Clinton V du Plessis
die kinders skype op sondae
uit kanada, koud
bewe die beelde
bons die stemme van die mure terug
die kleinkinders se monde
vorm die woorde vreemd en ongemaklik,
onafrikaans glimlag hulle,
hulle ken nie die
lekker bollemakiesie van die taal op die tong:
klouter, kleuter en kielie,
koggelmander en kwikstertjie,
oupa se hande wens om vir
die seuntjie
'n draadkar te maak
die mik van 'n kettie te laat voel
die knapie op sy knie te laat sit,
ouma leun oud in die kamera in
haar bril soek dof die sproete op die dogtertjie se neus,
later sou hulle op die internetweergawe van die sondagkoerant
al die detail lees,
hoe die drie mans, 16, 18 & 20
die ou man
vasgebind het,
hom met die gloeiende strykyster die kluis laat oopsluit,
later moes hy kyk hoe hulle die ou vrou
oopmaak en elkeen
by haar ingaan,
hy het sy siel toegeknyp
voordat hulle die sneller teen sy kop afgetrek het,
die polisie het die verminkte lyke eers laat die
maandagmiddag gekry,
een van die aanvallers
het kordaat bo-op die swart stinkhouttafel in 'n spierwit bord gekak.
hulle't van kanada ingevlieg,
die plaas in die mark gesit,
die as saam met hulle teruggeneem
en nooit ooit weer oor
grandpa of granny se
farm in that godforsaken fucked up country
gepraat nie.
Oorsprong:LitNet
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=67110&cat_id=160
No comments:
Post a comment