waar hulle weereens met verliese van die Zoeloes moes wegvlug, hulle eintlik vasgekeer in Natal, wat hulle as die Beloofde Land beskou het. Dit het gereën, hul kruit was letterlik nat en ons kan ons vandag kwalik indink in die moedeloosheid en wanhoop wat daar onder hulle moes geheers het. Maar toe kom die buitestaander, Andries Pretorius, 'n nuwe leier. Soos Machiavelli ook in Die Prins skryf, skep hopelose, negatiewe toestande dikwels die behoefte aan 'n nuwe leier wat soos Moses van ouds sal opstaan om sy verdrukte volk uit Egipte te lei.

Die nuwe leier moet buite die ou paradigma, die ou manier van dink en doen, kan tree. Soos ek reeds gesê het, is transformasie soos ons dit in dié land leer ken het, sinoniem met onreg en geweld. Maar geweld self skep onvermydelik buitengewone omstandighede. Immers streef die meeste mense op aarde - selfs in Afrika - vrede en harmonie na. Selfs al is jy vir jou buurman kwaad, gaan val jy hom nie met 'n AK 47 aan en wis hom en sy gesin uit nie. Daarom verteenwoordig die geweld wat Dingaan se impi's teen Piet Retief, asook die vroue en kinders by Bloukrans en Weenen gepleeg het, 'n tree buite alle norme van vreedsame naasbestaan – om van beskawing nie eens te praat nie. Ook die graad van geweld wat tans in Suid-Afrika heers, is geensins normaal nie, maar skep 'n wêreld sonder grense waar elkeen kan maak soos hy wil. Die geweldenaar, soos Dingaan, tree buite alle logiese of beskaafde denke en word iets dierliks, afskuwekkends en verskrikliks. In Joseph Conrad se beroemde novelle oor Afrika, Heart of darkness, spreek een van die karakters die beroemde woorde: "Die verskrikking! Die verskrikking!" (In Engels: “The horror! The horror!”

'n Ander skrywer, 'n Afrikaner wat in Engeland gaan woon het en blykbaar op goeie voet met die Britse koningshuis verkeer het, Laurens van der Post, het op 3 Maart 1954 ‘n lesing aan die Sielkundeklub van Zürich, Switserland gelewer wat agterna in boekvorm uitgegee is as: The dark eye in Africa. Die donker oog in Afrika. Hy het dié uitdrukking ontleen aan 'n gesegde wat hy in Indonesië gehoor het, “mata kelap”, waar die mees vredeliewende en betroubare persoon skielik besete kan raak en tot geweld en selfs moord kan oorgaan. Dan word daar gesê: Sy donker oog het van hom besit geneem. Van der Post slaag nie werklik daarin om te verklaar waarom daar so 'n donker oog veral in Afrika bestaan nie. Ons weet dat daar sedert Dingaan en sy Zoeloes se gruweldade miljoene mense op die afgryslikste maniere denkbaar in Afrika uitgemoor is. Tot vandag toe word hierdie dade van verskrikking in verslae van die Verenigde Nasies opgeskryf of hier en daar in boeke of koerante opgerakel. Hier by ons is daar plaasmoorde, huisaanvalle, motorkapings en alles wat daarmee saamhang.

Van der Post het ná die tweede wêreldoorlog bekommerd geraak oor die verandering wat hy in Afrika bespeur het en dit soos volg beskryf:

“Toe ek ná die laaste oorlog teruggekeer het, is ek geskok deur die verandering wat plaasgevind het. Gebeure wat in my kinderdae raar was, het algemeen geword: rituele moorde, mensvretery, geheime organisasies wat teen die wettige gesag agtiteer, blitsige uitbarstings van geweld en moord en soms skynbaar onverklaarbare uitbrekings in gebiede wat vir ‘n lang tyd geen onrus geken het nie. Hierdie dinge was oral besig om toe te neem, asook die ander klassieke tekens van innerlike onrus: ‘n toenemende instroming van ontwortelde mense na die stede, die groeiende aantal gefrustreerde werkloses op straathoeke, tesame met intellektuele wat nie in diens geneem kan word nie, die toename in politieke agitasie en sosiale verwarring, die skynbaar sinnelose breek van winkelvensters en onverklaarbare onluste in beskaafde strate.”

Die vraag wat ons vandag vir onsself moet afvra, is: Hoe het ons voorouers onder veel hagliker omstandighede as ons s'n vandag, daarin geslaag om die sogenaamde "donker oog in Afrika" te tem en sodoende 'n hele beskawing in dié land te vestig? Wat was daar wat Andries Pretorius, A.H. Potgieter, Paul Kruger en ander gehad het wat ons nie het nie, of waaroor Roelf Meyer en FW de Klerk waarskynlik nie beskik het nie?

Net gister lees ek oor die huidige eerste minister van Finland, Matti Vanhanen, dat hy blykbaar op 'n keer gesê het dat hy nog nooit raad van enigiemand anders gevra of gevolg het nie. Vir ons Afrikanerleiers wat so lief is om te vergader en te praat, met ons swetterjoel organisasies wat een en almal mekaar se raad of "modelle" volg, is dit nogal 'n merkwaardige houding vir 'n leier om in te slaan. Daarin lees ek egter Vanhanen se behoefte om buite die gewone - dít wat die mense sê of glo, die sogenaamde konsensus - te tree en die risiko van eie besluite te neem.

In die lewe van enige volk of enige groep mense op aarde, 'n dorp, 'n straat, 'n gesin, breek daar 'n tyd aan wanneer die gewone en aanvaarde oplossings nie meer deug nie. Dan verg dit waagmoed, durf en visioenêre leierskap. Soos Machiavelli dit gestel het: "daardie oorlog is regverdig wat nodig is en wapens word geseën as daar geen ander hoop as op hulle is nie."

Dit klink amper asof ek u soos van ouds voor die slag van Bloedriviet tot oorlog wil oproep. Daar heers vandag groot ontnugtering onder alle Afrikaners van dwarsoor die politieke spektrum, van Breyten Breytenbach tot Eugene Terre'Blanche. Om die volgende vyf jaar in Suid-Afrika te voorspel en om te sê dat daar nie 'n vorm van oorlog gaan uitbreek nie, is om die minste te sê, moeilik.

Die geskiedenis en die politiek van Suid-Afrika het nie veel verander oor die afgelope 200 jaar nie. Slegs die omstandighede het meer verwikkeld geraak. Die soort oorlog wat ons vandag voer, is nie meer met voorlaaiers en assegaaie nie. Dikwels is dit 'n oorlog, nie van die swaard nie, maar van die pen. En soos hulle sê, is die pen magtiger as die swaard. Die afgelope paar dekades is die Afrikaner bowenal vasgevang in 'n propagandaoorlog waar hy gedurig in die beskuldigdebank verkeer, hetsy oor apartheid, hetsy oor "rassisme", uitbuiting en ander begrippe wat die ANC-bewind met groot stelligheid en behendigheid in die massamedia hanteer.

Die eerste stap, myns insiens, is om buite die gewone te tree, om die reëls en woorde waarin ons vasgedraai is, omver te werp. In die aanloop tot die eerste vryheidsoorlog het die burgers van die ou ZAR met 'n belastingboikot begin. Daarom vind ek dit interessant dat Hermann Giliomee, die liberale historikus van Stellenbosch, onlangs dieselfde uitspraak gemaak het, dat onder soortgelyke omstandighede as dié waaronder die Afrikaner tans verkeer, ander volkere hulle geredelik tot belastingboikotte gewend het.

Soos wat ons land soos 'n trein sonder drywer op die rand van die afgrond voortsnel, sal ons, die passasiers, vinnig moet begin planne beraam en dalk sal iemand die bul by die horings moet pak en self in die bestuursitplek moet inspring. As ons kyk hoe vinnig Zimbabwe van 'n redelik ontwikkelde en welvarende land binne enkele jare tot 'n mislukte staat van die Afrikatipe verval het, dan het ons ook in Suid-Afrika nie veel meer tyd nie.

Soos Machiavelli ook te kenne gee, is dit tydens krisisse wat die beste in 'n mens en veral in leiers na vore kom. Tydens die uur van ons angs en verlatenheid vind grootse dade plaas en kan ons daarop reken dat God ons wapens sal seën. Soos keer op keer in die verlede, en veral by Bloedrivier, gebeur het. Dit is juis in die laaste oomblikke van die geskiedenis, as alles rondom ons donker word, dat wysheid oplaas na ons toe kom. Soos die filosoof Hegel gesê het: "Die uil van Minerva sprei sy vlerke as die skemer daal." Toevallig het ek onlangs uitgevind dat die vrouefiguur op die koepel bo die Ou Raadzaal in Pretoria van waar Paul Kruger regeer het, wel ‘n afbeelding van Minerva, die Romeinse godin van wysheid, is, dus was ons voorouers ewe bewus van haar!

Daarom moet ons nooit moed verloor nie, al gaan dinge hoe sleg en al lyk die toekoms soms vir ons duister. Ten slotte, soos die digter ID du Plessis dit so treffend gestel het:

Soet is die stryd

Jy sê die stryd is verlore,

Ons nasie te arm en klein,

Ons taal uit 'n drang gebore

Wat een van die dae verdwyn?

My broer, dit mag heeltemal waar wees.

Wie weet wat die toekoms gaan baar?

Miskien moet ons oormôre klaar wees.

Om weer hierdie droom te laat vaar;

Maar as ons net altyd moet strewe

Na wat tot oorwinning gaan lei,

Wat baat dan die stryd van die lewe

Waarin ons onseker moet bly?

Solank jou bedoelings maar goed is,

Gaan jy jou oor neerlae kwel?

Solank jy volhard en vol moed is -

Dis tog die probeerslag wat tel!

Nee, soet is die stryd vir die stryer,

Al moet hy uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

Is die man wat sy nasie vermoor.



* Die La Rochelle-geloftefeesterrein is ongeveer 50km anderkant Carolina op die Amsterdampad geleë. Geloftefeeste word reeds sedert 1914 daar gehou. Vroeër jare het mense reeds op die 15de Desember daar aangekom, braaivleis en Boeresport gehou alvorens die Gelofte op 16 Desember afgelê is. Die Geloftediens en -toespraak vind in 'n holkrans plaas waarin Boesmantekeninge te siene is, asook 'n granietsteen wat in die wand ingemessel is met die datum "1938" en die inskripsie: "Om in 2038 geopen te word."

Oorsprong:Praag
http://www.praag.co.za/dan-roodt-magazine-178/6776-was-dingaan-die-eerste-transformeerder.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.